|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
KOMMENTAARDIE TOTALE BREUK MET DIE VERLEDE:
WAAR LAAT DIT DIE AFRIKANER?
RADIO PRETORIA SE NUUSKOMMENTAAR
VAN DONDERDAG 27 JANUARIE 2000
Dit is duidelik dat hef aan nog voorlê met betrekking tot sogenaamde transformasie in Suid-Afrika. Die ANC is besig om weg te beweeg van sy veelgeroemde veelrassige benadering na toenemende Afrikanisering op alle terreine en alle vlakke van die samelewing. Die "reënboognasie" wat so tydig en ontydig verkondig word, het eintlik net een kleur en dit is swart. Daar is weinig of geen gevoeligheid vir die sentimente en geskiedkundige erfenis van die Blanke in die algemeen en die Boere-Afrikaner in die besonder nie. Dit moet alles plek maak vir Afrikasimbole en Afrika-kultuur, wat dit ookal mag beteken.
Die jongste illustrasie van die bogenoemde stelling is die aankondiging van die Minister van Openbare Werke, Stella Sigcau, dat sekere sogenaamde Apartheidsgeboue en -plekke 'n nuwe baadjie moet kry. Hierdie geboue en plekke moet dan kwansuis 'n nuwe voorkoms kry omdat dit na bewering die smet van die apartheidsverlede dra. Sy noem onder andere in hierdie verband, Vlakplaas, die Cinderella Detensiebarakke in Boksburg en "Constitutional Hill" in Braamfontein, Johannesburg.
Meer ontstellend egter, is die feit dat sy die Uniegebou en die Paleis van Justisie in Pretoria daarby insluit. Die Uniegebou word gebrandmerk omdat dit die setel van opeenvolgende apartheidsregerings was en die Paleis van Justisie moet deurloop weens die feit dat Nelson Mandela daar gevonnis is op aanklagte van hoogverraad.
Dit is nie duidelik wat die ANC se maatstawwe in hierdie verband is nie. Dit skyn wel redelik arbitrêr en lukraak te wees. Die Uniegebou byvoorbeeld, was nie net die setel van die sogenaamde apartheidsregerings nie. Daar was ook die regering van genl Louis Botha ná Uniewording. 1n 1910, die regering van genl Smuts ná die dood van Botha in 1919 en die Smelterregering vanaf 1933 met genl Hertzog as eerste minister en genl Smuts as sy adjunk. Ná die breuk tussen Hertzog en Smuts oor Suid-Afrika se deelname of nie-deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, is Smuts deur die destydse Goewerneur-generaal versoek om 'n nuwe regering saam te stel. Hierdie Verenigde Party-regering was aan bewind tot met die Nasionale Party se oorwinning in 1948. Dit lyk dus asof die ANC dit eerder teen blanke regerings het en dat hy die nie-Nasionale Partybewinde van die verlede ook as apartheidsregerings beskou.
Die ANC het 'n obsessie om alles uit die verlede te vernietig of te verander. Dit is geen nuwe verskynsel nie. Dit is trouens 'n kenmerk van alle regerings wat deur 'n ideologie beheers word. 'n Ideologie is niks anders nie as 'n wêreldlike religie. Dit is totaal onverdraagsaam teenoor alle ander ideologiese of politieke filosofieë omdat hy homself as die draer van die enigste ware boodskap beskou. Slegs hy is in staat om die "volmaakte samelewing" te skep. Alles wat sy bewindsoorname vooraf gegaan het, is per definisie sleg en boos en alle sigbare tekens en simbole van die vorige bedeling moet uitgewis word. Dit sluit in name en benamings van plekke, geboue, strate, damme, lughawens, standbeelde, monumente, ensovoorts.
Die Jakobyne het tydens die Franse Rewolusie selfs 'n stap verder gegaan en totaal met die Christelike jaartelling gebreek. 'n Nuwe almanak, gegrond op die metrieke stelsel met nuwe name vir die maande is ingevoer, hoewel daar later weer na die ou stelsel teruggekeer is. Die Bolsjewiste het ná die Russiese Rewolusie van 1917 haas niks uit die Tsaristiese bedeling onaangeraak gelaat nie. Kerke is in museums of openbare vergaderplekke verander, kloosters is gesluit en standbeelde omgeruk.
Ná die Hitler-oorname in Duitsland, in 1933, is boeke wat ingevolge die amptelike ideologie as ongewens beskou is, verbrand. Die Iranse Rewolusie van 1978 het die Iranse samelewing van bo na onder getransformeer. Waar die Sjah gepoog het om die land binne 'n geslag te moderniseer en 'n eersterangse rolspeler in die Indiese Oseaangebied te maak, wou die Moslem-fundamentalistiese regering van die Ayatolla Khomeini, Iran weer streng volgens die voorskrifte van die Koran regeer. Modernisering onder die Sjah is as verwestering en derhalwe uit die bose beskou.
Die punt wat dus gemaak word, is dat ideologiese/religieus geïnspireerde rewolusies, die vorige bestel gewoonlik as so sleg en onhervormbaar beskou, dat 'n totaal nuwe samelewing gebou moet word. Voordat die nuwe orde tot stand kan kom, moet die oue egter in geheel uitgewis word.
Die Romeine het min of meer dieselfde standpunt gehuldig in hul stryd teen Kartago. Toe hulle uiteindelik die oorhand oor hul aartsvyand gekry het, het hulle in ooreenstemming met hul spreuk "Cartago delenda est", Kartago totaal van die aardbol verdelg. Hulle het letterlik nie twee stene op mekaar gelaat nie en die hele gebied omgeploeg en onbewoonbaar gemaak. Daarna het hulle 'n eie stad daar bo-oor gebou.
Die rewolusie in Suid-Afrika kan nie presies met enige van die bogenoemde vergelyk word nie. Waar die genoemde rewolusies dikwels ingrypend begin en daarna afgeplat het, het die Suid-Afrikaanse rewolusie relatief mak en ondramaties begin. Tydens die eerste vyf jaar ná die 1994-verkiesing, het die ANC redelik versigtig beweeg. In 'n poging om 'n goeie beeld na buite met die oog op buitelandse beleggings te skep, is die indruk van geleidelike hervorming eerder as 'n radikale omwenteling geskep. Baie blankes is daardeur gesus en mislei. Sedert die April 1999-verkiesing het die pas van transformasie aansienlik begin versnel.
Die fase van transformasie wat nou aanbreek, gaan veel sigbaarder en meer ingrypend wees as wat tot nog toe die geval was. Afrikaans wat waarskynlik uit die regstelsel gaan verdwyn, 'n nuwe "Afrika-aangesig" vir onder meer die Uniegebou en Paleis van Justisie, is maar die begin. Die ANC gaan sy mes inhê vir alles wat na sy oordeel die apartheidsmet dra. Die apartheidsaspek word egter so wyd vertolk dat dit eintlik sinoniem met Westers en blank raak. Uiteindelik word alles wat nie 'n swart Afrikastempel dra nie, polities onaanvaarbaar.
Baie blankes in die algemeen en Afrikaners in die besonder, is gesus en gerusgestel deur die skynbaar rustige gang wat sake ná die 1994-verkiesing gegaan het. Na die aanvanklike vrese vir grootskaalse geweld en die kos- en ander voorraadopgaardery wat dit tot gevolg gehad het, het daar 'n oorgerustheid en onbetrokkenheid ingetree. Die rewolusie is besig om onder ons mense se neuse sy pas te versnel. Mens wil eintlik vra, wat moet nog gebeur voordat die skille van hulle oë afval.