Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Die Verkiesingsuitslag...Wat nou?

AKTUEEL: "Geloofsverklaring 2000"

SKRIFOORDENKING: "Vir elke goeie werk volkome toegerus" - 2 Tim 3: 16,17

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (4)

Forum: "Die Bybel is se onfeilbare Woord"

Afgodery net die Woord?

Die Psalmberymings- aangeleentheid

Hervormdes bekyk ook Kindernagmaal

Dr PW Bingle se standpunt oor die aanvaarding van geld uit 'n staatslotery

Wat is en bely die Evangelies Gereformeerde Kerk?

BOEKBESPREKING:  Kerkorde in Praktyk -Outeur Dr J Visser

Teen-Skriftuurlike MultiReligieuse Gebedsdiens

Prof Dr Klaas Schilder se kultuurbeskouing

Dr Abraham Kuyper se pluriformiteitsleer

Die Boere-Afrikaner se weg vorentoe

KERKLIKE JOERNAAL: 
Flagrante Skrifkritiek
Protes teen twyfel en Skrifkritiek
Oud-Predikant in stryd met die Waarheid van  Bybel

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Religieuse onderrig in Kurrikulum 2005
Die Antitese in Amerikaanse Onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Vryheid, Gelykheid, Broederskap

PERSRUBRIEK: 
Dieper Wortels

Kerk in Krisis

KOMMENTAAR: 
"Die Etiek van Polimiek"
Die saak van "menseregte" in kerkregtelike perspektief
Nogmaals Prof Amie van Wyk

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (7)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Simposium oor Kremasie

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 4  Julie  1999

 

DR ABRAHAM KUYPER SE PLURIFORMITEITSLEER

Dr Abraham Kuyper is van groot betekenis vir die ontwikkeling van die teologiese en Calvinisties wetenskaplike denke in die Gereformeerde Kerke in Nederland, maar ook ver buite die territoriale en geestelike begrensing daarvan. Sy gedagtes, gehuldig asook betwis, behou 'n gesag tot vandag toe. Dit is waarom dr AP Treurnicht in 1956 'n akademiese proefskrif aangebied het oor "Die Verhouding van die Kerk tot die Staat by dr Abraham Kuyper (1837 - 1920)". Hierdie werk is nie gepubliseer nie. Met die toestemming van mev E Treurnicht, verwerk ek 'n enkele gedeelte daaruit met betrekking tot die bogenoemde saak.

Dit is van belang om te sien hoe Kuyper die fundering van die meervoudigheidsbeginsel in verband met kerklike pluriformiteit bring. Hier vermy hy die historiese gesigspunt as sou dit van algeheel deurslaggewende betekenis wees.

Ons kan in Kuyper se pluriformiteitsleer van 'n Skeppingsmotief spreek. God het as Skepper die mensewêreld in veelvormigheid geskape, 'n veelvormigheid wat nie deur die herskepping opgehef word nie, maar in suiwerheid herstel word. Hy sê:

"The cedars and palms of the spiritual Libanon, the roses and myrthes of spiritual Saron, cannot be changed into uniform plants."

Daar is sielkundige en volkekundige verskille wat deurwerk en wat tot afgrensinge in die geestelike en natuurlike lewe lei. Voeg hierby dat mense tot in die fynste uitinge van die geloof één van sin en gevoele moet wees, en dit is noodwendig dat verskillende volkere in onderskeie kerke moet uiteengaan. Ook sielkundige faktore kom hierby in berekening, soos aanleg, as 'n noodsaaklike disposisie van die menslike bewussyn. Omdat daar kontinuïteit en verwantskap in die aanleg is, ontstaan 'n geestesrigting; en verskillende geestesrigtinge is weer noodwendig, omdat die godsdienstige lewe te omvattend is om deur een mens in sy volle omvang gesien te word.

Aansluitend hierby noem Kuyper Gods wet van ontwikkeling: die wet van die pluriformiteit. Die splitsing is 'n noodsaaklike werking van die deur God gestelde lewensordinansie.

Hieruit is dit vir ons duidelik dat Kuyper die noodwendige bestaan van verskillende kerke na die skeppingsorde wil herlei, waarvolgens elke ding sy aard of wese kragtens goddelike wet ontvang het. Kerklike identiteit kan dus gedeeltelik na die skeppende wil van God herlei word en daarin dus sy outonomie en reg gefundeer vind.

In hierdie siening van Kuyper lê 'n direkte verwerping van die rewolusionêre deurbreking van korporasies en die atomisering van bepaalde kerkverbande deur sy onderwysbeleid; 'n bestryding van die staatsoorheersing dus.

Vervolgens wys ons op Kuyper se motivering uit historiese gesigspunt. Die eiesoortige karakter van volke, waarmee 'n eie geskiedenis saamhang, moes noodwendig verskillende kerkvorme laat ontstaan, al sou die gebrokenheid van die sonde buite rekening gelaat word. Hy skryf:

"Wie aan die bewoners van Azië en Afrika een Kerk opdringt in den preciesen vorm, waarin de Kerk zich in Europa onder historisch geworden toestanden ontwikkelt, miskent het onderscheid in aard en karakter, dat naar Gods bestel onder de natiën en volken bestaat."

Buite die sondige verskeurdheid om, sou hierdie verskille egter van sekondêre aard gewees het, en sou 'n verband vir 'n wêreldkerk, wat in wêreldkonsilies vergader, behou moes word, ondanks onderskeie kerklike institute wat vrylik volgens eie tipe moes en sou ontwikkel. Dit sou die gesonde pluriformiteit gewees het.

In die praktyk het die kerk egter in 'n aantal landskerke uiteengeval. Kuyper betreur die sondige verskeurdheid van die protestantisme waarin die ekumeniese besef uitgeslyt het. Aan die ander kant verwerp hy die geforseerde eenheid van die Rooms-Katolieke beskouing met sy eenheid ook van lewensvorm, en wel dié vorm van die Suid-Europese volksgroep as stempel vir die hele kerk. Nog meer differensiasie moet deurgevoer word om alle onnatuurlike belemmering van verdere splitsinge, volgens skeppingsgegewe verskeidenheid van aard, te verbreek. Maar tegelykertyd moet die ekumeniese besef gevoed en die konfederatiewe verband van kerke gesoek word.

Ook langs hierdie weg wil Kuyper aantoon dat die veelvormigheid waarin die Christelike kerk in die geskiedenis ontplooi het, aan die godgegewe natuur van dinge sou korrespondeer, mits die ekumeniese inslag by wyse van wêreldkonsilies openbaar kon word. Ook die wese van belydenis, erediens en regering sou één moes bly, met ruimte vir eie openbaringsvorms in elke land en onder elke volk, volgens die ontwikkeling van die eie aard van die volk.

Dit is duidelik dat Kuyper nie noodwendig die historiese gewordenheid as normatief beskou in sy pluriformiteitsleer nie. Maar tog het hy die meervoudigheid van kerke as feit aanvaar en daaronder verstaan die naas mekaar bestaan van meerdere min of meer suiwere kerkformasies. ...  Kuyper baseer sy argument op die eeue-lange paralelle bestaan van die Roomse en Griekse kerke, sowel as op die verskillende kerklike institute in die tyd van die Hervorming, wat selfs daartoe gekom het om mekaar se Doop te erken, mekaar tot die Nagmaal toe te laat en so die veelheid van die kerke, elk op eie belydenisgrond, te aanvaar as die nuwe bestaanswyse van die kerklike lewe. Kuyper beroep hom ook op Calvyn wat die kerke van Lutherse formasie aanvaar het, en wat daarmee kerklike pluriformiteit aanvaar het.

... Op grond van ons menslike beperktheid moet daar dus verskille ontstaan, al sou by normale ontwikkeling die ekumeniese besef bewaar bly. Die teenstrydighede in belydenis kom egter deur eensydige toespitsing op die verskille, en vloei voort uit die sonde in denke en handel, en nie uit die natuurlike verskille as sodanig nie.

Hiermee hang saam Kuyper se groot klem op die vrywilligheidsbeginsel in die toetrede tot die kerk, sowel as op die gemeenskaplike belydenis. Aan laasgenoemde moet die gewete gebind kan word. Dit is 'n verenigingstatuut en 'n verdelingsprinsiep, waarsonder die kerk 'n gedwonge samekoppeling van ongelyksoortiges word. ...Dit is fataal vir die eenheid in Christus. ®