Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

GOD SE PLEK VIR DIE VROU IN DIE GEMEENTE

DS BC SMIT  -  BRITS-WES

(VIERDE AFLEWERING)
(Vorige Aflewering)

Die getuienis en rol van die vrou oor
1 Timoteus 2 vers 11 en 12

Paulus maak hier vier uitsprake oor die vrou waarby ons wil stilstaan:

  1. "Die vrou moet haar in stilte laat leer"
  2. "Sy moet haar laat leer in alle onderdanigheid"
  3. "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee ..."
  4. "of oor die man te heers nie maar sy moet haar stil hou."

Die stad Efese was oorheers deur die Griekse kultuur en godsdiens. In hierdie Griekse samelewing het die vrou ‘n baie ondergeskikte plek beklee. In diens by die tempel van Afrodite in die stad was daar 1000 priesteresse wat niks anders was as tempelprostitute nie. By die tempel van Diana was daar weer die sogenaamde Melissas, wat dieselfde funksie gehad het. Snags het hierdie vroue hulle werk op die stad se strate voortgesit. Vroue van goeie karakter het daarom ‘n baie geslote bestaan gehad. Hulle het hulle eie slaapgeriewe gehad waar hulle slegs deur hulle eggenotes besoek is. Hulle kon nooit alleen op straat verskyn nie en het selfs nie ‘n verskyning gemaak by die gesin se maaltye nie. Enige openbare byeenkomste was ‘n vrou met goeie sedes verbode. As vroue in so ‘n Griekse samelewing ‘n aktiewe rol sou begin vervul in die kerk en daar toegelaat word om leiding te neem in die prediking, sou die kerk onwillekeurig die naam kry dat dit ‘n oord was vir vroue met losse sedes.

A. Vroue moet hulle in stilte laat leer.

Die woord vir "stilte" (hesuchia) sal vanuit die konteks bepaal moet word. Die opdrag is in die verlede op twee wyses verdraai. (a) Diegene wat meen dat vroue geregtig is om in die kerk te preek, sê dat "stilte" dui op ‘n sag en stil gees. Vroue predikers moet dus in hulle optrede sagmoedig en bedaard wees. (b) Aan die ander kant is weer diegene wat meen dat die woord beteken dat geen gepraat van die vrou in die erediens toegelaat mag word nie, nie eers met die persoon langs haar nie. Die regte betekenis van die woorde is egter dat die vrou stil moet wees met betrekking tot onderrig aan en gesagsuitoefening oor mans in die erediens.

Hierdie opdrag stem ooreen met 1 Kor 14:34: "Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê." Die grond vir die swyggebod vind ons daarom in die wet van God. (vgl Gen 3:16 waarna vers 13 ook verwys). Die verbod in 1 Kor 14 beteken dus nie dat vroue glad nie mag praat nie, maar uit die konteks word dit duidelik dat die verbod gaan oor vroue wat spreek in tale en profeteer in die erediens op gereelde basis.

B. Vroue moet in alle onderdanigheid hulle laat leer.

Die woord onderdanigheid (hupotasso) beteken ‘om jou te skik onder." Vroue mag dus nie opstandig wees nie maar op hulle plek. Die vers hou verband met 1 Kor 11:3 waar Paulus sê: "...dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus." Die oorsprong vir die onderdanigheid van die vrou is daarom geleë in die verhoudinge waarin Christus staan. Dat Hy die hoof is van elke man word deur niemand bevraagteken nie, net soos die Vader se hoofskap oor Christus nie bevraagteken word nie. Waarom dan die hoofskap van die man oor die vrou betwis? Met die woorde van 1 Tim 2 word dus geleer dat die vrou aan die man onderdanig moet wees daarin dat sy nie die rol van hoofskap in die kerk wat aan die man behoort moet probeer oorneem nie.

Die doel van hierdie onderdanigheid van die vrou is geleë in die skeppingsorde wat God gee. God plaas die mens wat hy skep van die begin af binne verhoudinge. Binne hierdie verhoudinge is daar verskillende rolle wat die verhouding laat werk. In ons samelewing het dit egter mode geword om die enkeling en sy regte te verhef bo die verhouding. Wanneer dit gebeur dring elkeen aan op gelyke behandeling en ‘n gelyke rol. Vroue wat weier om hulle Godgegewe rol in die kerk en gesin te aanvaar, ondermyn egter die orde wat deur God daargestel is en dit lei tot verval in die stabiliteit van die samelewing.

C. Vroue word nie toegelaat om onderrig te gee nie. (1Tim 2:12a)

"Toelaat" (epitrepö) impliseer dat daar wel in Efese vroue was wat begeer het om die leidende rol in die kerk oor te neem. Hierdie begeerte is reeds sederd die sondeval aanwesig in die vrou. Wanneer daar in Gen 3:16 gepraat word oor die begeerte van die vrou na haar man, is die woord begeerte van besondere belang. Dit word slegs op een plek in die Ou Testament weer gebruik naamlik in Gen 4:7 waar sprake is van die begeerte van die sonde om oor Kaïn te heers. Die probleem van vroue wat ontevrede is met hulle Godgegewe rol in die kerk, is daarom niks nuut nie. Dit word egter verbied dat vroue die gesagvolle rol van herder en leraar in die kerk mag oorneem.

D. Vroue mag nie heers nie, maar moet hulle stil hou. (1Tim 2:12b)

"Heers" (authetein) kom slegs op hierdie een plek in die Nuwe Testament voor. Die gebruik van die woord in buitebybelse bronne is "om gesag te hê oor". Dié gesag het egter geen negatiewe waarde soos byvoorbeeld die woord "domineer" het nie. Dit beteken daarom nie:

a) dat dit hier nie gaan oor 'n verkeerde gesagsuitoefening deur vroue nie. Sommiges verklaar die vers asof regte gesaguitoefening deur vroue wél toegelaat word en hier alleen die verkeerde uitoefening van gesag verbied word. So 'n verklaring hou egter nie rekening met die betekenis van authetein nie. Onderrig en gesag oorneem staan hier in kontras tot met stilheid en onderdanigheid. Vroue mag geen posisie in die kerk beklee waar sy oor die man heers nie.

b) Die verbod beteken ook nie dat vroue hier verbied word om te bid nie. Al wat verbied word is dat vroue as voorgangers sou optree in die samekomste van die gemeente om God te eer.

c) dat vroue nooit mag onderrig gee nie. Daar is ‘n tyd en plek vir die vrou se onderrig, byvoorbeeld die gesamentlike onderrig van die egpaar Priscilla en Aquila aan Apollos (Hand 18:26). Sulke onderrig is egter nie tydens die samekomste en eredienste van die gemeente nie.

d) dat vroue nie oor geestesgawes beskik nie. Ook vroue kan beskik oor die gawes van onderrig en leierskap. Die Here voorsien egter oorgenoeg geleentheid vir die vroue wat hierdie gawes het om dit buite die erediens en samekomste van die gemeente te beoefen sonder dat hulle sy wil weerstreef.

e) dat vroue nie evangelisering kan doen nie. As daar ooit behoefte was aan leierskap was dit in die tyd van die apostel Paulus se optrede. Hy tref egter nêrens die kompromie om die nood op te los deur vroue in die amp te bevestig nie.

f) dat vroue nie minderwaardig is nie. Die vrou het nie ‘n minderwaardige plek of rol teenoor die man nie. Hulle het bloot ‘n verskillende rol. Baie glo dat die enigste wyse om invloed uit te oefen en gesag te hê sou wees om die rol te hê van leierskap. Nie-leiers kan egter net soveel invloed uitoefen. Dit is juis die onderwerping en gehoorsaamheid aan God wat vrede en vreugde tot gevolg het. Dit is ‘n drogbeeld van ons tyd dat die hoogste vervulling geleë is in bekleding van die hoogste posisie van gesag.

Die uitleg en standpunt soos hierbo gestel is, staan in skerp kontras met die verklaring van die betrokke verse in die nuwe publikasie, Die Bybellennium, onder redaksie van Wil Vosloo en Fika J van Rensburg.

Die verklaarder van die betrokke verse van 1 Timoteus 2, dr Wim C Vergeer, meen dat die verse nie verstaan moet word as van betekenis "vir alle gelowige vroue in alle gemeentes deur al die eeue nie." (bl 1635) Die verse sou dan alleen maar van toepassing wees vir die vroue van Efese. So ‘n verklaring ignoreer egter totaal die begronding wat die teks self aanbied in vers 13 van die plek van die vrou in die Ou Testament en veral in Genesis.

Daar word dus in Die Bybellenium ook geen aandag aan vers 13 gegee nie. Wie egter eerlik hierdie verse bestudeer, kan tot geen ander konklusie kom nie as dat hier nie maar ‘n oproep gedoen word dat die vroue van Efese "vrywillig hulle menseregte (moet) prysgee" (bl 1636) nie.

Hierdie verse bevestig die gesagvolle openbaring van God vir die rol van elke gelowige vrou in die kerk van die Here hier op aarde!