Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
KOMMENTAAR NOGMAALS PROF AMIE VAN WYK Dit is 'n ongelukkige saak om haas in elke uitgawe van ons blad te moet polemiseer met prof JH (Amie) van Wyk, verbonde aan die Telogiese Skool van die Gereformeerde Kerke. Van sy kant word ons kwalik geneem dat ons sy briewe nie in ons blad wil publiseer nie. Dit wat deur hom aangevoer word betref sy siening van sake oor die breë samelewing en die regering van ons land, waaroor ons prinsipieel en prakties verskil. Volgens ons redaksie se oortuiging is sekere kritiek uitgewys teen standpunte wat hy gepubliseer het en persoonlike optrede van hom, wat hy volgens sy siening van sake wil regverdig. Ons het soveel as moontlik op sy argumente ingegaan en daarop geantwoord. Die onderliggende saak moet hy asseblief in ander organe, wat tot sy beskikking is, publiseer. DIE KERKPAD is nie bereid om die beskouing wat hy voorstaan en prakties bevorder, te propageer nie.Alvorens aandag te verleen aan prof Van Wyk se skrywe gedateer 14 Mei 1999, die volgende regstelling aangaande 'n foutiewe datering van wat in die vorige uitgawe van ons blad gepolemiseer is. Ons het dit vermeld as 24 Februarie 1999. Ons vra verskoning. Die werklike datering was 29 Maart, in antwoord op ons skrywe aan hom van 24 Februarie.
In antwoord op ons polemiek in die vorige uitgawe van Mei (bl 19), skryf prof Van Wyk: "U besef natuurlik baie goed op watter ongelyke speelveld die huidige kerklike debat tans plaasvind: ek skryf briewe (hierdie is die tiende) wat bedoel is om geplaas te word, u weier publikasie, maar gaan dan ondertussen rustig voort om in die openbaar kritiek teen my uit te spreek. ... Moet ek uit u weiering om my briewe te plaas die afleiding maak dat u bevrees is vir 'n gebalanseerde debat en dat u bang is vir die waarheid?"
Ons antwoord hierop as volg: Die speelveld is nie so ongelyk as wat dit voorgestel word nie. Daar is genoeg ander publikasies wat tot die beskikking van prof Van Wyk staan om sy standpunte uiteen te sit en dit sluit ook aan by 'n gedagterigting (wat in ons blad betwis word) wat op talle wyses in die sekulêre pers, politieke en kerklike tydskrifte, daarby ook in baie boeke gelees kan word. Die grondliggende verskil handel oor die verwerping van die voormalige (politieke) beleid van afsonderlike ontwikkeling en die aanvaarding van die SAKP/ANC se "waarheid en versoening", wat die omverwerping van die vorige regeringstelsel behels, waarmee ons redaksie nie saamstem nie. Dáároor is ons nie bevrees vir 'n "gebalanseerde debat" en nie "bang" vir prof Van Wyk se "waarheid" nie. Dit is egter nie moontlik om dit in die beperkte ruimte van uitgawes van DIE KERKPAD oor en oor uitvoerig te behandel nie.
"Uit hierdie standpunt van u kan geen ander konklusie getrek word nie as dat u my as 'andersdenkend' beskou wat 'onsuiwere standpunte' daarop nahou", sê prof Van Wyk in 'n volgende paragraaf. "Die vraag is: andersdenkend en onsuiwer ten opsigte van wat? Ten opsigte van teologiese sake of ten opsigte van politieke aangeleenthede?" Daarop ons antwoord, dat dié aspekte wel onderskei maar nie geskei kan word nie. Te meer weens die Skrifgegewens wat prof Van Wyk eksegetiseer om die saak van die deur ons redaksie betwiste "waarheid en versoening" te regverdig. Die tipering "andersdenkend" en dié van "onsuiwere standpunte" dien om die kontrasterende benaderings tussen prof Amie van Wyk en ons s'n daarmee aan te dui. Dit hang dus af van die prinsipiële vertrekpunt waaruit 'n saak beskou en betwis word.
Prof Van Wyk vervolg sy repliek: "U hou vol dat die Skrifgegewens (in die Skuldbelydenis) gebruik is 'om 'n onregverdige (rewolusionêre) saak te regverdig'. ... dit is immers 'n blote konstatering en nog geen beredenering van die vraag hoe die Skrif in die Skuldbelydenis gebruik is nie. Ek nooi u weer eens vriendelik uit om al die Skrifgegewens in die Skuldbelydenis een vir een te kontroleer en te eksegetiseer en dan duidelik aan te toon waar en hoe die Skrif hier foutief aangewend is." Alweer 'n poging om tot 'n debat aan te dring waarin ons nie belangstel nie. Soos dit in die artikelreeks: "Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof en lewensbeskouing", die brosjure van SERKOS (Herfs 1989), wat in die laaste ses uitgawes van ons blad gepubliseer is, beskou ons die feit van die oordrag van regeringsgesag aan die ANC en dus ook die saak van die voortspruitende "waarheid en versoening" as 'n onregverdige (revolusionêre) saak waaroor ons redaksie prinsipieel en uitdruklik verskil. Alle bybelse teksverwysing wat, deur wie ook al (dit raak ook prof Amie van Wyk), aangevoer word, kan dit nie (vir ons) regverdig nie. Prof Van Wyk moet asseblief die standpunt in ag neem dat ons onsself nie daarmee kán versoen nie.
In dié verband verwys hy na 'n "beswaarskrif van Klassis Waterberg" wat voor die Kuratorium TSP oor die Skuldbelydenis gedien het en dat "die besware nie gehandhaaf is nie". Kan hieruit afgelei word dat die Kuratorium van die teologiese skool prof Van Wyk se beskouing oor die politieke "waarheid en versoening" deel, of is dit vanweë kerkregtelike oorwegings nie gehandhaaf nie? Volgens gesaghebbende bron in die gemeente Waterberg is dié saak tans sub judice, omdat nog oorweeg word om daarop te antwoord.
"In u artikel ... beskuldig u my onder andere van horisontalisme ... Ek nooi u vriendelik uit om uit enige van my geskrifte een paragraaf, ja selfs een enkele sin aan te haal waarin ek pleit vir horisontale versoening sonder inagneming van die vrede wat van bo-af neerdaal", is die volgende klag wat prof Van Wyk stel. Ons help hom graag reg. Dit beteken nie, soos hy dit hier stel, dat dit slaan op sy skrywe nie. Dit verwys na die saak van die "waarheid en versoening" soos dit in die samelewing dien, onder andere deur die WVK wat prof Van Wyk simpatiek ondersteun. Dié waarheid en versoening is polities gemotiveerd om die revolusionêre, terroristiese "bevrydingstryd" van die ANC te regverdig en staan in 'n horisontalistiese konteks. Dit is wat bedoel is toe ons vir prof Van Wyk gevra het dat hy "asseblief moet ophou om ons te probeer oorhaal na sy vooronderstelde propagering van die horisontale 'versoening' in ons land, sonder inagneming van die vrede wat van bo-af neerdaal en in ons land gestalte moet kry." Ons vra nou weer om asseblief die korrespondensie oor hierdie saak te staak. Ons sal mekaar nie hierin kán vind nie. ®