Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
OPVOEDING EN ONDERWYS RELIGIEUSE ONDERRIG IN KURRIKULUM 2005Verslag oor die Religieuse Onderrigseminaar te UNISA
(Roeping en Riglyne (VCHO) - April 1999, bl 3,4 - Dr Irmhild Horn Op Saterdag, 20 Februarie 1999, het ek en drie ander VCHO-lede 'n seminaar te UNISA bygewoon wat gehandel het oor die verslag van die ministeriële komitee oor religieuse onderrig. Die verslag wat heet: "Religion on Curriculum 2005: Report of the ministerial committee on religious education", is in Januarie vrygestel. Die hoofspreker by die seminaar was mnr Paul Faller wat aan die "Catholic Institute for Education" verbonde.is en een van die vyf lede van die ministeriële komitee was. Mnr Faller het verduidelik dat die verslag en die opsies vir religieuse onderrig wat daarin vervat word, opgestel is binne die wetsraamwerk van 'n Skolewet van 1996 asook binne 'n raamwerk van rigtinggewende beginsels (directive principles) wat opgeteken is in hoofstuk 11 van die verslag. Dié beginsels spruit voort vanuit die waardes waarin Kurrikulum 2005 begrond is.Alle religieuse onderrig in staatskole sal binne die raamwerk van dié beginsels moet geskied. Onder die rigtinggewende beginsels is die volgende kommerwekkend vir Christene:
Alle onderwys moet bydra tot die skepping van 'n nasionale demokratiese kultuur. (Hierdie beginsel is kommerwekkend omdat verwikkelinge in Suid-Afrika daarop dui dat demokratiese vryheid van religie, wat prysenswaardig is, geïnterpreteer word as die gelykstelling van alle religieë, wat onbybels en daarom onaanvaarbaar vir ons as Christene is).
Daar mag geen indoktrinasie of bekeringswerk in staatskole plaasvind nie. (Die heil, alleen in Christus te ontvang, mag nie verkondig word nie!).
Geen religie mag afgekraak word nie. (Hierdie beginsel beteken dat die vraag na religieuse waarheid nie in staatskole geopper mag word nie, wat dan beteken dat alle religieë as ewe deugdig aan leerders voorgestel moet word).
Daar moet respek vir, sensitiwiteit teenoor en akkomodasie van alle religieë wees.
Die verslag stel die volgende opsies voor vir grade 1 tot 9:
Opsie 1: Slegs die leerareas van Kur-rikulum 2005 word onderrig. Religie word slegs na verwys indien die uitkomste hulself daartoe leen.
Opsie 2: Slegs die leerareas van kurrikulum 2005 word onderrig, maar religie word in elke leerprogram / tema ingelyf.
Opsie 3: Opsie 1 plus religieuse onderrig wat in fleksietyd aangebied word en waar die leerders kies tussen óf mulitreligieuse onderrig (waar al die religieë 'neutraal' behandel word) óf onderrig in die religie van sy / haar keuse. Laasgenoemde mag egter volgens bostaande rigtinggewende beginsels nie bekeringswerk ("nurturing") wees nie.
Opsie 4: Opsie 2 plus religieuse onderrig wat in fleksietyd aangebied word soos in Opsie 3.
Op die oog af lyk opsies 3 en 4 bemoedigend vir Christene. Dit is egter nie so eenvoudig nie.
Na dié seminaar dink ek persoonlik dat daar min, dalk selfs geen ruimte in staatskole gaan wees vir die ware Evangelie nie.
Die seminaar het die volgende duidelik gemaak:
Enige program van religieuse onderrig, ook dié in een religie, is onderworpe aan die goedkeuring van die provinsiale onderwysowerhede, oftewel die LUK vir Onderwys wat in verskeie provinsies 'n nie-Christen en/of ateïs is. Met ander woorde, 'n nie-Christen en/of ateïs moet die aanvaarbaarheid van die inhoud van die Christelike godsdiensonderrig beoordeel!
Die seminaar was in die algemeen ten gunste van multi-religieuse onderrig. Sulke onderrig vermy die vraag na religieuse waarheid en dit is dus onvermydelik dat kinders onder die indruk gebring word dat alle religieë ewe deugdig is en dat 'n religieuse 'oortuiging' 'n saak van blote persoonlike, of sosiale, gevoelskeuse is.
'n Laerskoolonderwyseres en 'n onderwyskollegedosent wat multi-religieuse onderrig aanbied, het ook die seminaar toegespreek. Altwee het aanspraak daarop gemaak dat sulke klasse nie allleen religieuse verdraagsaamheid kweek nie, maar dat die leerder se geloof in sy eie religie verryk en versterk word. Laasgenoemde aanspraak berus egter nie op kon-krete bewyslewering nie, maar is eerder optimistiese wensdenkery. Die enigste bewyslewering wat geopper was, was 'n verwysing na 'n swart laerskoolkind wat ná sulke klasse nie meer skaam was om te erken dat sy familie sangomas spreek nie.
Dit is twyfelagtig of die verkondiging van die uniekheid van ons Here Jesus Christus in staatskole toegelaat gaan word. Dit kan as disrespek en afkraking van an-der religieë geïnterpreteer word. Toe daar gevra is of daar plek gaan wees vir die uniekheid van Christus, was die algemene reaksie op die vraag een van antagonisme (teëwerking) .
Die seminaar het dit ook duidelik gemaak dat multi-religieuse onderrig wesenlik deel gaan vorm van alle toekomstige onderwysersopleiding. Dit is ook kommerwekkend omdat studente dikwels nog beïnvloedbaar is en dus nog vatbaar is vir die relativistiese en on-ware idee dat alle religieë ewe deugdig en bloot verskillende paaie na dieselfde God is.
Ek het die seminaarsaal verlaat met 'n gevoel van pessimisme vir die toekoms van die Christene in Suid-Afrika. Tye gaan moeilik word vir ons as Christene, maar ons moet die stryd om die eer van die Drie-enige God nogtans met blymoedigheid aanpak. Ons betree nou 'n tyd wat ten diepste gaan om gehoorsaamheid aan die wil van God óf gehoorsaamheid aan die wil van die wêreld.