|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
MEDIESE ETIEKDIE SESDE GEBOD EN DIE GENEESKUNDE
- DR MC DURAND -
God beveel dat jy nie mag doodslaan nie.
By die sesde gebod is die mens nie net die ontvanger van dié gebod nie, maar is hy ook die voorwerp daarvan. By hierdie gebod gaan dit oor die behoud van die menslike lewe.
Die mens is na God se beeld geskape. dié beeld bestaan vir die mens uit liggaam en siel. In teenstelling tot die diereryk bestaan die mens vir ewig. Hierdie ewige bestaan is egter vanweë die sondeval in die Paradys versteur. God straf die sonde van die mens met die dood en ontbinding. By die dood word die eenheid van liggaam en siel verskeur. Hierdie skeiding van vlees en gees sal eers weer herstel word met die wederkoms van die Here, wanneer die liggame weer opgewek en met die siele verenig sal word.
Die mens is 'n unieke eenheid van liggaam en siel, naamlik beelddraer van God. Daarenteen is die skeiding van liggaam en siel die oordeel van God. Niemand sal hierdie oordeel uitdeel tensy God dit beveel het nie. Daarom sê die Here in sy Woord: Jy mag nie doodslaan nie. Ja, die mens mag nie eiewillig die dood, die skeuring van liggaam en siel, bewerk nie.
God is die skepper en beskikker van die mensdom. Die mensdom wat in sy geheel met die feit van die sterflikheid deur God aangetas is, is ook vir elke asemteug van God afhanklik. Aangesien ons almal uit een bloed, en die liggaam van die een verwant aan die ander is, behoort ons mekaar, volgens die Skrif lief te hê, "die naaste soos jouself". Ons moet mekaar se lewens respekteer, bewaar en ontwikkel. Enigiets minder as dit is, soos die Heidelbergse Kategismus dit verklaar (vr/antw 107), gelykstaande aan die sonde van moord.
Die geneeskunde as gehoorsaamheid aan die Sesde Gebod.
Die mensdom moet mekaar respekteer, bewaar en ontwikkel. Mense moet mekaar respekteer want die menslike lewe het hoë waarde. Die mense moet mekaar bewaar want die lewe is 'n gawe van God. Die mense moet mekaar ontwikkel tot die doel wat God met hulle het, naamlik om deur harde werk en vermeerdering sy skepping te voltooi. 'n Gemeenskap wat besig is met die respek, die bewaring en ontwikkeling van mekaar, sal nie sonder sy medici wees nie.
Net so ondenkbaar as die sesde gebod sonder geneeskunde is, net so ondenkbaar is 'n geneeskunde wat nie aan die sesde gebod gehoor gee nie. Geneeskunde kan slegs na behore verstaan en uitgeoefen word in die respek, die bewaring en ontwikkeling van die mens. Naamlik om die mens te respekteeer as beeld van God en te besef dat God die bron van alle lewe is.
Die sekulêre geneeskunde is dikwels gegrond op die vitalisme of die humanisme. Indien ons aan die Gever van die sesde gebod dink, en indien ons dink aan die taak van die ontvangers van die sesde gebod, sal ons nie betwyfel dat albei, die vitalisme, wat die lewe van die skepsel bokant die Skepper stel, asook die humanisme, wat die mens bokant sy Skepper stel, verfoeilik is nie.
Die saak van die Sesde Gebod by die geneeskunde.
Die sesde gebod bied aan die geneeskunde 'n norm waarvolgens kernbesluite geneem moet word. Alhoewel dit aan die eenkant nuttig is om die sesde gebod te eerbiedig, is die nuttigheidsoorweging nie die belangrikste kwessie nie.
Die belangrikste saak waarom die sesde gebod in die geneeskunde in ag geneem moet word is omdat God in sy Woord gehoorsaamheid van alle mense eis. Ook die medici is hieraan onderworpe. Die mens moet aan God gehoorsaam wees omdat Hy dit vereis en nie omdat dit dalk utilistiese voordele bied om dit te doen nie.
Die sesde gebod bied die fondament by die besinning oor die volgende onderwerpe: abortus provocatus, eutanasie, beëindiging van mediese behandeling, watter risikos al dan nie geregverdig is, die verligting van pyn, die bevordering van gesondheid, die beskerming van die menslike lewe, die perke van die stryd om die lewe van die pasiënt. Ook by vraagstukke waar geneeshere as voorwerp betrokke is, soos hul deelname aan 'n oorlog en die behandeling van gewondes waaronder ook dié van die vyandelike magte, hul rol by die teregstelling van misdadigers of sosiaal ongewenstes (byvoorbeeld fetusse), hul reg om hulle eie lewens te beskerm tydens 'n epidemie (byvoorbeeld VIGS).
By die pasiënt is die sesde gebod ook van kernbelang by die volgende al dan nie omstrede sake: sy plig tot die bewaring en bevordering van sy eie gesondheid, die aanvraag van medies geassisteerde selfdoding, die reg op sy eie lewe, die toepassing van abortus provocatus, die aanvraag van liggaamlik verminking (byvoorbeeld geslagsverandering, tatoëring, die pons van gaatjies in die liggaam vir kosmetiese redes, ensovoorts.
Die praktiese toepassing van die gehoorsaamheid aan die sesde gebod.
Dit is nie net die geneesheer en sy pasiënt wat ten opsigte van gesondheid die sesde gebod moet gehoorsaam nie. Die breë publiek word tewens opgeroep opgeroep tot dié gehoorsaamheid. Dit geld byvoorbeeld aangaande die onthouding van sigarette en dwelms, die plig om bystand (indien moontlik) by pad- en ander ongelukke te verleen, voorkomende veiligheidsmaatreëls soos die dra van veiligheidsgordels en helms in die verkeer, die nakoming van veiligheidsvereistes in bouprojekte, die installering van heinings om swembaddens, ensovoorts. Ook behoort 'n publiek wat aan die sesde gebod gehoorsaam is, nie die vertoning van waaghalstoere in talle hoedanighede by te woon nie. 'n Publiek wat gelowig die sesde gebod wil gehoorsaam sal ander feeste hou en naweekkultuur bedryf as dié wat as prestasie-sensasies aangebied word.
'n Samelewing waar die naaste se lewens nie gerespekteer en bewaar word teen siektes en die voorkoming van ongevalle nie en waar die lewe van die siekes en beseerdes nie so goed as moontlik behandel word nie, kan nie 'n kulturele beskawing in 'n bybels normatiewe betekenis wees nie.