Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYWARE BETEKENIS VAN DIE CALVINISME
P VAN DER KOOI
CALVINISME IS SINONIEM AAN GEREFORMEERD-WEES VIR DIE WETENSKAP EN DIE PRAKTYK VAN DIE LEWE |
Die Skoolstryd
Groen van Prinsterer was aanvanklik nie 'n yweraar vir die "besondere onderwys" (privaatskole) in Nederland nie. Maar in die vordering van sy denke, wat godsdienstig sterk bevorder is deur sy vrou, het hy gaandeweg oortuig geraak dat die staatskool as organisasie vir die verstandelike opvoeding van die kind, dienstig was aan 'n politieke ideologie. Dit het die medeseggenskap van die ouers in die opvoeding van die kind negeer. Dit het die belydenis van die kerk, waartoe die kind met sy ouers behoort en wat in die persoon van laasgenoemde geraak word deur die beleid aangaande godsdiensonderrig op skool misken met die strewe na samesmelting van die geloofsverskeidenhede, en deurdat leerstellige godsdiensonderrig in die skool verbied word. 'n Neutrale, kleurlose godsdiens moes aangebied word, wat geen aanstoot aan Jood, Protestant of Rooms-Katoliek kon gee nie.
Die groot struikelblok was die subsidiëring van die besondere onderwys Die destydse regering, onder die bewind van Thorbecke, het ten slotte die wetgewing oor die onderwys hersien en vryheid toegestaan vir die oprigting van Christelike privaatskole as dit op eie koste daargestel word, sonder om van gelyke bydrae tot onderhouding van die openbare onderwys kwytgeskeld te word. Die ouers wat dit as 'n gewetensplig beskou het om hulle kinders privaat te laat onderrig, is dus dubbel belas met die bekostiging van hulle privaatskole, asook hul aandeel in die finansiering van die staatsonderwys.
Net soos dit ook in ons land die geval was met die wetgewing van De Mist, in die tyd van die Bataafsche Republiek, was die doelstelling van die staat om die skole toeganklik te maak vir alle gesindhede en diensbaar aan die bevordering van die "neutrale" godsdiens en sedeleer en om algemene deug en Christelikheid te bevorder. Onderwysers was verplig om 'n afsydige houding in te neeem teenoor die godsdienstige begrippe van die besondere gesindhede.
"Ouders, die met of zonder genoegzame grond in gemoede overtuigd zijn dat de strekking van het onderwijs op de bestaande scholen onchristelijk is, moeten niet regtstreeks of zijdelings, worden verhinderd aan hunne kinderen zodanig onderwijs te geven als zij meenen te kunnen verantwoorden voor God. Die dwang, ik zeg het ronduit, is ondragelijk en behoort een einde te hebben", aldus Groen in 1840, in die Tweede Kamer van die Nederlandse Parlement. Die stryd om die Christelike skool en die vryheid van Onderwys het die hoogste inset van sy politieke loopbaan geword. Pas nadat dr Abraham Kuyper tot die politiek toegetree het en die leier van die nuutgestigte Anti Revolutionaire Partij geword het, kon die stryd vir gelyke beregtiging van die besondere onderwys realiseer in wetgewing.
"Vryheid"
Wat is vryheid? vra Groen in sy bekende brosjure "Vrijheid, Gelijkheid en Broederschap". Daarin bespreek hy die grondslae van die Franse Revolusie, wat dit as 'n slagspreuk gevoer het. Die bestaande strukture en regeringstelsels is toe vervang met die nuwe wat op individuele kiesreg berus. Van die ou bewindvoerders is vermoor of op ander wyse vervang met diè wat vir die Jakobyne aanvaarbaar en gedienstig was
Die Jakobyne was die vernaamste politieke drukgroep in die tyd van die Franse Revolusie van 1789. Hulle was baie radikaal en het uiteindelik die beheer oor die Nasionale Konvensie gekry. Hulle tirannie het 'n terreur geword. Duisende mense is om die lewe gebring. Die Christendom is afgeskaf en die vermoë van die Rede verheerlik. In 1794 het hulle tot 'n val gekom, maar hulle revolusionêre gees het nagewerk tot in die negentiende eeu. Wes-Europa het nooit daarvan herstel nie. Onder dié omstandighede vra Groen: Wat beteken nou die vryheid wat ons gekry het?
Die "getemperde monargie" van voorheen is, wat Nederland aangaan, vervang met 'n revolusionêre oppermag, wat allengs tot in die persoonlike wil van één enkele mens saamgetrek is. Die ware aard van die gesag, uitgeoefen deur Koning Willem I, waarmee Groen te doen gehad het, was allesomvattend, in eintlike sin despoties. Dit was 'n vorm van selfregering, alleenheerskappy in die mees letterlike betekenis van die woord; 'n revolusionêre outokrasie waardeur alle wesenlike volksontwikkeling gestrem kon word; 'n gesag wat die kring van sy bemoeienisse oor alles uitgebrei het: provinsies, kerk, onderwys en wat nie al nie administreer, groot en klein sake bestuur en reël en oor belange, vryhede en regte - ek mag byna sê - na goedvinde beskik, aldus Groen.
Daarom was die stryd vir die vryheid van onderwys 'n stryd teen die toepassing van die revolusieleer. Hier is opnuut die juistheid van sy beskouing deur die praktyk bewys. Want ook die Liberales was oplaas ten gunste van die vryheid van onderwys. Dit het veral deur die toedoen van Thorbecke grondwetlike reg geword by die hersiening in 1848. Maar dit is bekend wat daarvan onder die liberale heerskappy tot stand gekom het. Mede deur Thorbecke se magtige invloed het "die vryheid van onderwys die lot gehad van elke vryheid, wat die liberalisme denkbeeldig maak en in die praktyk wegsyfer", nadat dit met 'n groot lawaai as een van die gewigtigste volksregte in die grondwet ingebring is.
Sodoende was Groen se kritiek nie in die eerste plek gerig teen die staatskool as sodanig nie, maar teen die van staatsweë uitgeoefende revolusionêre gewetensdwang.