Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

AKTUEEL

RELATIVERING VAN DIE GETROUE WOORDVERKONDIGING IN DIE EREDIENSTE

Neels Jackson berig in Naweek-Beeld van Saterdag, 19 Februarie 2000 oor NG Kerk leraars wat verskil oor die waarde van die preekstoel in die kerk. "Weg met die preekstoel" is die standpunt wat dr Eduan Naudé, leraar van die NG gemeente Lyttelton teenoor prof Hennie Stander van die Universiteit van Pretoria verdedig, aldus Neels Jackson.

Naudé reageer op 'n vroeëre artikel in die rubriek Vuurhoutjie in 'n vorige uitgawe van Die Kerkbode, waarin laasgenoemde beswaar maak teen die neiging van sekere kerke om preekstoele deur 'n verhoog te vervang. Stander voer aan dat die preekstoel die fokuspunt van die kerkgebou is wat strook met die gereformeerde tradisie waar die Skrif sentraal staan.

Prof Julian Müller van die Universiteit van Pretoria (fakulteit teologie) is van oortuiging dat die simboliek van die preekstoel tóg waarde het. Ná die kerkhervorming het die kansel in die plek van die altaar gekom om aan te dui dat die Woordbediening in die Gereformeerde Kerke sentraal staan. "As jy dit weggooi, wat sê jy daarmee?" wil hy weet.

Dr Johan van Schalkwyk van die NGK gemeente Lynnwoodrif vermeld dat sy gemeente verlede jaar die preekstoel verwyder en deur 'n verhoog vervang het. Volgens die berig in Beeld het hy gesê dat hy nou agter 'n kateder staan en sy storie moet ken. Daar is niks om hom te beskerm nie. Die kerk moet volgens hom die evangelie op 'n eietydse wyse verpak. Vir hom gaan dit nie oor 'n aksie teen die simbole nie, maar bloot oor praktiese oorwegings.

Dis die tydgees wat mense van die tradisie vervreem. Nou is tradisie nie iets wat op sigself staan nie. Die handhawing daarvan moet skriftuurlik gemotiveerd wees. Dit gaan in hierdie geval oor die saak van die Woordverkondiging. Dit is nie bedoel om 'n praatjie oor die geloof en die innerlike ervaring daarvan te wees nie.

Die Woord van God moet met gesag bedien word. Dit beteken dat die bedienaar van die Woord 'n sodanige plek inneem wat ooreenstem met sy Goddelike amp. Dit staan nie gelyk aan die sekulêre metodes van die breë samelewing nie. Dáár soek 'n mens sensasie en ekstase. Die vervanging van die preekstoel bring die wêreld in die kerk en nie die kerk na die wêreld nie.

As die leraar die Woord van God nie meer gesaghebbend bedien nie, dan versink die geloof van die hoorders in twyfel en ongeloof. Dit is die siekte van ons tyd dat die getroue Woordverkondiging in die meeste kerke en gemeentes nie meer gehoor word nie. Dit het al hoe meer in 'n getuienis oor innerlike ontroering of eksemplariese toepassing van 'n teks of Skrifgedeelte ontaard. Die prediking wat konfessioneel of dogmaties - Skrif met Skrif vergelykend - moet plaasvind, is oor die algemeen 'n boodskap tot streling van die gemoed. Nie meer die "So sê die HERE, Here nie"! In die meeste kerke word die sistematiese verkondiging van die leer van die kerk ook nagelaat. Die Dordtse voorskriftelikheid van die reëlmatige Kategismusprediking word in die meeste kerke van gereformeerde oorsprong nie meer toegepas nie. Die kerk word 'n geselskapsplek waar sekulêre musiekinstrumente die opwekkingsboodskap wat nog gelewer word begelei. Die menslike verdigsels van geloofswaarhede soos dit op die gevoel af vertolk word het lankal die plek van die Psalmgesang ingeneem. Dit is wat gepaardgaan met die verwydering van die preekstoel, die sentrale plek van die Woordbediening, uit die kerk.

Die Geloofsverklaring 2000 hang ook daarmee saam. Die starre dogmatiese benadering van die Woord van die Here pas nie in die tyd waarin ons lewe nie. Mens moet aanpas of sterf. Daar is so baie godsdienste wat meer menslik as die Gereformeerde godsdiens is. Daar is die Charismatiese bewegings, die Pinksterkerke met hulle uitbundigheid en vermeende belewing van die geloof. Daar is die aksies van kerke wat groot klem lê op die uitreiking na verdruktes en verontregtes en dit vertolk as die vergestalting van Christus deur middel van die kerk. "Wel die Heer maar nie die leer nie", is die boodskap wat hierin weerklink. Dit is nie bedoel om die barmhartigheidsfunksie van die kerk te diskwalifiseer nie. Maar as dit die hoofsaak van die kerk, die bewaring en suiwere verkondiging van die Woord verdring, dan is daar groot fout.

Dit is waar dit in ons samelewing aan makeer. Deurdat die prediking nie meer gesaghebbend beskou word nie en deur die relativering van die bybelse leer is daar op die terreine van die kerk en die breë samelewing geen vaste koers meer nie. Die belydenisskrifte het museumstukke geword. Die kerklike tug het verdwyn en die wêreldlike owerhede handel na willekeur en pragmatiese oorwegings. Die maatskappy verwilder en die mense word bandeloos. Die misdaad raak onbeheerbaar en sedeloosheid neem hand oor hand toe.

Die kerk versaak sy roeping om temidde van die huidige ondergang van ons samelewing die suiwere boodskap van God se Woord te laat hoor. Waar is die predikante wat nog die kansels beklim en durf om in die Naam van die Here die koers te wys: "Terug na die Woord van Here, terug na God", met die toepassing op die totaliteit van die kerklike, die maatskaplike en persoonlike bestaan?

Die preekstoel moet weer sentraal gestel word, nie slegs fisies nie maar ook figuurlik. Die gesaghebbende Woord van God moet ons lei in die omstandighede van elke dag in die praktyk van ons lewe: in ons persoonlike geloofslewe en daaglikse bestaan, maar ook in die openbare omstandighede, in die staat en samelewing.®