Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
SKRIFOORDENKING
"VIR ELKE WERK VOLKOME TOEGERUS" Die Skrif en ons Geloofsparaatheid - DR IZAK BEKKER - GKSA: DIE MOOT -Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. (2Tim 3 : 16, 17) Om in die geloof toegerus wees vir die lewe van die aardse bestaan, is 'n groot genadegawe. God se Woord speel in hierdie toerustingsproses 'n onmisbare rol. So was dit deur die eeue die geval gewees.So skryf die grys apostel Paulus aan die einde van sy lewe ( ongeveer AD 67) in sy laaste brief (sy "testament") juis oor die waarde en die gesag van die Skrif aan sy geloofskind, die jong Timotheus. Aan die einde van die eerste eeu was daar naamlik ook al mense gewees wat hulself gelowiges genoem het, maar in menslike beterweterigheid die Skrif op elke hoek en draai bevraagteken en gekritiseer het. Alhoewel ontstellend vir die Skrifgelowige oor die Godonterende vermetelheid wat daarin na vore kom, was dit niks vreemds en ook niks nuuts in die kerkgeskiedenis dat die mondige mens sou sê, soos onlangs op 'n sinodevergadering gesê is: "Ons glo nie meer aan Jona en die walvis nie. Ons glo nie meer aan Adam en Eva nie. Ons aanvaar deesdae in die Bybel dit waarmee ons saamstem en lees oor die res." Duidelik hoor ons in hierdie uitspraak die weerklank van ketters wat die gesag van God se Woord deur die eeue bevraagteken het. Dink onder andere maar aan Marcion wat die hele Ou Testament minderwaardig geag het en aan Pelagius wat die mens se vrye wil voorop stel en Adam bloot as 'n slegte voorbeeld sien. Of dink aan die klomp Skrifkritici hier aan die einde van die twintigste eeu wat die vorm- en inhoudskema ten opsigte van die Skrif ingevoer het en ons wil laat glo dat die Skrif nie God se Woord is nie, maar wel soms God se Woord (tussen al die mensewoorde in) kan bevat! Dwars teenoor al hierdie menslike sieninge, skryf die ou apostel egter vol oortuiging aan Timotheus: "Die hele Skrif is deur God ingegee ...". Alles wat die naam van Skrif dra, alle Skrifboeke dus, is deur God die Heilige Gees geïnspireer, beadem.Dus is dit die Woord van God, met goddelike gesag beklee en moet dit as sodanig gelowig aanvaar word. Nie die kerk sê dat die Skrif God se Woord is nie, maar God Self sê dit. Daarom het die sinodes van Hippo Regius (AD 393) en dié van Karthago (AD 397) hulle nie besig gehou met die vraag óf die Skrif gesag het nie, maar het hulle slegs dié Skrifboeke as kanoniek geregistreer wat alreeds volle erkenning as Bybelboeke geniet het. Dié sinodes het nie probeer Skrifgesag bewys nie, hulle het slegs, gelei deur God se Gees, dit geglo, bely en bewaar. Aansluitend hierby verklaar Johannes Calvyn in sy kommentaar op die tweede Timotheusbrief (AD 1556): "Dit is 'n beginsel wat ons godsdiens onderskei van al die ander, naamlik dat ons weet dat God met ons gepraat het, en ons is ten volle oortuig dat die profete nie in eie sienswyse gepraat het nie, maar dat hulle, as werktuie van die Heilige Gees, slegs geuiter het dit wat aan hulle vanuit die hemel opgedra is." Hierdie gesagvolle Woord van God is tot groot ondersteuning vir die gelowiges op hul strydvolle pelgrimspad. Paulus wys Timotheus daarop dat dit nuttig is "tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid." God se Woord is ontsaglik ryk en kan op sovele gebiede met seënryke gevolge gebruik word. Dit is nuttig vir jou persoonlike lering, maar ook om ander in die evangelie te onderrig. As maatstaf vir die waarheid kan dit aangewend word: dwalinge kan weerlê word; medegelowiges wat in leer of lewe hulle misgaan het, kan weer in liefde hieruit teruggehelp word tot die volle lig (vgl o.a. Ps 119 : 105 en Pet 1 : 19) . Ook kan dit oor die algemeen aangewend word tot opvoeding, tot paraatmaking, tot die aantrek van die volle wapenrusting van God (vgl Ef 6 : 13). Dit kan jou verder bring op die regte pad, dit wil sê die deur God gewilde pad, en dit leer jou om die Here se wil steeds noukeuriger te onderskei en te ondersoek. Hoe totaal onparaat, losgeslaan en soekende moet 'n arme "mondige" mens tog nie wees wat die gesag van God se Woord bevraagteken en sy pragtige waarhede as blote versinsels beskou nie! Oor uitsprake dat gespog word met 'n mens se a-religieuse Afrikanerskap as digter of skrywer, of dat slegs hier en daar die Bybel nog as van nut beskou kan word, en dat op "eietydse vrae" oor Skrifwaarhede antwoorde gesoek word by 'n trae kerk, kan die ware Skrifgelowige slegs treur. Het die eens koersvaste Calvinis-Afrikaner dan verval in só 'n karikatuur van Skrif- en godsdiensbelewing? 'n Mens voel geneig om by die aanhore en aanskoue hiervan saam met die profeet Jesaja ontsteld dit uit te roep: "Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is, want hoe min is hy werd!" (Jes 2 : 22) . As Paulus praat van die "mens van God" het hy nie bloot die predikant of broeders in die besondere ampte in die oog nie, maar bedoel hy daarmee die gelowige in die algemeen, elke kind van God wat die Woord van die Here hoog ag. Hy word "mens van God" genoem omdat hy deur God geroep is, in sy diens gestel is, sy beeld moet vertoon. Ook in die amp van die gelowige kan hy sy diens-werk met vreugde en doelgerig vervul, omdat hy geloofsparaat gemaak is deur God se Woord, soos geïnspireer deur die Heilige Gees. Hy kan "volkome wees", nie volmaak of sondeloos nie, maar in alle opsigte bruikbaar vir die Here, ywerig in die doen van goeie werke (Tit 2 : 14) , omdat hy deur God se Woord hiervoor uitnemend toegerus is. So word die gelowige hoe langer hoe meer paraat vir die stryd in die kerk en samelewing hier op aarde. Slegs as gelowiges, as predikante, as kerklike ampsdraers en as professore hulle buig voor die gesag van God se Woord, soos geïnspireer deur die Heilige Gees (2 Pet 1 : 21), kan daar seën verwag word. Maar as aan die gesag van hierdie onbeweeglike Woord getorring word, as dit in menslike eiewysheid selfs bevraagteken word, dan sal God se oordele nie uitbly nie. Onthou: God is wakker oor sy Woord om dit te volbring (Jer 1 : 12). |