Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

KULTUUR. OPENBARING
EN TOEKOMSVERWAGTING

-  DR CHRIS L JORDAAN  -

Kultuur as Godsdiens

Kultuur kan ten minste omskryf word as ‘n versorgende, wyse van lewensindienstelling deur volkere, families en enkelinge ooreenkomstig die eise en toekomsverwagting van elke bepaalde tradisie. Vanuit Bybels-christelike of ‘n gereformeerd-protestantse geloofsoortuiging kan kultuur omskryf word as ‘n gehoorsame of ongehoorsame, werkende, bewarende, beheersende wyse van lewensindienstelling tot God deur volkere, families en enkelinge afgestem op die eise en toekomsverwagting van 'n bepaalde tradisie.

Verskillende kultuurtradisies kan onder ‘n volk teenwoordig wees. Om dit te verstaan sal elke tradisie en kultuur aan sy kultuurbeskouing gemeet moet word. Elke kultuurbeskouing bepaal die verwagte kulturele eindbestemming ooreenkomstig die openbaringe van sy God of van 'n afgodiese verering.

Openbaring, die kultuurdominant en toekomsverwagting

Die kort beskrywing uit die historiese roman van Maurice Druon Alexandre Le Dieu (Alexander die God) bring sekere dinge oor Alexander die Grote (356-323 vC) aan die lig. Aristander van Temessos is benoem as die hoëpriester in die tempel van Alexander die God. Hy skryf die grafskrif van Alexander die Grote wat lees: "Ek het my by die gode Achilles, Herakles en Dionysus geskaar, Wierook is op my altare gebrand en my aanbidders is legio." Alexander die Grote sterf as ‘n god en wêreldheerser op die ouderdom van drie-en-dertig jaar. Volgens die oorleweringe van die tyd het hy saam met Aristander by elke oorwinning na die orakel (openbaring) in die tempels van die gode van die konings, wat hy oorwin het, gesoek. Die verhaal lui verder dat dit slegs voor die hoëpriester van Jerusalem, Jaddua, is wat Alexander neerkniel, die tempel ingaan en volgens die Joodse wette en voorskrifte ‘n offer bring aan die God van die Jode. So is die profesie van Daniël oor die Macedoniër uitgespreek. Hy sterf as mens op drie-en-dertigjarige ouderdom, as heerser en godheid van die grootste ryk van sy tyd. Die Helenistiese (Griekse?) kultuur word die fondament van sy ryk, maar dié verbrokkel na sy dood. Sy utopistiese toekomsverwagting van ‘n wêreldomvattende Helenistiese Ryk verval, maar die invloed van die Helenisme sou voortduur.

Jesus Christus sterf ook op drie-en-dertig-jarige ouderdom. Anders as Alexander is Hy volkome mens en volkome God en terselfdertyd die volkome openbaring van God, die Woord (Logos) wat mens geword het. Die openbaringe van God wat aan die mens gegee (die Woordopenbaring en skeppingsopenbaring) is in Christus omvorm tot ‘n toekomsverwagting van "Laat u koninkryk kom"! Die gemeenskaplike elemente wat die kultuurbeskouing bepaal is die godsbegrip (as kultuurdominant) wat deur openbaringe (woordopenbaring, skeppingsopenbaring en wetenskapsopenbaring) omskep en gerig word op ‘n (kultuur-) toekomsverwagting. Die kulturele toekomsverwagting van Alexander was gerig op ‘n Utopia, wat uit twee Griekse woorde bestaan eu of ou topos (plek erns = eutopos of plek nerens = ou topos), ‘n mensgemaakte en verwagte heilstaat of wêreldryk. Christus daarenteen openbaar ‘n eskatologiese toekomsverwagting. Die eindbestemming van die Bybels-christelike kultuurbeskouing is nie net gerig op die wêreld nie, maar op die eskatologiese (eskatos = laaste en logos = woord/kunde/leer) einde van alles "wanneer God alles in en vir almal sal wees". Dié kulturele toekomsverwagting voleindig in Openbaring 21, wanneer die "eer en heerlikheid" van die volkere tot verheerliking van God vertoon sal word

Die godsbegrip (as kultuurdominant) word deur die openbaringe (woord en natuur) in geloof (kennis en vertroue) gevorm en rig die kulturele eindbestemming (toekomsverwagting) van die handelinge van die mens. Beide, Alexander en Christus, sterf. Die een as ‘n (af)god met ‘n onvoltooide menseryk vir die toekoms. Die ander as God (wat mens geword het) onder ons kom woon het en die Godsryk as ‘n kulturele eindbestemming nou en vir die ewigheid hier kom vestig het. Die godsbegrip en die openbaringe van God staan in ‘n direkte verband met mekaar in die vorming van ons kultuurbeskouing. (Dit is nie die doel van hierdie aflewering om in verdere besonderhede daarop in te gaan nie, maar eerder om slegs die hoofpunte te beklemtoon).

.............................................
Kultuurbeskouinge onder die Afrikaner

Die tradisioneel historiese kultuurbeskouing van die Afrikaner (as gewortelde Calvinis) kan as teosentries beskryf word. Die teosentriese (God is die middelpunt) kultuurbeskouing van die Afrikaner word deur die "bril" van die geloofsbelydenisse (soos in die Drie Formuliere van Eenheid vervat) ) bepaal. God is vir die Afrikaner die God van die Skrif en die Skepping, die Verlosser en Onderhouer, die Trooster en die Voleinder van alle dinge. Die strewe en gerigtheid van die kul-tuurlewe "tot eer van God alleen" en "laat U Koninkryk kom" bepaal hierdie beskouing. Die Afrikaner is daarom inherent "christelik" in sy optrede en beskouinge oor die toekoms, die staat, die kerk, die skool en kultuur, die ganse persoonlike en volkslewe. Die kritiese vraag is of die teosentriese kultuurbeskouing nog die oorheersende kultuurbeskouing is, óf het dié wat nog daaraan vashou so verminder dat daar ‘n geslag is wat dit glad nie meer verstaan of glo nie?

Op enkele uitsonderinge na het die Engelssprekende (Anglo-Saksies en Anglo-Amerikaans)‘n Deïstiese godsbegrip. Hieruit spruit die geloofoortuiging dat God skepper en voleinder kan wees maar dat die mens self die "onderhouer’ van alle dinge is en sy toekoms self bepaal. Dit lei tot ‘n tipiese empiristiese en pragmatiese lewens- en wêreldbeskouing wat altyd bereid is om te "compromise". Die Deïstiese kultuurbeskouing van die Engelssprekende het deur kultuurvermenging reeds onder die "nuwe Afrikaners" posgevat waar algemene waardes en taal die gemeenskaplike samebindende faktor is en nie kultuur nie.

Die mees ingrypende kultuuropvatting wat onder die Afrikaner begin posvat is die "Christelik-humanistiese" kultuurbeskouing. (Of ‘n mens van ‘n Christelike Humanisme kan praat is ‘n ander vraag, tog word dit so beskryf). Die "kultuur van menseregte" soos dit in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996) beskryf word, word ewe maklik as "christelik" aanvaar. Die "Christelik-humanistiese" kultuurbeskouing gaan van die veronderstelling uit dat God bestaan en dat Jesus God se karakter openbaar het.

Die godsbegrip van dié opvatting is dat die mens planner, bouer en vestiger van sy eie heil en heilstaat moet wees. Die toekomsverwagting van hierdie benadering is dat die mens op pad is om ‘n eie "utopia", of wêreldomvattende welsyns- en welvaartstaat te ontwikkel waar in aan al die menslike behoeftes, verwagting en geloofsuitinge voldoen sal kan word. Die mens self is daarom die kern en die betekenis van sy bestaan volgens die "regte" wat God aan die mens sou gegee het.

Is ‘n Bybels-Christelike kultuurbeskouing nog moontlik? Die Afrikaner-christen staan vandag voor die keuse of hy nog ‘n Bybels-christelike kultuurbeskouing het of kan handhaaf of dat sy kulturele eindbestemming reeds aan volksvreemde kultuurbeskouinge aangepas is. Die vraag kan alleen positief beantwoord word indien ons aanvaar dat alle Calvinistiese tradisies in die Verbond gewortel lê. Verder moet alle kultuurbeskouinge aan die teosentriese kultuurbeskouing getoets word. Dit kan alleen gedoen word indien dit vanuit ‘n suiwer Skrifbegronde en suiwer Teïstiese godsbegrip kom. Indien die godsbegrip wat die kultuurbeskouing rig (determineer) die openbaring deur Skrif en skepping en die belydenisse teenstaan, kan dit tot ‘n utopistiese toekomsverwagting lei. Verander ‘n volk se godsbegrip dan verander daardeur ook die kern van sy kultuuropvatting en kultuurlewe.

Dit is nodig om later verder te kyk na die rol van die "kontra-kultuur" as grondslag van die  kultuurvermenging en kultuurvernietiging en die invloed op die kultuur lewe van die Afrikaner-christen.