Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
TENSY ....

AKTUEEL: Kommentaar op die hersiene godsdiensbeleid in skole.

SKRIFOORDENKING:
Deurgrond my, O God

Die "Sleutel van die kennis" (Lukas 11:52) en die Psalmomdigting 2001

Die Heilige Skrif: Foutloos of onfeilbaar?

Een woord wat 'n reusagtige verskil maak.

Totius - 50 jaar gelede heengegaan.

Begrafnisse en lykverbranding

Reformasie bring vervolging

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die nuwe psalmboek op Hervormingsondag, feestelik in gebruik geneem

Klassis Waterberg ondersteun Gereformeerde Kerk Waterberg se "dolering"

Teologiese Skool Potchefstroom: Nuwe Rektor en Vise-rektor asook nuwe dagbestuur van kuratore

NGK - Draaipunt: Sosialisering

Cloete - omdigting berus op NAV 1983

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Pretoriase Akademie vir Christelike - Volkseie hoër onderwys.

Nuus oor PU vir CHO skokkend!

PU vir CHO laat demokrasie voor transformasie buig.

Universele gebed dalk voorskriftelik vir gebruik in skole.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die vertekening van die Calvinisme

Dr A Kuyper oor die sosiale vraagstuk en die Christelike Godsdiens.

Doleansie en Toleransie

PERSRUBRIEK: 
RJW van der Kooi (Polemies)

Argument wat saak maak

Rekenaar-, Inligting- en Kommunikasie-tegnologie: Vriend of Vyand?

Die Internet: Boekrak vir die Christen.

KOMMENTAAR: Prof C Coetzee oor Sinodebesluite

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van vitalisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 Julie 2003

Rekenaar-, Inligting- en Kommunikasie-tegnologie:

Vriend of Vyand?

Attie Juyn en Nico van der Dussen hou hulle voltyds besig met rekenaar en aanverwante bedrywigheid. Laasgenoemde verskaf nuttige inligting oor die Internet "Boekrak" vir die Christen en Attie lewer 'n insiggewende artikel in Die Kerkblad van 29 Augustus 2001 (bl 14,15). Hoewel nie alle lesers beskik oor die fasiliteite vir die gebruik van 'n rekenaar nie, is dit 'n voldonge feit dat die huidige maatskappy nie meer daarsonder kan funksioneer nie. Dis ook van betekenis vir kommunikasie in die kerklike lewe, nasionaal en internasionaal. Met die oog daarop volg hieronder altwee se bydraes wat ons graag bekendstel.

Attie Juyn skryf onder die bostaande hoof in genoemde uitgawe van Die Kerkblad as volg:

Kom ons dink vinnig terug aan 1976, toe televisie in Suid-Afrika sy verskyning gemaak het. Lang debatte is gevoer oor die goed en sleg daarvan. Wetgewing is in die parlement bespreek en deurgevoer om hierdie "dier" te probeer reguleer. Mense het emosionele uitsprake oor die voor- en nadele van hierdie nuwe kommunikasie- en vermaaklikheidsmedium gemaak.

Vandag, na byna dertig jaar van televisie, het ons 'n geslag wat reeds daarmee grootgeword het, en kan ons minstens subjektiewe gevolgtrekkings maak oor die positiewe en negatiewe gevolge wat dit in die samelewing, en ook die kerklike lewe, gehad het. Is daar 'n parallel te trek met die moderne rekenaartegnologie, en veral die Internet? Bied die Bybel aan ons norme om die goed of sleg daarvan te toets?

Hierdie vrae raak ons almal. Wie van ons kan deesdae sy lewe losmaak van rekenaarstelsels, en selfs die Internet? Ons is almal in mindere of meerdere mate doenig met hierdie tegnologie:

Party verdien hul daaglikse brood deur die bou, bemarking en bedryf van rekenaar- en inligtingstelsels, en beskik oor intieme kennis van die binnewerking daarvan.

Ander gebruik die stelsels in werksverband, byvoorbeeld in prosesbeheer, navorsing oor omtrent enige onderwerp, administrasie, ensovoorts.

Miljoene mense gebruik rekenaars wat deur Internet met mekaar verbind is om deur elektroniese pos (e-pos) met mekaar te kommunikeer.

Ander blaai rond op die Web (world wide web) op soek na inligting en/of vermaak.

Telefoonstelsels en digitale sentrales is grootliks gebaseer op rekenaartegnologie.

Selfone is eintlik niks anders as klein rekenaartjies met spesiale koppelvlakke nie, en miljoene Suid-Afrikaners gebruik dit daagliks op verskeie maniere.

Elektroniese transaksies word daagliks in groot hoeveelhede deur middel van hierdie tegnologie beklink, byvoorbeeld in die bankwese.

Ruimtetuie word met behulp van hierdie tegnologie ontwerp, gelanseer en beheer, en hoeveel sateliete met gesofistikeerde rekenaars wentel nie daagliks oor ons koppe nie?

U sal saamstem dat die penetrasie van hierdie tegnologie in die samelewing ontsagwekkend is. En hoe het die kroon van die skepping nie gepresteer in die uitvinding en vervaardiging hiervan nie! Met hoeveel wonderlike talente het God nie die navorsers byvoorbeeld Intel, Motorola, IBM, Xerox, Siemens en ander vervaardigers van hierdie tegnologie geseën nie.

Mense is selde tevrede met wat hulle het. Nuwe modelle van motors word verkoop, en so ook nuwe modelle van rekenaars en rekenaarprogramme. Dit bied geen permanente bevrediging nie. Dit slyt en word vervang. Daar word al gepraat van weggooi-kultuur. Hoeveel rekenaars wat eintlik nog heeltemal reg werk, word opsy geskuif vir 'n nuwer, vinniger en meer luukse model? Die vervangingsiklus word al hoe korter.

Die mens is ook sedert die sondeval bewus van sy eie tekortkominge. In antwoord op die opdrag om te bewerk en te bewaar het die mens reeds vroeg-vroeg werktuie begin maak om sy eie effektiwiteit te verhoog, om met minder spier- en intellektuele inspanning meer te vermag. Rekenaars en die Internet is maar net meer moderne voorbeelde van sulke werktuie, of hoe? Namate die sofistikasie en funksionaliteit van hierdie werktuie toeneem, is dit amper asof dit 'n eie persoonlikheid ontwikkel. Sommige apparate en stelsels vertoon byna 'n eie wil, afgesien van die fantastiese vermoë daarvan.

Net soos by die wetenskap, kom ons te staan voor die vraag: Is tegnologie vry van enige besondere waardestelsel? Is hierdie tegnologie werklik "neutraal"? Is dit inherent goed, of dalk boos?

Die Bybel lei ons na 'n duidelike antwoord. Daar is 'n norm waaraan hierdie vrae getoets kan word, naamlik die wet van die Here. Ons weet goed dat ons hele lewe beheers behoort te word deur liefde tot God en ons naaste. Soos met alle dinge wat ons doen, kom dit maar weer neer op ons hartsgesindheid en motiewe. In ons besin-ning oor hierdie tegnologie kan ons maar weer die ou-ou vrae vra: Waarvandaan en waarheen?

Ons moet onthou dat God die mens met die vermoë geskape het om tegnologie voort te bring. Die mate van tegnologiese vordering wat ons in die 21ste eeu kan beleef, is toonbeeld van sy ontsaglike genade. Dit help ons om ons roeping uit te voer. Dit help ons om orde in die samelewing te skep, om meer voedsel te produseer sodat mense gevoed kan word, om beter medisyne te maak sodat mense genees kan word.

God laat dit net nie toe nie - Hy het dit moontlik gemaak. Watter kardinale rol speel die binêre, oktale en heksadesimale getalstelsels in die rekenaar nie? Maar waar het die mens hierdie getalsorde vandaan gekry? Uit waarneming van die natuur wat God gemaak het. God het die raamwerk gemaak waarbinne die mens kan ontdek, saamstel, programmeer, ensovoorts.

As Christene vra ons saam met Calvyn of ons gebruik en aanwending van die tegnologie tot eer van God is. Indien dit nie die almagtige Drieënige God tot eer strek en dien nie, is dit 'n bose afgod.

Indien ons dit sonder nadenke gebruik en vermors op allerhande twyfelagtige maniere, is ons nie goeie rentmeesters van God se skepping nie. En glo my, daar is baie bose praktyke wat deur hierdie tegnologie bedryf word: massaverspreiding van pornografie, industriële spioenasie en diefstal, beplanning en uitvoering van allerhande misdaad. Die moderne tegnologie bring die mens dan ook dikwels in versoeking. Of beter gesê, Satan gebruik ook die tegnologie om ons te versoek en tot boosheid te beweeg.

Daar is 'n aantal gevaarlike tendense waarteen die gelowige moet waak, en waarteen ons onsself en ons kinders moet voorberei en staal. Ek noem net 'n paar voorbeelde:

die versnelling van die lewe, sodat die belangrike dinge nie meer tyd kry nie;

die verspreiding van onwelvoeglike materiaal;

die roekelose vermorsing van skaars hulpbronne;

die versteuring van Bybelse gesagslyne, byvoorbeeld in die huisgesin;

die relativering van Bybelse norme en waardes;

die ontmensliking van die samelewing, en ontvlugting uit die werklike na die virtuele lewe;

die versoeking en praktyk van onwettige kopiëring van programmatuur; virusse, wurms en ander destruktiewe praktyke; en

die verdringing van gesonde lewenspraktyke.

Aan die ander kant moet ons ook erkenning gee aan die geleenthede wat die tegnologie ons bied om ons roe-ping op aarde ten uitvoering te bring tot die eer van God. Hoe kan dit ons help om groter liefde aan God en ons naaste te bewys? Hoe kan dit ons help om die evangelie aan alle mense te verkondig? Rekenaar-, inligtings- en kommunikasietegnologie behoort ons tot diens te kan wees om onder andere:

God se lof lof te verkondig in sy ganse skepping;

Die Woord van die Here te verkondig aan alle mense;

orde in die samelewing te skep;

mekaar ingelig te hou oor wat gebeur, sodat ons weerbare soldate vir Christus kan wees in die bestryding van alle boosheid op aarde;

ons kinders beter op te voed sodat hulle leiding kan neem in die samelewing;

vermorsing van hulpbronne en besoedeling van die natuur te bekamp;

beter navorsing te doen sodat samelewingsbehoef-tes en -probleme meer doeltreffend hanteer kan word;

bedrog en diefstal op te spoor en uit te wis;

mekaar te ondersteun in tyd van nood en beproewing; en

die wonders van God se skepping te ontdek en te geniet.

U en my roeping bly steeds dieselfde: om met verantwoordelikheid om te gaan met die omgewing waarin God ons gestel het, en dit te gebruik tot sy eer. Christene kan en moet op tegnologiese gebied steeds die toon aangee te midde van 'n verdorwe en goddelose samelewing. Daar moet ook vir hierdie nuwe wêreld, en die nuwe era waarin ons leef, duidelike etiese norme geformuleer word wat ooreenstem met Bybelse beginsels.