Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
OPVOEDING EN ONDERWYSDr Joe Morecraft, predikant van die Reformed Presbyterian Church of America te Atlanta en bekende spreker oor Godsdienstige en aanverwante sake, het die Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys gedurende Mei 1999 besoek. Dr Morecraft is tewens lid van die Raad van Christ College in Virginië, n private instelling vir hoër onderwys wat soos die Akademie op suiwer gereformeerde grondslag gevestig is. Sy besoek sal hopelik tot nouer bande tussen die twee instellings lei, aangesien albei geloofsdade is wat vir die herstel van die Woord van God in wetenskapsbeoe-fening en onderwys stry.Amerikaanse Teoloog besoek die Akademie vir CVHO, praat oorDIE ANTITESE IN AMERIKAANSE ONDERWYS
Tydens sy besoek het dr Morecraft op 17 Mei n openbare lesing onder die vaandel van die Akademie gelewer oor Die Antitese in Amerikaanse Onderwys. Hy het onder meer na die ontoereikendheid van Amerikaanse openbare onderwys op die drie vlakke van funksionele, kulturele en morele geletterdheid verwys. Die Amerikaanse openbare onderwysstelsel het oor die 25-miljoen volwassenes gelewer wat kwalik kan lees, skryf of reken (funksionele ongeletterdheid). n Ondersoek het getoon dat slegs 54,5 persent van sewentienjariges die regte antwoord op vrae oor Amerikaanse geskiedenis kon verstrek (n voorbeeld van kulturele ongeletterdheid). Die Amerikaanse onderwys het deur sy doelbewuste optrede om die Bybel en die bybelse etiek uit die openbare skool uit te sny, n volk sonder morele grondslag geskep.
Die kern van dr Morecraft se voordrag dra die opskrif "A Biblical Philosophy of Education - Deuteronomy 6", waar hy die antitese stel. Daar spreek die Woord van God hom regstreeks oor die opvoeding binne Verbondsverband uit, en dr Morecraft se Skrifuitleg is betekenisvol en insiggewend.
Aan die hand van Deut 6:1-3 lê hy die doelstellings van Christelike (Verbonds-) opvoeding soos volg uit: Ons einddoelstelling in die opvoeding is om God te ken, Hom te verheerlik en ons ewig in Hom te verlustig. Om hierdie hoofdoel te bereik - daardie einddoel van die menslike bestaan - voed ons ons gesinne op om drie doelwitte te bereik.
Eerstens is daar die doelwit van n Christelike lewe. Gelowige ouers en hulle kinders is lede van God se Verbondsfamilie. Die kerk van God bestaan immers uit almal oor die hele wêreld wat die ware geloof bely, saam met hulle kinders. Daarom moet ons ons kinders onderrig en oplei in die lewensweg en die wette van God se Verbond soos dit in die Skrif openbaar word. Hulle moet noukeurig onderrig word hoe om getroue lede in God se Verbond te wees.
Die tweede doelwit is n Christelike denke. Verbonds-kinders moet in liggaam en gees aan God behoort en moet leer om aan alles vanuit n onderskeidende Christelike bybelse perspektief te dink. Ons leef soos ons leef omdat ons dink soos ons dink, of soos die Bybel dit stel: Soos n man in sy hart dink, so is hy. Die Woord van God moet alles wat ons met die hand doen, alles wat ons met die verstand dink en alles wat in ons huise gedoen word, beheers.
Derdens moet die onderwys en opvoeding op n Christelike kultuur en beskawing gerig wees. Omdat die konink-ryk van Jesus Christus elke gebied van die lewe omvat, regeer en omvorm, roep Hy sy dissipels om die aansprake van Sy koninkryk op elke lewensgebied uit te oefen totdat die kennis van God die aarde bedek soos die waters die see bedek. Die koninkryk van Christus is die manifestasie van die soewereine heerskappy van God in mag en genade, wat n nuwe orde (beskawing) van geregtigheid en saligheid in Jesus Christus in die geskiedenis tot stand gebring het, ter vervulling van die Goddelike kultuuropdrag. Ons moet ons kinders leer om hulleself te sien as die toekomstige beskermers, verfyners en bevorderaars van die Christelike beskawing.
Dr Morecraft het beklemtoon dat die opvoedingstaak nêrens in die Bybel aan die owerheid opgedra word nie en dat dit wesenlik die taak van die ouers is. Dit geld besonderlik vir die Verbondsvolk van God. Daarom is dit noodsaaklik dat ouers hierdie verantwoordelikheid aanvaar as deel van hulle lidmaatskap van die kerk van Christus. Net deur die volslae antitese tussen kerk en wêreld in die opvoeding van ons kinders in te voer, kan die totstandkoming van n wesenlike barbaredom voorkom word. Daarom is die gelowige ouers verplig om hulle eie skole en ander onderwysinstellings op te rig waar hulle kinders ooreenkomstig die Verbond van God opgevoed kan word.
Dr Morecraft het die volgende dag ook n gesprek met die Akademie se studente gevoer en hulle begeester om voort te gaan op die weg wat hulle ingeslaan het. Tydens die gesprek het dit na vore gekom dat Christ College na tien jaar sowat honderd studente het. Dit is vir die Akademie bemoedigend, aangesien hy in sy vierde jaar sewentien studente het.
Opgestel deur prof Alkmaar Swart, Voorsitter van die Raad van die Akademie vir CVHO.
Die volledige weergawe van dr Morecraft se lesing is in Engels verkrygbaar van die Registrateur van die ACVHO (dr Pieter van der Dussen) teen R20-00 stuk (posvry).