Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
Stigting van 'n Forum:Beplanning van 'n Simposium
oor die onfeilbaarheid en die gesag van God se Woord
teenoor Skrifkritiek
| Ek glo aan die volharding van die heiliges. Ek glo aan (die werking van God) in die geskiedenis. Ek glo aan die wedergeboorte, die bekering, die heilsorde en die realisering daarvan. Daarin sien ek die vooronderstellings van Dordt. Wie dit nie aanvaar nie staan verder van Dordt af as die mees versekerde liberaal ... . Maar wie hierdie dinge wel aanvaar, met hulle wil ons saam woon. Saam met hulle sal ons weer draers van die geloof van die kerk wees, goeie vaderlanders, kinders van die Reformasie, opgeneem in die ekumeniese Christendom. Prof dr K Schilder, Kampen 1934 (Vry vertaal in Afrikaans) |
Op aandrang van verskeie Skrifgelowiges uit die verskillende kerkverbande en na onderlinge raadpleging, is op inisiatief van die redaksie van DIE KERKPAD, 'n vergadering belê met enkele behoudende teoloë uit (alfabeties afgekort) die verbande van die APK, GKSA, NGK, NHK en die VGKSA. Daaruit het bogenoemde forum tot stand gekom met die bedoeling om DV, later vanjaar, 'n simposium oor die bogenoemde saak te hou en dit te verbind aan die jaarlikse herdenking van Hervormingsdag op 31 Oktober. 'n Reëlingskomitee is aangewys om die Simposium voor te berei en te realiseer. Die voorlopige beplanning is om dit in die Dirk Van der Hoffsaal in Pretoria aan te bied. Die komitee bestaan uit: P van der Kooi (voorsitter), NG Sarkady, di HLJ Momberg, BC Smit en JR Visser. Verskeie bekwame persone is bereid om deel te neem en 'n gespesialiseerde referaat te lewer, naamlik die professore: RM Britz (TS UOVS), R Marè (TS APK), AD Pont (em TS NH Kerk). Ds H Hefer (NG Kerk Brakpan-Suid) en ds JR Visser (VGKSA). Die persone wat van die Gereformeerde Kerke gevra is, het nog nie 'n finale toesegging gemaak nie, maar van dié kant sal ook wél bydraes gelewer word. Dit word oorweeg om dié geleentheid op Vrydag 29 en Saterdag 30 Oktober te hou. Daar sal 'n verskeidenheid voordragte gelewer word met ruim geleentheid vir bespreking en aan die einde daarvan vir die stel van mosies. Dié Vrydagaand sal op 'n paslike wyse die Kerkhervorming herdenk word. Dit is beslis nie die bedoeling dat dit 'n byeenkoms van slegs teoloë sal wees nie maar juis dat dit op so 'n vlak aangebied gaan word dat die belangstellende en meelewende lidmate van die kerke, in die amp van die gelowiges, sinvol hieraan kan deelneem om daardeur verryk en in die geloof versterk te kan word. Ook sal die referate in 'n bundel gepubliseer word en dalk op radiokassetband (agterna) beskikbaar wees. Die Pos- en E-Pos adresse van die forumlede is: Ds HLJ Momberg, Walterlaan 1249, Waverley 0186, tel (012) 332 1231. E-Posadres: henniem@mweb.co.za Ander kontakpersone vir voorlopige registrasie vir die bywoning van hierdie simposium die volgende: ds H Hefer, tel/faks (011) 742 2371; prof R Marè, tel/faks (012) 458 1477: prof AD Pont, tel (012) 361 2608; ds JR Visser, tel (012) 33222948, E-Pos: jrv@smartnet.co.za Volgens voorlopige beraming is die koste vir registrasie vasgestel op R 60-00 per persoon. Namens Die Forum : Die Bybel is God se onfeilbare Woord. H Hefer (VDM), NG Kerk Brakpan-Suid. 8 Junie 1999.