Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

BOEKBESPREKING

POPULêRE AFRIKAANSE BYBELS EN KOMMENTARE: DRAERS VAN 'N VREEMDE SKRIFBESKOUING

DS T DANZFUSS  -  NG KERK WITFIELD

(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)

In die eerste aflewering wat in die vorige uitgawe van Die Kerkpad verskyn het, is melding gemaak van minstens ses resente Afrikaanse publikasies van Bybelvertalings en kommentare. Al ses hierdie publikasies is geskrywe deur goeie en bekende Afrikaanse teoloë. Ongelukkig is daar in al ses die publikasies sekere tendense wat die teologiese en Skriftuurlike betroubaarheid van hierdie werke op die spel plaas.

Die invloed wat die resultate van die Skrifkritiek op hierdie publikasies uitgeoefen het, is in verskeie dele duidelik aanwysbaar.

Die sug na popularisering het gemaak dat die skrywers vir hulself vryheid veroorloof wat alle perke van 'n betroubare Bybelvertaling totaal oorskry.

Die feit dat daar so 'n noue verband tussen Skrifbeskouing en metodiek van Bybelvertaling is, maak dat hierdie "vertalings" nou ook draers van 'n vreemde Skrifbeskouing geword het.

Daar kan talle voorbeelde aangetoon word waar die grens tussen vertaling en eie (subjektiewe) verklaring van bepaalde Skrifdele nie eerbiedig is nie. Wanneer 'n vertaling nie ook die tipe taal wat God self vir die oorspronklike teks gekies het, probeer handhaaf nie, tas dit die inspirasie van die Bybel aan. Sheehan het presies dieselfde probleem gevind by sekere van die moderne Engelse vertalings. Hy stel dit so: "Bible translators have a very difficult tightrope to walk. The modern tendency is to slip over far too often from being translators to being interpretors. What is ambiguous in the original language should be ambiguous in the receptor language. What is hard to understand in the original should be hard to understand in the translation - (see 2 Peter 3:16)."1

Hoewel die meeste van die skrywers van hierdie publikasies nog glo en bely dat die Bybel God se Woord is, word daar nie in die vertalings rekening gehou met die praktiese implikasies van so 'n belydenis nie! Selfs in gewone sekulêre vertalings respekteer mens die outeur van die boek deur sy eie woorde so akkuraat moontlik te vertaal, maar "In modern world many Bible translators have shifted the emphasis from God, the giver of Scripture, to man, the receiver." (Sheehan, p. 96 ).

Wanneer vertalers, al word dit ook hoe goed bedoel, allerlei verduidelikings by die teks byvoeg, of moeilike problematiese woorde en uitdrukkings weglaat of met "maklike uitdrukkings" vervang, dan oorskry hulle die grens van vertaling en beweeg hulle hul op die terrein van parafrases en verklarings. Met so 'n poging tot eie Skrifinterpretasie sou daar op sigself geen probleem wees nie, maar wanneer dit die wêreld ingestuur word as 'n betroubare vertaling van die oorspronklike teks, dan grens dit aan laster. As elke vertaler nou maar kan verduidelik, byvoeg en weglaat na eie goeddunke, dan sal diegene wat nie die oorspronklike tale kan lees nie, binnekort glad nie meer weet wat daar regtig in die Bybel staan en wat nie. Die leser van 'n Bybelvertaling het die reg om te weet dat hy so na as moontlik die oorspronklike skrywer se woorde lees, selfs al is baie daarvan vir hom nie onmiddelik heeltemal verstaanbaar nie. As hy wil hoor hoe teoloog X en teoloog Y dit vertolk, dan gaan luister hy na hulle preke of lees hulle kommentare.

As ons na die gesamentlike resultaat van al bogenoemde tendense kyk, dan is dit duidelik dat ons ten diepste te make het met 'n verskuiwing weg van die Gereformeerde Skrifbeskouing ten gunste van 'n meer liberale Skrifbeskouing waarvolgens die Bybel nie meer die Woord van God is nie, maar slegs die Woord van God bevat. Hierdie vermoede word bevestig deur die Skrifkritiese hantering van die Bybel. Die Bybellennium sê bv. oor Hosea 1:1: "Die boek Hosea begin met die versekering dat dit die woorde van die Here bevat." Die teks self sê nie dat dit die Here se woorde bevat nie, maar dat dit Sy woorde is! Hoewel die Skrifkritiese benadering onmiskenbaar die uitgangspunt was in die verklaring van verskeie dele, word hierdie metode ook nie konsekwent toegepas nie. Mens kry die indruk dat gepoog is om 'n middelpad te soek tussen die suiwer Gereformeerde Skrifbeskouing en die liberale Skrifbeskouing van die historiese kritiek. Moontlik het dit te doen met die feit dat die teoloë wat aan hierdie publikasies gewerk het nie almal dieselfde teologiese uitgangspunte het nie.

Waar ons in die eerste artikel gewys het na enkele voorbeelde in Die Bybel in Praktyk, wys ons nou op enkele voorbeelde uit Die Boodskap en uit Die Nuwe Testament vir kinders ... In 'n taal wat hulle verstaan.

1. Die Boodskap:

Die opskrif op die buiteblad is "Die Nuwe Testament in hedendaagse Afrikaans". Hierdie boek word dus nie aangebied as 'n kommentaar op die Bybel, of 'n parafrase van die Bybel of 'n interpretasie van die Bybel nie, maar as 'n betroubare vertaling: "God se Woord in alledaagse Afrikaans". In die openbare media was dit ook oor en oor bekendgestel as 'n nuwe vertaling van die Bybel in hedendaagse Afrikaans. Terwille van ons algemene leserspubliek haal ons nie die Griekse teks aan nie. Aangesien die ou vertaling meer woord vir woord as idiomaties vertaal is, kan die afwyking van die oorspronklike teks vir die gewone lidmaat, duideliker deur die ou vertaling geïllustreer word. Die dele wat kursief vermeld een tewens onderstreep is, dui op dele wat nie in die oorspronklike teks staan nie, maar bygevoeg is.

Matt 6:19-21 (Ou Vertaling - 1933/54): "Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees."

Matt 6:19-21 (Die Boodkap - 1997): "Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Dit is dom. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op, en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle'n bankrekening in die hemel oop, daar by God. Geen dief kan daar inbreek om iets te probeer steel nie. Daar is ook nie inflasie wat julle skatte se waarde kan laat minder word nie. En niks word daar ooit oud nie. God self pas julle skatte op. So, spring nou dadelik aan die werk. Leef elke dag voluit vir God. Dis die beste belegging wat julle ooit kan maak. Dan is julle kort voor lank hemelse milioenêrs. "Daar is twee soorte skatte wat julle kan versamel: hemelse skatte, wat vir altyd hou, of aardse skatte, wat nie vir altyd hou nie. Watter soort maak julle bymekaar? Hier is 'n vinnige toets vir julle om vas te stel: Waaroor praat julle die meeste van die tyd? Waaroor dink julle van vroeg tot laat? En waaroor bekommer julle julle die meeste? "Beantwoord hierdie vrae eerlik. Dan het julle die antwoord. Dan weet julle waar julle julle 'rekening' oopgemaak het."

Selfs die skrywer van 'n gewone sekulêre boek sal erg beledig voel as sy woorde so "vertaal" word. Byna al die tendense wat hierbo genoem is kan in hierdie voorbeeld gesien word. Ek is oortuig dat selfs 'n eerste jaar student in Grieks, sy eksamen sal druip as hy dit sou waag om die oorspronklike teks te vertaal met soveel byvoegings en verduidelikings. Hierdie lyk meer na 'n klaspreek oor Matt 6:19-21 as 'n vertaling daarvan!

Nog 'n voorbeeld van onaanvaarbare vrysinnigheid in Die Boodskap vind ons in die volgende vergelyking:

Markus 10:25 (Ou Vertaling): "Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom."

Markus 10:25 (Die Boodskap): "Om die waarheid te sê, 'n olifant sal eerder deur die oog van 'n naald kan stap as wat 'n ryke in God se nuwe wê reld kan instap."

Op grond waarvan word "kameel" skielik met "olifant" vertaal? Daar bestaan nie so 'n uitdrukking of idioom in Afrikaans nie. Hier is 'n duidelike voorbeeld van 'n vertaler wat probeer om prediker te wees. Om die Koninkryk van God te vertaal met "God se nuwe wêreld" is ook 'n geweldige verskraling van die oorspronklike teks.

Selfs Die Bybellennium wat so pas verskyn het, erken nou ook dat Die Boodskap nie as 'n vertaling of selfs as 'n parafrase gesien kan word nie, maar eerder as 'n verwerking van die Bybel. Of dit nou 'n verwerking of 'n verdraaiing genoem word maak seker nie saak nie. Die feit is dat dit nie voldoen aan die vereistes om 'n vertaling genoem te word nie. Waarom word lidmate nog steeds verlei deurdat dit as 'n vertaling aangebied word?

2. Voorbeelde uit "Die Nuwe Testament vir kinders... in 'n taal wat hulle verstaan."

In die inleiding van hierdie publikasie skryf die medewerkers self as volg: "Die Nuwe Testament vir kinders is 'n vertaling van die Nuwe Testament wat kinders sal kan verstaan en geniet. Ons het groot respek vir die Bybel as God se Woord, daarom het ons probeer om die Bybelse boodskap so getrou as moontlik in maklike Afrikaans te vertaal." In hierdie kort paragrafie word twee keer uitdruklik daarop aanspraak gemaak dat dit 'n vertaling is.

Matt 1:1 (Ou Vertaling): "Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham ..."

Matt 1:1 (Die Nuwe Testament vir kinders): "Jesus is die be-langrikste mens wat nog ooit gebore is. 'n Mens kan maar net kyk wie sy oupagrootjie en al sy oupas hier op aarde is, dan sien jy hoe belangrik Hy is. Selfs koning Dawid en Abraham is deel van sy familie. Maar weet jy, Jesus is nie sommer 'n gewone mens nie. Nee, God het Hom spesiaal na ons toe gestuur sodat ons vir altyd sy kinders kan wees. Jesus is die Een wat ons help sodat God nie meer vir ons kwaad is oor al die lelike dinge wat ons gedoen het nie."

Daar is geen manier waarop die onderstreepte dele uit die oorspronklike teks vertaal kan word nie! Geen outeur wat sy eie woorde ernstig neem sal so 'n verdraaiing van sy woorde duld nie! Al is alles wat gesê is waar, is dit nog nie waar dat dit in die betrokke teks staan nie! Om die betrokke teks so te vertaal is 'n leuen. Wie gee enige teoloog die reg om God se Woord so te verdraai?

Kom ons kyk na een van die voorbeelde van weglatings uit die oorspronklike teks.

In Rom 1 word gepraat oor die sonde van homoseksualisme. Die NT vir kinders is opmerklik swygsaam oor wat daar werklik in die oorspronklike teks staan. Daar is nie 'n manier hoe die kinders sal weet dat Paulus daar ook praat van die sonde van homoseksualisme nie. Die onderstreepte dele is doelbewus weggelaat. Waarom??

Rom 1:26-27 (Ou Vertaling): "Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang."

Rom 1:26-27 (Nuwe Testament vir kinders): "God laat toe dat slegte mense doen net wat hulle wil. Daarom doen party mans lelike dinge met mekaar. Party vroue ook. God wil nou niks met hulle te doen hê nie."

In die volgende opvolgartikel beplan ons om meer te konsentreer op Die Bybellenium.

1 Sheehan, RJ:  The Word of Truth
Evang Press 1998, p 97