|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
KERKLIKE JOERNAALDIE NASIONALE SINODE VAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA (GKSA)
10 TOT 20 JANUARIE 2000
Verslag en Kommentare versorg en aangebied
deur ds Sarel Cilliers
Nagmaal | Vrou in die
Kerk | 1991 Apartheidsbesluite
Herderlike Brief | Kerksang
Die afgelope Nasionale Sinode van die GKSA te Potchefstroom, op 10 tot 20 Januarie in die Sinodesaal, kan met groot dankbaarheid as Skrifbehoudend getipeer word. Die Moderamen het bestaan uit die predikante, dr Jan Ras (Kimberley) Voorsitter; dr Tjaart van der Walt (Pretoria-Wapadrant) Ondervoorsitter; dr CJ Smit (Noordbrug) Skriba; ds PJ van der Walt (Bethlehem) Adjunk Skriba.
Die aanloop tot dié sinode was inderdaad spannend, gesien in die lig van 'n al duideliker en selfs sterk uitgesproke tendens van twee stromings. Mens kan terugdink aan verskeie artikels en briewe in dié verband in die kerklike en sekulêre pers. Dit is onder andere ook die rede vir die ontstaan en voortbestaan van ons blad, DIE KERKPAD, wat nie geskroom het om skerp polemiese standpunte te stel en te verantwoord teenoor die Skrifkritiek en alle destruktiewe vernuwings wat nie ooreenkomstig die Skrif, die inhoud van die Gereformeerde belydenisskrifte en die kerkorde is nie en derhalwe nadelig vir die handhawing en uitlewing van die Gereformeerde geloof.
Hierdie onderskeie strominge was wel duidelik merkbaar in verskeie besprekings soos oor die gebruik van die beker en/of kelkies tydens nagmaalvierings, die vrou al dan nie in die kerklike ampte, die independentistiese optrede van verskeie kerke en die invoering van buite-Bybelse liedere in die erediens. Alhoewel met dankbaarheid getuig kan word van 'n Skrifbehoudende sinode het die standpunte van sommige deelnemers aan sekere besprekings mens beslis diep bekommerd gestem.
Verskille sal daar inderdaad altyd wees. Sulke verskille is soms ook heilsaam en stimulerend. Dit verskaf dan aanleiding om met mekaar gepraat word oor die gemeenskaplike geloof aan die onfeilbaaarheid van die Heilige Skrif. Verder moet die oogmerk temidde van verskille nie soseer wees om net maar nader aan mekaar te kom nie, maar wel om nader aan die Skrifwaarheid oor bepaalde sake te kom. Skrifgelowiges, wat sou verskil, sal dan ook inderdaad nader aan mekaar beweeg. Slegs oor enkele van die belangrikste agendapunte word hierna gerapporteer en kommentaar gelewer.
DIE NAGMAALSBEDIENING
Na langer as ses jaar se werk deur studiedeputate en lang besprekings op verskeie sinodes met urelange werk deur kommissies tydens die sinodesittings is die uiteindelike besluit soos volg geformuleer: "In plaas daarvan om in 'n bepaalde voorskriftelikheid te verval, verkies die Sinode in die lig van NGB art 32, om kerke in hulle uitvoering van KO art 62 ( Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat na die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby hoort, gelees moet word) van advies te dien deur 'n prinsipiële raamwerk - soos hieronder uiteengesit - te stel.
Prinsipiële raamwerk ten opsigte van die wyse van Nagmaalsviering
Inleidend:
"Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet" (NGB, art 35;
HK Sond 25 - 29). Die brood en wyn moet as tekens en seëls van die liggaam en bloed van Christus gebruik word (Matt 26: 26 - 28; 1.Kor 11: 23 - 26; NGB, art 35; HK Sond 25 - 29). Daar moet by die viering van die Nagmaal tussen wesentlike aspekte en sakramentele handelinge onderskei word. Kerke behoort KO, art 62 dan binne die volgende raamwerk toe te pas:
Wesentlike aspekte:
By die bediening van die heilige Nagmaal moet die dood van die Here in woord en daad verkondig word: "Doen dit tot my gedagtenis" (Luk 22: 19) ; "Verkondig die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11: 26). Die wyn moet in geloof as teken en seël van die bloed van Christus gedrink word. Vergelyk die volgende Skrifgegewens: "Drink almal daaruit" (Matt 26: 28); "Neem dit en deel dit onder julle" (Luk 22: 17); "Doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis" (1 Kor 11: 25); "So dikwels as julle hierdie brood eet of die beker van die Here drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11: 26); "Maar elkeen moet homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink" (1 Kor 11: 28); "As julle saamkom om nagmaal te vier, wag vir mekaar" (1 Kor 11: 33) . Alhoewel Christus nie in een van die opdragte uitdruklik na wyn verwys nie, is die verband telkens duidelik van so 'n aard dat Hy bedoel dat wyn gedrink moet word as teken en seël van die bloed van Christus (NGB, art 35; HK, Sond 25, 28 en 29).
Sakramentele handelinge
Die nagmaal het 'n maaltydkarakter en word gesamentlik deur die gelowiges gevier (1 Kor 11: 33). Dit maak daarvan 'n gemeenskapsmaal. Die brood moet aan almal uitgedeel word met die opdrag: "Neem, eet" (Matt 26: 26; Mark 14: 22; 1 Kor 11: 23). Met hierdie sakramentele handeling word die feit dat Jesus sy liggaam as offer vir die sondes van ons almal gegee het, duidelik na vore gebring.
Die wyn moet aan almal uitgedeel word met die opdrag: "Drink almal daaruit" (Matt 26: 28). Die drink van die wyn uit 'n gemeenskaplike drinkbeker (s) dien om die geestelike geloofseenheid in Christus te simboliseer.
Indien die kerke om gewigtige redes van die gemeenskaplike drinkbeker (s) afwyk, moet dit met verantwoording uit die Skrif gedoen word.
Die prinsipiële raamwerk vervang die besluite van Sinodes 1927 en 1930 en gevolglik ook die besluit in punt 6.6 (Acta bl 729 van Sinode 1997) .
Waar daar in 'n plaaslike kerk alternatiewe weë van nagmaalviering binne die gestelde raamwerk mag voorkom, behoort daar met die liefde van Christus die nodige agting en begrip vir mekaar getoon word. (Einde van die besluit.)
KOMMENTAAR:
Hoewel die besluit nie voorskriftelik wil wees nie. gee dit 'n baie duidelike prinsipiële raamwerk waarbinne kerke behoort te funksioneer, naamlik dat die nagmaal 'n maaltydskarakter moet vertoon en dat brood en wyn met die bepaalde opdragte uitgedeel moet word. Ook dat gemeenskaplike drinkbekers belangrik is omdat dit die geloofseenheid in Christus simboliseer.
Volgens die slotsom van die besluit behoort alternatiewe ook net binne die gestelde raamwerk plaas te vind, waarby dan liefde, begrip en agting vir mekaar getoon moet word. Sou kerke dus nog wil voortgaan om kelkies te gebruik, kan lidmate aan so 'n kerkraad die volgende vrae rig: (a) Toon asseblief die gewigtige redes vir die gebruik van die kelkies aan; (b) Verantwoord asseblief vanuit die Skrif die gebruik van die kelkies teenoor die gemeenskaplike drinkbeker, wat 'n duidelike simboliese betekenis betref, wat met die gebruik van die kelkies verlore raak.
Kerke sou dan selfs gevra kan word om hulle oor die bogenoemde voor die klassis te verantwoord. En waar kerke van die bogenoemde raamwerk sou afwyk, behoort daar ter wille van die eer van die Koning van die Kerk wat die sakramente ingestel het, asook ter wille van die behoud en stigting van die gemeente kerkordelik mee gehandel te word, opdat nie die toorn van God oor die hele gemeente opgewek word nie.
Met die bogenoemde besluit voor oë is die die kommentaar op RSG se Godsdiensuitsending: "Kollig op die Kerk", Sondag 23 Januarie 2000, van dr T van der Walt, die Ondervoorsitter van hierdie Sinode, dus vreemd en verwarrend. Volgens sy weergawe sou kerke ten opsigte van kelkies of beker eintlik 'n vrye keuse kan uitoefen insake die besluit wat geneem is, wat egter nerens daarin gelees kan word nie.
DIE POSISIE VAN DIE VROU IN DIE KERK
Eerstens was daar studiedeputate wat moes handel oor 'n beswaarskrif van die Suidelike Partikuliere Sinode by die Sinode van 1997. Dié beswaar het gehandel oor besluite wat geneem is deur die Nasionale Sinode 1988, op grond van 'n deeglike studie van studiedeputate oor ten minste nege jaar. In 1988 is toe besluit dat dit duidelik is dat vroulike lidmate nie in die besondere dienste van predikant en ouderling kan dien nie Ook kan nie sonder teëspraak voldoende bewys word dat vroulike lidmate in die amp van diaken kan dien nie.
Bogenoemde beswaarskrif beweer dat daar 'n leemte en onbeantwoorde vrae in die genoemde besluit vanweë beweerde verkeerde Skrifhantering gelaat is en vra dat daar opnuut 'n studie gemaak moet word. Die deputate het daarenteen aangetoon dat hier nie bloot 'n nuwe studie gevra word nie, maar dat dit 'n ander manier van benadering behels, wat slegs een ding beteken naamlik dat vroue tot die ampte toegelaat moet word. Omdat die beswaarskrif bewerings bevat wat nie standhoudend gestaaf is nie, het dit nie geslaag nie.
Voorts was daar 'n adviesvraag van die Suidelike Partikuliere Sinode of dit te regverdig is dat gemeentestigting vertraag of verhinder word, bloot omdat die nodige (amps-) gawes daartoe slegs by vroue gevind word. Hierdie adviesvraag het eintlik versoek dat vroue in die kerklike ampte mag dien, in stryd met die besluite deur die Sinodes van 1988 en 1994.
Die Sinode se advies was: Wanneer daar nie bevoegde broeders met ampsgawes beskikbaar is nie, dat dan nie tot kerkstigting kan oorgegaan word nie. Daartoe reël die kerkorde in art 39 die kerkordelike weg om verspreidwonendes te bedien.
Verder het 'n beskrywingspunt van die Partikuliere Sinode Wes-Transvaal gedien, wat 'n studie gevra het oor die wyse waarop die Here die vrou in sy Kerk gebruik het en nog steeds wil gebruik. Die Sinode het besluit om op die volgende wyse hieraan gevolg te gee:
Die Sinode wys studiedeputate aan om, met die besluite van vorige sinodes as vertrekpunt, 'n studie te maak oor wat in die Skrif geopenbaar word oor die wyse waarop die Here die vrou in die kerk gebruik het en steeds wil gebruik. Alle bestaande inligting en besluite in die Acta's van die Sinode oor die plek van die vrou in die kerk word duidelik saamgevat, gepubliseer en op bevattelike wyse aan die kerke beskikbaar gestel. Voorts is gestel dat kerke in dié studie saamgeneem moet word en dat insette op 'n ordelike wyse vanuit die kerke gelewer mag word. Die raakvlakke van die plek en rol van die vrou in samehang met die plek en rol van die man moet aangetoon word. Verder moet aangetoon word hoe die resultate van dié studie in die kerk geïmplementeer kan word. Daarbenewens moet ook bevindings en besluite van Gereformeerdes wêreldwyd in die studie verreken word.
KOMMENTAAR
Dit is opvallend dat daar 'n besondere aanslag vanuit die Suidelike Partikuliere Sinode insake die kwessie oor die vrou in die kerklike ampte is. Dit is aangevoor sonder om die besluite van vorige sinodes vanuit die Skrif, die belydenisskrifte en die kerk-orde te betwis en as verkeerd te bewys. Daarenteen word selfs aangetoon dat versoek word om met 'n ander benadering na die behandeling van dié sake te kyk. Die vraag is waarop hierdie ander benadering dui. Is dit dalk die tendens van 'n Skrifkritiese benadering wat deesdae baie geliefd is by die konteksionele teologie? Daarvolgens moet die veranderde konteks van 'n meer geëmansipeerde vrou tans verreken word binne die bepaalde konteks van die Skrif. Dit is egter onhoudbaar vir gereformeerdes wat die die onfeilbare gesag van die Bybel as die Woord van God sonder enige teëspraak aanvaar.
Hierdie "nie-end-kry-nie" word ook gereflekteer oor die sie-ning op die studie oor die plek van die vrou in die kerk asof dit nou ook opnuut weer kan dien oor die behandeling van die vrou in die kerklike ampte. Dit is egter duidelik dat die studiedeputate wat deur hierdie sinode aangewys is, vanuit die studie wat reeds gemaak is en wat nie as verkeerd bewys is nie, nou spesifiek 'n ondersoek moet hanteer oor die plek van die vrou in die kerk.
Hierdie studie kan inderdaad vir die kerke van groot betekenis wees aangesien sekere lidmate dink dat mens eers deur in die ampte te kan dien, slegs dán nie minderwaardig is nie om vir die Here in sy Kerk en Koninkryk diensbaar te wees.
BESKRYWINGSPUNT VANAF DIE SUIDELIKE PARTIKULIERE SINODE INSAKE DIE STATUS VAN DIE 1991 BESLUITE OOR APARTHEID
Hierdie beskrywingspunt versoek dat die besluit van die Sino-de van 1991 dat die ideologie van apartheid, wat mense onderdruk en alle menswaardigheid aantas, 'n sonde is, dat dit die mees onlangse en direkte besluit oor die saak is en, derhalwe, om alle vorige besluite wat hiermee in stryd is te herroep.
Aan hierdie beskrywingspunt is geen gevolg gegee nie omdat die Sinode met kerklike besluite wil handel wat strydig is met art 31 van die kerkorde. Daarby word die ideologie van apartheid verwar met besluite van vorige sinodes oor volkereverhoudinge op grond van die Skrif, die belydenisskrifte en die kerkorde. Om sonder meer alle vorige besluite te herroep sou die geskiedenis waarop die besluit van 1991 berus, tot niet maak. Vorige besluite vorm deel van 'n bepaalde historiese lyn.
KOMMENTAAR
Op die Sinode van 1997 het daar 'n soortgelyke beskrywingspunt van dieselfde Partikuliere Sinode insake besluite oor apartheid gedien. Toe moes dié sinode hom verantwoord oor die moontlike aanspreeklikheid met betrekking tot die beleid van afsonderlike ontwikkeling of apartheid en wat die Here, in die verband, van die kerke sou verwag. Ook aan daardie beskrywingspunt is geen gevolg gegee nie, omdat dit nie aan die vereistes van artt 30 en 46 van die kerkorde beantwoord nie. Dit noop 'n mens om te vra na die dryfveer agter die sodanige beskrywingspunte, veral omdat ons tans binne die gees van 'n wêreldse waarheids- en versoeningsproses verkeer wat moet uitloop op 'n sekulêre globalisme en die bevordering van godsdiensgelykheid. Dit is nie die bedoeling om die betrokke kerke aan hierdie verskriklike dinge te verbind of daarvan te beskuldig nie. Tog mag dit vraend gestel word of hulle met hulle volgehoue pogings in hierdie verband, nie onbewustelik in die hand speel van hierdie antichristelike en aan die kerk van die Here vyandige magte nie.
Vanaf drie partikuliere sinodes het beskrywingspunte gedien wat duidelike raakvlakke vertoon ten aansien van diepe kommer oor kerke wat sinodebesluite ignoreer ten opsigte van verskeie sake, soos die betaling van ramings, die sing van liedere in die eredienste, die nagmaalsgebruik, liturgieveranderings, ensovoorts. Hoewel al die beskrywingspunte vanweë tekortkominge nie aan gevolg gegee kan word nie, is besluit om 'n herderlike brief aan alle kerkrade te rig. Daarin word kerke opgeroep oor hulle verantwoordelikheid ten opsigte van die besluite van die meerdere vergaderings in die lig van art 31 KO.
KOMMENTAAR:
Hierdie herderlike brief is inderdaad tydig. Klassisse behoort egter volgens die reëling van toesig oor kerke in artt 41 en 44 KO hierdie belangrike saak met mekaar op te neem. Kerke se medeverantwoordelikheid tot mekaar moet opgeskerp word. Ons moet oppas om ook in hierdie verband ons te wil verontskuldig met die vraag: Is ek my broeder se wagter? (Gen 4: 9)
DIE SAAK OOR PSALMS EN GESANGE IN DIE EREDIENSTE
Verskeie sake aangaande die veranderinge van die Psalmberymings en die toevoeging van gesange het op die tafel van die Sinode beland. In geen van die gevalle is toegelaat om veranderings in te voer alvorens die volgende Nasionale Sinode 2003 daaroor besluit het nie. Die kerke word opgeroep om intussen kennis te neem van die voorgestelde "omdigting", ook bekend as die TT Cloete-beryming. Tewens kan gekyk word na die verbeterings wat wyle prof PW Buys en gekoöpteerde medewerkers op die bestaande Totiusberyming aanbeveel het. Laasgenoemde is 'n vers voor vers teksverbetering sonder aantasting van die beryming as sodanig en is volledig in die aanvullende agenda van die Sinode gepubliseer.
Die TT Cloete "omdigting" betref 'n drastiese verandering oor die gebruik van die Psalms in die eredienste, omdat dit nie aanpas aan die 1953 Bybelvertaling en gevolglik ook nie aan die aangehaalde en toegepaste tekste in die belydenisskrifte en liturgiese formuliere nie. Hierdie beryming, wat tydens die vergadering van die Sinode nog nie voltooi was nie, is voorshands nie aanvaar nie. Omdat hierdie "omdigting" nie vanuit die grondteks berym is nie, behoort die kerke dit allereers te toets aan konfessionele betroubaarheid. Die versoek van die klassis Pretoria-Sentraal wat oorgeneem is deur die Partikuliere Sinode Noord-Transvaal om 'n besluit oor die aanvaarding daarvan te laat oorstaan tot die volgende Nasionale Sinode, is aanvaar. Die betrokke studiedeputate wat deur die vorige sinode aangestel was, se opdrag is gekontinueer met die versoek om (ook) aan die hand van gestelde argumente en besprekings tydens hierdie sinode, die volgende sinode daaroor te adviseer.
Dit is genoem dat die kerke vir hulleself maar 'n eksemplaar van die nuwe Liederebundel van die NG Kerk moet aanskaf om van die "omgedigte" Psalms kennis te neem en daaroor te oordeel, sodra dit in boekhandels beskikbaar is.
Die sing van die geloofsbelydenis is saam met die bestaande Skrifberymings aanvaarbaar. Daar word ook aandag verleen aan bykomstige Skrifberymings. Kerke kan hulle toets, egter sonder formele aanvaarding in die eredienste.