Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
KINDERKOMMUNIE:DS T DANZFUSS - (NGK) WITFIELD
Vierde Aflewering
(Derde Aflewering)
(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)
E
en van die "sterkste argumente" wat vandag gebruik word om die kinderkommunie te regverdig is die verhouding tussen die pasga en die nagmaal. Daar word dan 'n direkte parallel getrek tussen besnydenis - doop, en pasga - nagmaal asof dit in presies dieselfde verhouding tot mekaar sou staan. Dan word daar geredeneer dat kinders reeds van kleins af aan die pasga deelgeneem het en dat hulle daarom ook van kleins af die nagmaal kan gebruik. Hoe geldig is hierdie argument? Daar is verskeie redes waarom dit ongeldig is. In 'n volgende aflewering sal ons aantoon dat dit in elk geval onhoudbaar is om vanuit die pasga tot die kindernagmaal te konkludeer. Hierdie uitgawe se ruimte word gebruik om daarop te wys dat die verhouding tussen pasga en nagmaal nie so 'n eenvoudige reglynige verhouding is soos wat die voorstanders van kindernagmaal wil voorgee nie. Ons kyk nou na 'n kort vergelyking tussen die pasga en die nagmaal.Ooreenkomste tussen die Pasga en die Nagmaal:
Albei is tekens van God se Verbond. Dit gaan om twee historiese fases van dieselfde genadeverbond.
Albei tekens is deur God self ingestel en albei is ook as opdrag aan die Kerk gegee om dit gereeld te vier.
Albei wys na Jesus se plaasvervangende kruisdood. Die pasga wys vorentoe en die nagmaal terug,
Albei is voedingstekens, 'n heilige maaltyd.
Anders as eenmalige tekens soos die besnydenis en die doop, is dit tekens wat herhaaldelik gebruik moes word.
Albei hou verband met een of ander soort offer.
Albei feeste het 'n sterk aksent op die "gedagtenis" aan die wonderlike verlossing wat God bewerk het
Verskille tussen die Pasga en die nagmaal:
Nasionale teenoor kerklike aksent. Die pasga het ook 'n sterk nasionale- en volksaksent gedra, wat by die nagmaal heeltemal afwesig is.
Die primêre vereistes verskil. Die primêre vereiste vir die gebruik van die pasga was dat jy 'n lid van 'n bepaalde volk (Israel) moes wees. "Dit is die voorskrifte in verband met die paasfees: ... geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; ... geen bywoner of huurling mag daar-van eet nie" (Eks 12 : 43 - 45). Toegang tot die pasga was dus primêr deur geboorte. Die groot vereiste vir toegang tot die nagmaal is radikaal anders, naamlik die wedergeboorte (NGB, art 35).
'n Maaltyd met sakramentele betekenis teenoor 'n sakrament wat deur Christus ingestel is. Die pasga kan nie sonder meer 'n sakrament genoem word nie Dit het hoogstens sakramentele betekenis gehad. Die sentrale tema in die pasga was nie versoening van sonde nie. Israel het baie ander feeste en offers gehad waar die versoening meer sentraal gestaan het. Dirk Viljoen stel dit so: "As die pasga 'n sakrament is, is ander sake soos die manna en die water uit die rots, ook sakramente (vgl 1 Kor 10). Die analogie van die twee sakramente gaan dus nie heeltemal op nie." 1
Gesinsfees teenoor Gemeentefees. Die pasga was baie duidelik ingestel as 'n gesinsfees. Die hele viering van die pasga sentreer rondom die huisgesin. Dit was nie maar net 'n praktiese reëling nie, maar 'n beginselsaak dat die pasga in klein groepies gevier moes word. As twee gesinne van dieselfde vertrek gebruik maak, dan moes hulle nog van mekaar geskei word "byvoorbeeld door met de ruggen naar elkaar te zitten." 2 Hierteenoor speel die gesin geen rol by die instelling van die nagmaal nie. Daar is geen enkele gesin as gesin verteenwoordig nie, daar was ook geen vrouens en kinders teenwoordig nie. Die hele nagmaalsliturgie gaan uit van die veronderstelling dat daar slegs gelowiges teenwoordig is wat oud genoeg is om hulle geloof openlik te kan bely.
Slegs enkele aanknopingspunte. Die nagmaal sluit wel by die pasga aan, maar die grootste deel van die pasgaliturgie en gebruike funksioneer glad nie by die nagmaal nie, soos byvoorbeeld die ander drie bekers wat omgestuur is, die bitter kruie, die staan en eet, die jaarlikse fees, ensovoorts. As ons die moontlike teenwoordigheid van kinders op die nagmaal wil oordra, waarom vier ons dan nie net een maal per jaar nagmaal soos die pasga nie? Waarom gebruik ons dan nie ook die ander drie wynbekers wat tydens pasga omgestuur was nie? Waarom eet ons nie bitter kruie nie? Waarom vier ons die nagmaal nie staande nie? Waarom sing ons nie die hallel nie? Natuurlik omdat die nagmaal nie maar net 'n Nuwe Tes-tamentiese pasga is nie. Dit is 'n splinternuwe fees met sy eie unieke reëls en betekenis wat slegs raakpunte met die Ou Testamentiese bedeling se pasga het.
Nagmaal gryp nie net terug na die pasga nie, maar ook na verskeie ander OT-offermaaltye. Verskeie teoloë wys byvoorbeeld op die verband tussen die nagmaal en die verbondsmaaltyd van Eksodus 24 (vgl vers 8 en 11). Indien hierdie verbondsmaaltyd van Eks 24 byvoorbeeld ook 'n belangrike agtergrond vorm vir die verstaan van die nagmaal, waarom dan die deelnemers van die pasga (die kinders in Eks 12) normatief maak vir die nagmaal, en nie die deelnemers van die maaltyd in Eks 24 (slegs die leiers) nie?
Die karakter van die pasga en nagmaal verskil. Die nagmaal is baie duidelik 'n versoeningsmaal ... tot vergewing van sondes." Die nagmaalsformulier bevestig die sentraliteit van die versoening. Hierteenoor was die pasga nooit regtig 'n versoeningsfees nie. Den Heyer verklaar met nadruk: "... in de oudtestamentisch-joodse traditie was het Pascha-feest geen verzoeningsfeest. Het bloed van het Pascha-lam bracht geen verzoening tot stand. ... maar het had in de allerlaatste plaats een werking die gewoonlijk als 'apotrepeisch' omschreven word: het bloed van het Pascha-lam beschermde de Israelieten tegen dood en verderf ... Dogmatische vooronderstellingen hebben er tot geleid dat het in de christelijke theologie tot op de dag van vandaag allerminst ongebruikelijk is het Pascha te verbinden met begrippen als 'schuld', 'verzoening' en 'vergeving' ... ." 3 Vir 'n meer uitvoerige bespreking van hierdie belangrike punt verwys ek graag na my verhandeling 4.
KONKLUSIE: Die verhouding tussen die pasga en die nagmaal is nie simplisties reglynig nie, maar baie gekompliseerd. Om kindernagmaal vanuit die Joodse pasgagebruike te probeer verdedig is teologies en eksegeties onhoudbaar.
1. Viljoen DJ: 1995. DIE DOOPLIDMAATBEDIENING VAN DIE NG KERK - 1962 - 1990. Pretoria: PU (bl 508). 2. Fensham FC. 1970. EXODUS. De prediking van het Oude Testament. Nijkerk: Callenbach (bl 49). 3. Den Heijer CJ. 1990. DE MAALTIJD VAN DE HEER: Exegetische en bijbeltheologische studie over Pascha en avondmaal. Kampen: Kok (bl 57). 4. Danzfuss T. 1998. KINDERKOMMUNIE: Reformasie of Deformasie? Pretoria: UP (bl 205 - 210). |