|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
Hoofartikel
GESAG EN BEVOEGDHEID
Ongetwyfeld moet ons aanvaar dat die gesag wat deur die huidige regering uitgeoefen word in skriftuurlike sin wettig is. Dit is wettig in dieselfde opsig as die Romeinse owerheid in die dae van Paulus, toe hy - deur die Heilige Gees gedrywe - Romeine 13 geskryf het. Daar is egter een opmerklike verskil wat in rekening gebring moet word. Die imperium van die Romeine was gevestig deur middel van gewelddadige verowering en oorheersing. Vandag se imperium van die "nuwe" Suid-Afrika is gelegitimeer deur die uitslag van "demokratiese" verkiesings. As ons dus sinvol oor die saak van gesag en bevoegdheid wil oordeel, is die basis, die grondslag van die stelsel, die "demokratiese bedeling", die primêre vraagstuk van oorweging.Demokrasie is 'n begrip wat sy eerste politieke betekenis by die Griekse sofiste, by name Plato en Aristoteles, gekry het. Dit was veral met betrekking tot die regering van die stadstaat Athene. Die wese van die Atheense demokrasie was daarin geleë dat die kratos (mag, heerskappy) in die hande van die demos (gewone mense, Latyn: plebs) berus het. Plato onderskei dit as Wetgebonde en Wettelose demokrasieë. Eersgenoemde behels die regering deur die massa armes, dog mense wat hulle aan die wette van die staat gebonde ag. Daarenteen die laasgenoemde begrip, regering deur die massa armes, maar mense wat hulle aan die wette van die staat nie gebonde ag nie. Die wettelose demokrasie was ter sake in die tyd van Plato se optrede, vanaf omtrent 400 tot 347vC. Hierdie wetteloosheid het onder andere daaruit bestaan dat die Volksvergadering hom deur niks laat bind het nie en baie willekeurige en selfs onregverdige besluite geneem het. Plato het ten enemale die demokratiese stelsel verwerp, omdat dit vir hom - net soos vir ander Griekse filosowe - die regering deur die selfsugtige, eiesinnige, wispelturige, onbekwame en verstandelose massa beteken.
Calvyn het ook nagedink oor die politiek van sy dae. Hy het dit in skriftuurlike perspektief gestel, wat sy betekenis tot vandag toe behou. Hy praat nie van regte van onderdane teenoor hul regering nie. Hy het eerder mense se pligte met betrekking tot staatkundige aangeleenthede beklemtoon. Die onderdane en die owerhede het naamlik, volgens Calvyn, pligte in die staatsbestel, nie regte nie. Wanneer sommige skrywers Calvyn se menings na moderne politieke ontwikkelinge uitbrei, het hulle, volgens Groen van Prinsterer, bes moontlik gelyk as hulle sê dat parlementêre demokrasie sy goedkeuring sou wegdra, solank dit nie parlementêre soewereiniteit - 'n vorm van regering deur die volk - impliseer nie. In die Christelike staatsfilosofie bestaan daar nie so iets soos regering by die grasie van die massa stemgeregtigde individue nie. "Die grondslag van die burgermaatskappy is die stemreg en die enigste sement van die samelewing, die materie, geld! ... 'n Sodanige 'demokrasie' verafsku ek. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is", aldus Groen van Prinsterer (1868).
In Christelike opsig is die staatkundige model van die "demokrasie" nie voorskriftelik nie. Dit was nie van toepassing in die tyd van Jesus Christus se bestaan op aarde nie. Trouens, indien dit wél die geval was, sou 'n (hipoteties) Joodse Vryheidsbeweging sterke ondersteuning geniet het. Selfs van Jesus se dissipels het aanvanklik in Hom 'n aardse verlosser van die Romeinse oorheersers gesien. So ook Herodes, wat Hom as die gebore "Koning van die Jode" probeer het om te vermoor. Nogtans skrywe Paulus in Romeine 13 oor die plig tot burgerlike gehoorsaamheid. Maar wel bestaan daar 'n verskil tussen passiewe gehoorsaamheid onder gewelddadige oorheersing, teenoor dié van deelnemende volksoewereiniteit. In die eerste geval verplig dit nie tot medeverantwoordelikheid vir die grondslag en beleid van die regering nie, wat in dié ander wél ter sake is. In die geval van 'n demokratiese bedeling dien die parlement en die regering as gevolmagtigde van die kieserstotaal. Buitendien is die huidige "demokrasie" 'n stelsel wat wesenlik anti-Christelik is. Dit verteenwoordig 'n nuwe wêreldorde wat op godsdienstige terrein antiteties staan teenoor die waarheid van die Bybel en die norme en gebooie wat daarin vervat is. Omdat hierdie "demokrasie" op 'n fondament van veelgodedom en humanistiese menseregte gebou is, beteken die vrywillige deelname daaraan - selfs in opposisionele hoedanigheid - medeverantwoordelikheid aan 'n bedeling wat God en sy Woord verag en verwerp. Prinsipieel beskou, is dit dus geen vorm van burgerlike ongehoorsaamheid of dalk van piëtisme nie, om jouself van hiérdie "demokratiese" stelsel afsydig te hou.
Die gehoorsaamheid aan die Goddelike norme en gebooie geld ewenwel aan altwee kante. Sowel aan dié van die owerheid as van die onderdane. Die owerheid verteenwoordig die gesag in die openbare samelewing. Maar dié gesag is nie onbegrens nie. Net so is ook die gehoorsaamheid geen verpligte "kadawerdissipline" nie. Aan altwee kante geld die hoogste gesag van God, soos Hy dit in sy Woord geopenbaar het. Dit is immers nie so, dat op die terreine van die staat en samelewing ander norme geld as op dié van die per-soonlike en kerklike bestaan nie? Dit is net in die toepassing waar dit verskil. Die regering is in die uitoefening van sy gesag deur die Here geroep om die goeie orde van die samelewing deur middel van die wetgewing en uitvoerende magte te handhaaf. Maar sodra die owerheid ingryp op die gesag wat ouers oor die opvoeding en onderwys van hulle kinders het, en sodra hy ingryp op die gesag van die kerklike regering volgens die Woord van God, dan oorskry hy sy Goddelike bevoegdheid en dan mag hy, ja dan móet hy in die Naam van die Here weerstaan word.
Openlike weerstand teen die regering raak nou relevant met die oog op die voorgestelde wetgewing oor "Gelykheid". Dit betref die gelykheid en gelyke beregtiging van godsdienste en aanbidding, van geslagte, hetero- en homoseksualiteit. Dit strek sover dat verskil hieroor reeds as haatspraak getipeer is. Sodra die regering daadwerklike toepassing van hierdie wette wil opdwing aan die kerke, asook in persoonlike, gesins- en familieverbande, dan oorskry hy sy bevoegdheid en móet hy weerstaan word. Dit geld egter ook waar die owerheid nie effektief na die veiligheid van sy burgers kan of wil omsien nie. Dan is onderdane in Christelike sin geregtig en verplig om hulle eiendomme en gesinne te beskerm teen terreur wat uitgeoefen word. Daarom is dit 'n ongeoorloofde regeringsbesluit, die voorgestelde wetgewing ten aansien van die besit van vuurwapens vir selfverdediging van wetsgehoorsame burgers. As dit bedoel is en dien om mense weerloos te maak teen misdaad en geweld wat uitgeoefen word, dan oorskry die owerheid ook daarmee sy bevoegdheid.
Hoewel die opposisie in die Parlement, as dit in skriftuurlike opsig reg hanteer word, na waarde geskat en gewaardeer kan word, bly dit tog 'n onbetwyfelde feit dat dit 'n geveg teen die magte van die duisternis is. Die deelname aan die parlementêre stelsel, verplig by voorbaat tot aanvaarding van sy grondslag en die heersende orde. Dit betref die aanvaarding van die Grondwet met sy verskanste akte van die klousules oor menseregte, wat alreeds die erkenning van godsdiensgelykheid insluit. Ook word die minderheid geag om hom aan die meerderheidsbesluite te onderwerp. Dit is die wyse waarop oor die wetgewing, die handhawing van wet en orde in die openbare samelewing besluit word. Die vraag wat kwel is dié van die geloofsgehoorsaamheid, van die prinsipiële koers in die huidige krisis van ons bestaan. ®