Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
KERKLIKE JOERNAAL FLAGRANTE SKRIFKRITIEK OP MY VOORSTOEPElke dag word die koerant afgelewer op die voorstoep van my huis. Elke dag se inligting oor die sake van die dag. So ook die nuus op Vrydag 28 Mei, met die vermelding van prof Sakkie Spangenberg se flagrante betwy-feling van die waarheid en gesag van God se Woord. "Bybel is nie geskryf vir twintigste eeu", sou hy gese het. |
Spangenberg het by die Universiteit van Pretoria (UP) se fakulteit teologie 'n bespreking van sy boek Perspektiewe op die Bybel gelei en gesê die Bybel is nie 'n boek wat maklik verstaanbaar is nie. In sy boek bekyk hy die verskillende maniere waarop die Bybel deur die eeue verstaan is en wat dit vandag vir Christene beteken.
Volgens hom vind baie mense dit skokkend as hy sê die Bybel is "nie vir ons geskryf nie" maar elke Bybelboek is vir 'n baie spesifieke groep mense geskryf. Paulus het Romeine byvoorbeeld aan die Christene in Rome geskryf. Openbaring is geskryf vir Christene wat teen die einde van die eerste eeu ná Christus gelewe het. Dit is daardie mense wat bepaal watter boodskap oorgedra word.
"Dat ons die Bybel vandag het, is 'n groot stuk genade." Hy het die Bybel as die basisdokument van die Christendom bestempel, maar ook daarop gewys dat die Bybel wat Protestante het, verskil van die Bybel soos die Rooms-Katolieke Kerk dit lees en dat die Ethiopiese kerk nog 'n ander weergawe het.
Volgens Spangenberg sê baie mense: "Die Bybel sê, die Bybel sê", maar dit is 'n baie vereenvoudigde hantering van die Bybel. As 'n mens vandag in die Bybel lees, moet jy byvoorbeeld besef dat die skrywer se siening van God nie noodwendig dieselfde was as wat joune is nie. Abraham het byvoorbeeld anders gedink oor God as Dawid, Dawid anders as Jesaja en Jesaja weer anders as Matteus.
Prof Jurie le Roux van die departement Ou Testament aan die UP het gesê in die negentiende eeu het teoloë baie geleer oor die lange ontstaansgeskiedenis van die Bybel, oor die outeurs en dat Moses byvoorbeeld nie die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf het nie. Op 'n manier het dit egter by die kerk in Suid-Afrika verbygegaan.
Volgens Spangenberg verwag baie mense dat hulle kinders die beste opvoeding moet kry, maar dat hulle wat godsdiens en die Bybel betref met sestiende eeuse sienings opgevoed moet word.
Hy het saamgestem dat die hele debat oor die Bybel 'n baie Afrikaanse debat is en dat mense in Engelse kerke baie minder daaroor worstel. Tydens die bespreking is daar ook gesê dat mense in God moet glo en nie in die eerste plek aan die Bybel nie. Dit beteken nie dat die Bybel weggegooi moet word nie, maar dat die fokus na God toe moet skuif.
Spangenberg het gesê veiligheid lê nie in die Bybel nie, maar in God.
Neels Jackson. In: BEELD, 28 Mei 1999