Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

WAARHEEN IS
"GELOOFSVERKLARING 2000"
OP REIS?

-  MENDEL RETIEF  -

"Geloofsverklaring 2000 sien sigself as die beginpunt van 'n proses. Almal word genooi om mee te gaan op die opwindende ontdekkingsreis van vrysinnige teologie. Die pad is breed. Almal is welkom. Die nuutste denkrigtings dien as kompas. Ongelukkig word lidmate in die duister gehou oor die beoogde bestemming."

Geloofsverklaring 2000 het sy ontstaan hoofsaaklik uit die geledere van die Ned Geref Kerk (sestien medewerkers uit die totaal van vyf-en-twintig). Die medewerking van lede uit vyf ander kerkverbande roep ‘n beeld van eenheid op. Tog is daar van ‘n diepgaande geloofseenheid in die NG Kerk geen sprake nie. Gemeentelede wat waarlik nog gereformeerd wil wees, voel soos vreemdelinge in hul eie kerkverband. Nuwe en vreemde leringe word openlik verkondig en geduld. Wat vroeër vas en waar was, skyn nou relatief en onseker te wees. ‘n Ander Godsbeskouing en ‘n ander Skrifbeskouing is reeds besig om verwoesting te saai.

Binne hierdie situasie ontstaan Geloofsverklaring 2000. Dit hou ‘n beeld voor van geloofseenheid wat in werklikheid nie bestaan nie. Woorde word so gekies (of weggelaat) dat dit almal gelukkig moet hou. Dit word ‘n ware eierdans. Akkurate taal wat soos ‘n skerp tweesnydende swaard waarheid en leuen van mekaar skei, word vermy. Uitsprake word só geformuleer dat dit wyd geïnterpreteer kan word. Sulke uitsprake is dan uit een perspektief gesien reg, maar vanuit ‘n ander perspektief gesien weer verkeerd. Of dit is so algemeen dat dit in werklikheid niks sê nie. So wil dit dan al die sienings onder een dak huisves. Daarvan getuig die samestelling van die werkgroep reeds. Dit skep egter so die ruimte vir dwaalleer om voort te woeker – want daar is baie plek onder die een dak.

Wat die kerk van meer nut sou wees, is ‘n geloofsverklaring wat in duidelike taal al die nuwe dwalings wat ingesluip het uitwys en afwys, terwyl dit die ewige en onveranderlike waarheid van God se Woord daarteenoor stel. Waarheid en leuen moet weer van mekaar geskei word.

Die tyd is daar dat almal wat die Waarheid liefhet, weer in waarheid by mekaar uitkom. Gereformeerdes moet hande vat.

Voorbeelde van afwykings in Geloofsverklaring 2000:

(Eerste Verklaring: God): "Ons glo ... dat God as Vader alles gemaak het ... dat God as Seun die sonde en ellende van ons bestaan oorwin het ... dat God as Heilige Gees vir ons intree ..." Dit is die taal van Sibelius met sy modalistiese beskouing van die Drie-Eenheid. Hy ontken dat God drie Persone in een Wese is, en leer dat God net een Persoon is wat optree as Vader, as Seun en as Heilige Gees. Wanneer die name God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees wel gebruik word, is dit dan net beeldspraak vir die hoedanighede waarin God optree. Juis nou, in ‘n tyd van amalgamasie en gelykstelling, word daar aanstoot geneem aan Jesus Christus wat die eniggebore Seun van God is, sonder Wie niemand na die Vader kan gaan nie. Indien die Drie-Eenheid van God modalisties verstaan word soos hierbo, val die Seun se middelaarskap weg en is die pad oop vir godsdiensvermenging.

"Ons glo dat die Heilige Gees vir ons intree ..." Die Skrif leer ons dat Jesus Christus die enigste middelaar tussen God en die mens is (1Tim.2:5). Dit is die Seun wat vir ons sonde intree by die Vader. Geloofsverklaring 2000 gebruik egter geen middelaarstaal met betrekking tot die Seun nie, net met betrekking tot die Heilige Gees. Waar die Skrif in Rom.8:26,27 sê dat die Gees vir die heiliges intree, gaan dit daaroor dat die Gees ons help om te bid. Die Seun bly egter die enigste middelaar wat vir ons sonde intree by die Vader. Daarom kan die Heilige Gees nie in ‘n geloofsverklaring ongekwalifiseerd beskryf word as die Een wat vir ons intree nie.

"Ons glo dat God as Seun die sonde en ellende van ons bestaan oorwin het ..." As sonde en ellende bloot deel is van ons bestaan, kry God die skuld daarvoor. Die erkenning van eie skuld en doemwaardigheid voor God word so vermy. Dit sou sekerlik eenvoudiger en meer Bybels wees vir gelowiges om te bely dat die Vader ons deur Jesus Christus verlos het van ONS sonde en ellende.

"... gely en gesterf het vir wat op aarde verkeerd is ..." Weereens word persoonlike skuld en sonde versag met "wat op aarde verkeerd is." Maar het Hy dan nie gely en gesterf juis vir ONS sondes nie?

By die beskrywing van die Heilige Gees se werk word sy heiligmakende werk byna heeltemal verswyg.

(Tweede verklaring: die Bybel): "Ons glo dat ons deur die Bybel leer wie God is." In die huidige gespreksklimaat beteken so ‘n uitspraak niks nie, tensy die woord "net" ingevoeg word: "net deur die Bybel". Anders sê ons niks meer as wat die meeste dwaalleraars ook erken nie.

"Ons glo dat God vandag nog deur die Bybel met ons praat." Die erkenning dat die Bybel God se enigste geopenbaarde (en afgeslote) Woord is, ontbreek weereens. Hierdie soort van verklarings oor die Bybel is van geen nut om die Skrif se volkome genoegsaamheid, sy absolute gesag, sy absolute noodsaaklikheid, of sy duidelikheid te bevestig nie.

"... deur mense geskryf is." Geen erkenning word gegee dat elke woord korrek en betroubaar neergeskryf is nie.

"dat die Bybel die blye boodskap is van God se liefde vir mense." Die blye boodskap is een van verlossing uit sonde, nie van "God is lief vir almal" nie.

"God se veroordeling van die kwaad." Weereens ‘n abstrakte onpersoonlike verwysing na "die kwaad" wat veroordeel word, terwyl dit tog die mens is wat onder God se oordeel staan. Christina Landman, wat meegewerk het aan die opstel van Geloofsverklaring 2000, verkondig openlik dat God niemand straf nie. Die kwaad word dan veroordeel, maar nie die mens wat die kwaad doen nie.

"... dele van die Bybel ... (aangebied) as vertellings oor die voorgeskiedenis ..." Die geskiedenis self word vervang met aanbiedinge van vertellings wat handel oor die geskiedenis. Daar word nie meer geglo dat God self die geskiedenis (presies soos dit is) aan Moses geopenbaar het en dat hy dit korrek en betroubaar neergeskryf het nie.

(Vierde Verklaring: die kerk): "... die nuus dat God almal liefhet ... aan een en almal te vertel." Die Skrif leer ons nie dat God almal liefhet en almal red nie. God haat die goddelose en red net sy uitverkorenes – dink byvoorbeeld aan Rom.9:13 waar die Here sê: "Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat".

(Sesde Verklaring: gebed): "Ons glo dat ons ook sonder woorde in die gebed van stilte die nabyheid van God beleef."  Dr Willem Nicol wat meegewerk het aan die opstel van hierdie geloofsverklaring, se propagering van "Christelike" meditasie is alom bekend. Die beskrywing: "die gebed van stilte" wat woordloos is, is nie hoe die Skrif ons leer om te bid nie.

(Agtste Verklaring: die mens): "Ons glo dat God ons volgens ‘n unieke plan geskep het." Die uniekheid van die mens lê daarin dat hy na die beeld van God geskep is. Die geloofsverklaring praat egter net van ‘n unieke plan, sonder om te sê wat die plan sou wees. Moontlik kan hier gedink word aan Darwin se ewolusieteorie, soos sommige teoloë wel doen.

"Ons glo dat die mens van nature in opstand teen God kom en sodoende verwyderd van God raak." Die leer van die erfsonde word hierdeur ontken. Dit sou korrek wees om te sê dat die mens (Adam) in opstand teen God gekom het (verlede tyd) en sodoende van God verwyderd geraak het (verlede tyd), terwyl God hom heilig en goed geskape het. Dit sou dan verder ook korrek wees om te sê dat ons na die sondeval in sonde gebore word en daarom van nature in opstand teen God is (nie "kom" nie) en daarom van God verwyderd is (nie "raak" nie). Soos Geloofsverklaring 2000 dit stel, beteken dit egter dat elke mens van nature ontwikkel tot ‘n sondaar en dan, deur wat hy doen ("sodoende"), verwyderd raak van God. So word die erfsonde ontken. Dit onderskei ook nie Adam se unieke posisie as verteenwoordiger van die mensdom nie, en ontken by implikasie dat God die mens heilig en goed geskape het na sy beeld.

(Twaalfde Verklaring: lyding en dood): "Ons glo dat ‘n gelowige nie vra na die sin van lyding nie ..." Volgens Geloofsverklaring 2000 is dood en lyding bloot "‘n tragiese feit" van ons bestaan. Dat die dood die straf op sonde is (Rom.6:23) en dat ons almal in Adam gesondig en gesterf het (Rom.5:12-19) word verswyg (en deur sommige nie meer geglo nie). Dan moet ‘n mens nie meer vra wat beteken die dood en lyding nie – dit is dan net ‘n tragiese feit!

(VeertiendeVerklaring: die huwelik): "Ons glo dat gelowige huweliksmaats nie behoort te skei nie. Waar dit wel gebeur, moet dit met die wete wees dat God dit anders wou gehad het ..." Nie mag skei nie word "behoort nie". Die wete dat God dit haat (Mal.2:16) word vervang met ‘n wete dat God "dit anders wou". Waar die Skrif praat oor die verhouding tussen man en vrou, word herhaaldelik beklemtoon dat die man die hoof van die vrou is en dat die vrou aan die man onderdanig moet wees (Ef.5:22-24; Kol.3:18; 1Tim.2:11-15; 1Kor.11:3, 7-9; 14:34,35; 1Petr.3:1,5). Omdat die meeste van die medewerkers aan Geloofsverklaring 2000 dit nie meer glo nie, het hulle dit totaal weggelaat uit hul beskrywing van man en vrou in die huwelik.

(Vyftiende Verklaring: seksualiteit) "Ons glo dat, hoewel gelowiges verskil oor wat die Bybel oor homoseksualiteit sê, homoseksuele mense kan weet dat God hulle liefhet ..." Eerstens word die suggestie gelaat dat die Bybel nie baie duidelik daaroor is dat homoseksualisme sonde is nie. Tweedens word die homoseksueel verseker dat God hom liefhet, terwyl die Skrif sê dat geen sodomiet (iemand wat homoseksualiteit beoefen) die koninkryk van God sal beërf nie (1Kor.6:10) en dat God sy toorn uitstort op sulke mense en hulle die dood verdien (Rom.1:18-32; Lev.20:13).

· (Sestiende Verklaring: die Christendom en ander godsdienste): "Ons glo dat ‘n mens die volheid van God slegs deur Jesus Christus leer ken en bekom."  Dr Willem Nicol, een van die opstellers, glo dat Moslems ook God ken en aanbid, hulle ken Hom net nie so volledig soos die Christene nie. Die verklaring soos hierbo geformuleer,  maak dus geen werklike skeiding tussen leuen en waarheid nie. Die woorde "die volheid van" laat die ruimte dat ander godsdienste God gedeeltelik kan ken en bekom sonder Christus.

· "Ons glo dat die lot van mense wat nie vir Christus ken nie, in God se hande is." ‘n Duidelike uitspraak dat sulke mense verlore gaan, word vermy (want sommige glo dit nie).

· "Ons glo dat ons graag ook met mense van ander godsdienste in die daaglikse lewe wil saamwerk ..." Die Skrif sê: Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?" (2Kor.6:14). Dat ander godsdienste afgodediens is en deur God vervloek is, sal Geloofsverklaring 2000 nooit erken nie. Toleransie is die wagwoord, behalwe as iemand dit waag om net die waarheid te praat.

Geloofsverklaring 2000 sien sigself as die beginpunt van ‘n proses. Almal word genooi om mee te gaan op die opwindende ontdekkingsreis van vrysinnige teologie. Die pad is breed. Almal is welkom. Die nuutste denkrigtings dien as kompas. Ongelukkig word lidmate in die duister gehou oor die beoogde bestemming. Die Skrif leer ons egter wel waar so ‘n pad eindig.

Hierdie artikel is geskryf en aangebied deur 'n Internetleser van ons blad, mnr Mendel Retief. Dit is met instemming en dank deur die redaksie aanvaar en gepubliseer.