|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
SAMELEWINGSVERBANDE
PROF DR LF SCHULTZE (TS POTCHEFSTROOM)
In: "Teologie in Stroomversnelling"
Potchefstroom 1981, bl 28/29
Die mens is deur die Here in verskillende samelewingsverbande op aarde geplaas. So leef hy in 'n gesinsverband, familieverband, nasie- of volksverband en ook in 'n wêreldverband. Binne elkeen van hierdie samelewingsfere moet hy sy roeping en taak as gelowige volbring, sonder om enigeen van hierdie samelewingskringe ten koste van die ander te verabsoluteer.
So verabsoluteer die humanistiese liberalisme die enkeling, sy vryheid en sy selfbeskikkingsreg. Omdat die enkeling primêr gestel word, word alle groepsverbondenheid eintlik gerelativeer en is die liberalisme uitgesproke antinasionaal. Hulle bepleit 'n wêreldbroederskap wat eintlik nie 'n groot geheel beteken nie maar bloot beteken dat alle mense vry sal wees en dat elke individu kan doen wat hom behaag.
Die rassisme verabsoluteer weer die eie ras (swart of wit) en beskou die eie ras as besonder waardevol, met unieke karaktertrekke en as geregtig om eintlik bo ander rasse die toon aan te gee. Op dieselfde manier gaan die oordrewe nasionalisme met die eie nasie te werk.
In hierdie doolhof van ideologieë en opvattinge sal die Christen sy pad versigtig moet wandel. Ons sal moet erken dat, net so min as wat dit sondig is om aan 'n gesin en aan 'n familie te behoort, net so min is dit op sigself sonde om aan 'n ras te behoort en om jou met daardie bepaalde volk te identifiseer en jou ook met hom verbonde te voel. Die groot saak is dat ons hierdie aardse verhoudinge sien in hulle geskape-wees deur God, in hulle relatiwiteit en dat ons oral in al hierdie verhoudinge ons verantwoordelikheid en ons roeping teenoor die Here moet nakom.
Wanneer ons so in die nederigheid van die geloof lewe, sal ons nie net as individue bereid wees om mekaar te dien nie maar sal ons ook as nasies aan mekaar diensbaar wees en ook as rasse mekaar dien vir sover die Here dit op ons pad lê. Alleen op hierdie wyse kan daar gesonde menslike verhoudinge gebou word en kan die gelowiges iets laat blyk van die vrede van die koninkryk van die hemele.