Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

DIE EERSTE GEBOD

'n Verwerking van 'n skets deur ds JR Visser (VGKSA) Pretoria - Maranata

Oorgeneem uit: Mededelingsblad van Die Vrye Gereformeerde Kerk Pretoria, 1 Augustus 1999, bl 2 en 3

DIE HERE ALLEEN!

Deel 2
Deel 1

Jy mag geen ander gode voor my aangesig he nie (Ex 20:3).

Dien 'n Jood en 'n Moslem ook die HERE?

Christene is nie die enigstes wat maar net een God dien nie. Ook die Jode en die Moslems doen dit. Die Jode sê dat hulle die HERE dien en die Mohammedane aanbid Allah. Net soos die Christene, het hulle ook 'n boek wat vir hulle die Woord van God is. Vir die Jode is dit die Ou Testament, die Thora, en vir die Moslems die Koran.

Is Jode en Moslems dus heidene, óf is hulle mense wat die HERE net op 'n ander manier dien? Sommige wys op een van die gebede wat agter in ons Psalmboek opgeneem is, naamlik die Gebed vir al die behoeftes van die gelowiges. Ons lees daar onder andere: Ons bid U vir die arbeid van die sending onder Jode, Mohammedane en heidene, en vir alle evangelie-arbeid onder hulle wat nog die naam van Christen dra, maar van die waarheid ver afgewyk het.

Hier word 'n sekere onderskeid getref. Beteken dit dat die Joodse godsdiens en die Islam wel die HERE dien maar dan op 'n ander manier? Bedryf die Jodedom en die Islam sonde teen die tweede gebod en nie teen die eerste nie? Diegene wat meen dat die Jode en Islamiete ten diepste tog wél die HERE dien, voer as bewys daarvoor 2 Konings 17 aan.

2 Konings 17

Hierdie hoofstuk handel oor die Sama-ritane. Toe Israel (die tienstammeryk) in ballingskap gevoer is, is tegelykertyd ander bevolkingsgroepe na Israel's grondgebied verban. Hieruit het die Samaritane, wat aanvanklik nie die HERE gedien het nie, ontstaan. Hy het leeus onder hulle gestuur wat verskeie mense doodgemaak het. Toe het hulle op grond van die ou heidense geloof dat die land aan 'n bepaalde God wat gedien moet word behoort, die HERE gesoek om Hom te dien.

Nadat nog meer dinge gebeur het, lees ons in verse 32 en 33: Hulle het die HERE ook gevrees en vir hulle priesters van die hoogtes uit al hul stande aangestel, wat vir hulle in die tempels van die hoogtes diens doen. Hulle het die HERE gevrees en hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die nasies waar hulle vandaan weggevoer is.

As ons hier lees dat die Samaritane die HERE gevrees het, kan ons dan ook nie van die Jodedom en die Islam sê dat hulle die HERE dien nie?

Voordat ons nou verder oor die Jodedom en die Islam praat, moet nog 'n opmerking 2 Konings 17 gemaak word. Meestal word slegs die verse 32 en 33 gebruik en nie verder gelees nie. Maar met vers 34 daarby, word dit moeiliker om hierdie Bybelgedeelte te hanteer om te bewys dat mense wat God nie volgens sy Woord dien nie, Hom nogtans wel kán dien.

Wat lees ons in vers 34? Tot vandag toe handel hulle volgens die vroeëre gebruike: hulle vrees die HERE nie, en handel ook nie vol-gens hulle insettinge en volgens hulle gebruike nie, of volgens die wet en volgens die gebod wat die HERE die kinders van Jakob beveel het, aan wie Hy die naam van Israel gegee het.

Die Samaritane het sekere dinge van God geweet en ook aanvaar, maar daardeur bestaan daar nog geen eenheid van die geloof met hulle wat die HERE destyds in waarheid aanbid het nie. Hulle beeld van God was sodoende nie die ware nie. Daarom het hulle Hom nie werklik gevrees en gedien nie.Hulle het sy Naam in hulle mond geneem sonder om Hom werklik te ken en te dien.

Dien die Jodedom die HERE?

Die ooreenkoms tussen Jode en Christene is baie groot. Die grootste deel van die Ou Testament is vir hulle letterlik dieselfde as vir Christene. Dit is logies om daaruit te konkludeer dat hulle dan dieselfde God sou dien. Maar is dit werklik so?

Met die oog daarop is dit belangrik om te let op wat die Here Jesus in Joh 14: 6 & 7 sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.

Die enigste pad na die Vader en om God te ken, is deur Christus. Ná sy koms is dit die enigste pad vir die ware kennis van God. Dieselfde lees ons in 2 Kor 4:5 & 6: Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil. Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn - dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Christus.

Wie God vandag nie as die Vader van Jesus Christus ken en dien nie, wie Hom vandag nie as die Drieënige God deur Jesus Christus ken nie, dien nie die HERE nie. Hulle dien nie dieselfde God as wat God se kinders aanbid nie, want Hy is die Vader van Jesus Christus en niemand anders nie.

Die apostels moes juis daarom ook vir die Jode die evangelie van die Here Jesus verkondig en hulle oproep om hulle tot Christus te bekeer (sien onder andere Hand 2:37 vv; 4:12). Wie God dien sonder om Hom as Vader van Jesus Christus te erken, aanbid in werklikheid 'n ander God.

Paulus skryf van die Jode in Rom 10:2: Want ek getuig van hulle dat hulle 'n ywer vir God het, maar sonder kennis. Is dit nou nie weer 'n argument teen die gevolgtrekking wat ons hierbo gemaak het nie? Paulus sê hier dat die Jode nog steeds dink dat hulle vir God ywer. Dit is hulle oortuiging maar in werklikheid ken hulle Hom nie. Hulle ken God nie werklik nie. Eintlik dien hulle hulself. Dit sien ons as ons vers 3 daarby betrek: Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.

Die ywer van die Jode vir God is 'n manier waarmee hulle dink om God te dien, maar dit is nie in werklikheid so nie. Hulle ontbreek die egte, die waaragtige kennis en diens van en aan God.

Dien die Moslems dieselfde God?

Die Islam het die Koran as die heilige boek. Baie dinge wat ook in die Bybel staan word daarin beskryf. Die Here Jesus word selfs daarin as een van die profete aanvaar. Dien hulle daarom net soos die Christene die HERE?

As 'n mens enkele aanhalings uit die Koran lees, word dit gou duidelik of die Islamiete in werklikheid die Vader van Jesus Christus, die Drieënige God, dien en aanbid al dan nie.

Oor die Drieënige God lees ons in die Koran onder andere: O, mense van die Skrif (hiermee word na die Christene verwys, RV) oorskry nie die grense in julle godsdiens nie en sê niks anders oor Allah as die wesenlike nie. Die Massih Isa, die seun van Marjam (dit is Jesus, RV) is net die bood-skapper van Allah en sy Woord. ... Glo dan in Allah en sy boodskapper. En sê nie 'Drie' nie. Hou daarmee op; dis beter vir julle. Allah is immers die een enige God; ver is dit van sy lofprysing dat hy kinders sou hê." (Soera 4:171)

Ook die kruisdood van Christus word in die Koran ontken. Ons lees dit in Soera 4:157 & 158: Daar is mense wat sê: Ons het Masih Isah, die seun van Marjam, boodskapper van Allah gedood. Maar hulle het hom nie gedood nie en hulle het hom nie gekruisig nie. Vir hulle is 'n skynbeeld van hom gemaak. Hulle wat van hierdie siening verskil, dink waarlik nie reg oor hom nie. Hulle het omtrent hom werklik geen kennis nie anders as dat hulle een of ander siening volg nie. Hulle het hom verseker nie gedood nie. Nee, Allah het hom tot Hom verhoog. Allah is geweldig en wys.

Die belangrikste van die waarheid, van die prediking, word hier ontken. Die Gees sê deur Paulus in 1 Kor 2: En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde (verse 1&2).

Die verloëning van God as die Drieënige God is deur Christus se kerk op grond van God se Woord in die geloofsbelydenis van Athanasius onder andere beantwoord met die volgende woorde: Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou. As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel vir ewig verlore gaan. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die eenheid eer, sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.

Die Islam is 'n godsdiens waarby die mens homself in eie krag moet verlos deur die goeie werke wat hy moet doen. Dit blyk dus duidelik dat 'n Moslem beslis nie die HERE, die God van die Bybel en van die verbond tussen Hom en sy kinders, dien nie.

Laat ons bid en werk daaraan dat Jode en Moslems mag leer om die Drieënige God in die aangesig van Christus te ken en te dien.

Dien die HERE alleen

Die HERE gee sy wet vir sy volk en dan is die eerste gebod: jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Die rede daarvoor is dat Hy die enigste God is. Niemand en niks anders het reg op Goddelike eerbetoning nie. Let 'n mens daarop, dan sien jy dat om sowel iemand anders in God se plek te eer, as om iemand anders naas God goddelike eer te bewys, deur hierdie gebod geraak word.

Dit gaan regtig alleen om die HERE. As ek of jy aan iemand anders as die HERE alleen Goddelike eer bewys, as ons ons vertroue in sekere dinge op iemand anders stel, kom ons in stryd met hierdie gebod.

Dit raak ook ons daaglikse lewe in die 21ste eeu. Hoe lewe ons as ons siek word, dokter toe gaan en medisyne drink? Bid ons die HERE om genesing of vertrou ons eerder uitsluitend op die dokter en die medisyne? Of beskou ons medikasie en medisyne as middele wat die HERE in sy sorg vir ons lewe gegee het maar wat altyd afhanklik van sy seën bly?

Die eerste gebod het ook groot betekenis vir die vraag omtrent die prioriteite in ons lewe. Is dit welvaart, sport, of mense waarvoor ons baie lief is? Nog baie ander voorbeelde kan genoem word. Dit gaan daarom dat geen skepsels God se plek mag inneem en die werk in sy Koninkryk in ons lewe mag verdring nie. Hoe belangrik is dit vir ons vandag wat die HERE deur Jesaja vir ons sê: Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE nie? En buiten My is daar geen ander God nie: 'n regverdige en reddende God is daar buiten My nie (Jes 45:21).

Die HERE wat die enigste God is, wil dat ons Hom as sodanig erken, eer en dien. Niks en niemand mag die verbondsverkeer, die lewe met Hom, verhinder of verdring nie.