Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

WOORD EN WETENSKAP

AAN DIE BEGIN WAS DAAR INLIGTING

-  PROF TE CLOETE  -

In die natuurwetenskappe kry ons te doen met, wat ons noem, wette van die natuur. ‘n Natuurwet beskryf ‘n waarheid wat slegs deur herhaaldelike waarneming bevestig kan word. Natuurwette het baie alledaagse toepassings. Eerstens help dit ons om natuurlike gebeurlikhede te verstaan (byvoorbeeld swaartekrag). Natuurwette stel ons ook in staat om voorspellings ten opsigte van sekere prosesse te kan maak (byvoorbeeld indien ons ‘n klip laat val, kan ons die spoed waarteen dit sal val na ‘n sekere tyd bereken). Verder maak natuurwette tegniese ontwikkeling moontlik (byvoorbeeld wanneer ‘n ingenieur ‘n brug of gebou ontwerp, maak hy staat op natuurwette). So is daar tientalle gebruike vir natuurwette waarop ek nie verder gaan uitbrei nie. Natuurwette word normaalweg deur kundiges in ‘n bepaalde dissipline geformuleer. So, byvoorbeeld, het Rudolf Clausius in 1850 die tweede wet van termo-dinamika beskryf. So ook bestaan daar ‘n natuurwet vir inligting. Die leser sal weldra agterkom wat die natuurwet vir inligting te doen het met die skepping van die mens.

Eers net die een en ander met betrekking tot die natuurwet vir inligting. Om te verduidelik wat inligting is, wil ek graag begin met die konsep van ontwerp. Vandag weet ons dat alle ontwerpe ‘n intellektuele oorsprong het, ongeag of dit ‘n vuurpyl, ruimtetuig, motor, huis, brug of fiets is. Ons weet van geen ontwerp wat nie ‘n intellektuele oorsprong gehad het nie. Ontwerpe, het weer op hulle beurt, altyd ‘n gedetailleerde plan, aangaande dit wat ontwerp is, sodat dit met herhaalbaarheid vervaardig kan word. Planne, op hulle beurt, bevat altyd inligting. Die basis (fondament) van alle ontwerpe is dus inligting. Dit impliseer dat die ontwerp intellektueel ontstaan en geënkodeer word in ‘n plan wat inligting bevat, wat intellektueel gedekodeer kan word. Deur herhaaldelike observasie kan ons hieruit begin om die natuurwet vir inligting te beskryf: naamlik, dat alle inligting ’n intellektuele oorsprong (sender) het, wat deur ‘n intellektuele dekodeerder (ontvanger) verstaan kan word.

Indien ons nog ‘n bietjie dieper wil delf, kom ons agter dat inligting op sigself ‘n verdere vier voorvereistes het. Indien die 26 letters van die alfabet bloot op ‘n tafel uitgegooi sou word, dan het ons nog nie inligting nie. Ons sou wel ‘n statistiese stelling kon maak, deur te sê, dat ons ‘n onewekansige versameling van die 26 letters van die alfabet op ‘n tafel het. Dit is eers wanneer ons hierdie letters in ‘n herkenbare woord (kode) rangskik, dat dit begin sin maak. Die sin lê dan verder in die funksionele gebruik van die woord of woorde. In die geval van die alfabet, sal dit die funksionele geskrewe woord (kommunikasie) wees. Hieruit kan ons aflei dat inligting bestaan uit vier elemente, naamlik statistiek, syntax, herkenning en funksie. Om dus die natuurwet van inligting op te som: inligting het altyd ‘n intellektuele oorsprong en ‘n intellektuele ontvanger en bestaan uit statistiek, kodering, herkenning en funksie.

Die vraag is nou, wat bogenoemde te doen het met die skepping van die mens. Die antwoord is eenvoudig, Indien die mens voldoen aan die vereistes vir ‘n ontwerp, dan beteken dit dat daar ‘n meesterplan bestaan, wat gebaseer is op inligting. Meer belangrik, beteken dit dat die mens nie toevallig kon ontstaan het nie, maar dat die mens ‘n intellektuele oorsprong het.

Indien ons die mens bloot vanuit ‘n oppervlakkige ontwerpsoogpunt beskou, kan ‘n mens nie anders as om verstom te staan oor die kompleksiteit van dié "ontwerp" nie. ‘n Mens sou boekdele kon skryf oor die werking van die oog, die oor, die brein, die verteringstelsel, ensovoorts. Die beste manier om die kompleksiteit dalk te illustreer, is die feit dat geen ander ontwerp soveel studie verg om te verstaan hoe dit in mekaar steek, as juis die mens nie. Vra maar vir enige mediese dokter hoeveel studie dit behels, om ná ses jaar nog maar gedeeltelik die mens se fisiese liggaam te kan verstaan. Verdere spesialisasie op enkele "onderdele" van hierdie "ontwerp" is gewoonlik nodig, voordat daar aan hierdie "onderdeel" geopereer mag word. Die kompleksiteit van die mens as "ontwerp" word verder bevestig daarin, dat die werking van die brein nog ’n groot geheim vir die moderne wetenskap en tegnologie gebly het.

Ons weet egter, dat ‘n ontwerp nie ‘n ontwerp is, sonder dat daar ‘n gepaardgaande plan, wat op inligting gebaseer is, bestaan nie. Die vraag is dus: Is die mens se "ontwerp" gebaseer op ‘n plan wat inligting bevat? Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om te weet dat inligting op verskeie maniere in 'n geheue gebêre (safed) kan word (byvoorbeeld op ‘n video, ‘n kompakte skyf, ‘n bandmasjien, ensovoorts). Dié inligting word dan gewoonlik in die vorm van ‘n kode gestoor (byvoorbeeld hiërogliewe, binêre kode in die geval van rekenaars, bladmusiek, simbole soos in die geval van Grieks, Hebreeus, Chinees en ander geskrewe tale, ensovoorts). Die feit dat inligting abstrak is, dus nié materie nie, maak dit moontlik om inligting op verskeie maniere te enkodeer en dit op verskeie maniere te stoor.

In 1952 maak twee jong wetenskaplikes, by name Watson en Crick, een van die belangrikste wetenskaplike deurbrake in die mens se geskiedenis. Hulle beskryf vir die eerste keer die struktuur van genetiese materiaal, oftewel die kode van lewe. Basies bestaan dié kode uit vier molekules (nukleïensure) wat met waterstofbindings in pare aanmekaar verbind is. Die rangskikking van dié vier molekules bepaal al die eienskappe van ‘n organisme, asook die uniekheid daarvan. Vandag is wetenskaplikes dit eens, dat die genetiese kode, die mees effektiewe manier is om inligting te stoor. Die een meter lange genetiese kode, in elkeen van ons biljoene selle, bevat 3000 miljoen van hierdie nukleïensure pare. Daar bestaan tans geen sisteem wat meer inligtings-intensief is as die genetiese kode van die mens nie. Geen rekenaar, tot op hede, het byvoorbeeld genoeg geheuekapasiteit om dié inligting in een sel van die mens te kan stoor nie. Microsoft en Hulett Packard het beide multimiljoen dollar navorsingsprojekte aan die gang, om die moontlikheid te ondersoek, om rekenaars se kapasiteit te verhoog, deur inligting te stoor, soos dit in die genetiese kode gestoor word. Dit op sigself is bewys daarvan dat die genetiese kode ‘n inlig-tingsisteem is. As ons dus konsekwent wil wees, as wetenskaplikes, kan ons nie anders, as om hieruit af te lei, dat die mens nie maar toevallig ontstaan het nie, maar dat die mens en alle ander lewe ‘n intellektuele oorsprong het, waarvan die wysheid, soos weerspieël in die kompleksiteit van die genetiese kode, alle ander wysheid (intellek) in die orde van groottes oortref.

Dit is ook interresant om daarop te let, dat die meeste Bybelverse wat met die skepping te doen het, ook ge-koppel is aan die intellek. Onder andere Psalm 104: 24: "Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele." Spreuke 3: 19: "Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel."

Die Bybel bevat natuurlik, soos enige ander boek, ook inligting. Dit is immers die boek waarin God (die sender) homself aan die mens (die ontvanger) openbaar. En omdat God die intellektuele oorsprong van die Bybel is, maak dit die Bybel ‘n haas ongelooflike kragtige boek, wat daartoe in staat is om wonderwerke in mense se lewens te bewerkstellig. God gee dan ook aan die mens die gawe om as ontvanger van hierdie inligting te funksioneer, dit te vermenigvuldig en daarmee te werk.

Wat ‘n wondelike voorreg om as wetenskaplike, objektief te kan staan en te weet, dat God die oorsprong van alle lewe is en om sy grootheid in die skepping te kan raaksien en Hom daarmee te mag dien. ‘n Liefdevolle God, wat sy eniggebore Seun gestuur het om te sterf vir die menslike sondeskuld, sodat ons gered kan word om die ewige lewe te kan erf en reeds die saligheid in ons aardse lewe in beginsel te mag ervaar.