|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
OPVOEDING EN ONDERWYSAkademie vir Christelik-Volkseie Onderwys
Opening van die Akademiese Jaar 2000
28 Januarie 2000 in die "Paul Krugerkerk"
(GKSA Pretoria)
- Uittreksel uit toespraak van prof dr Alkmaar Swart -
Die Reformatories-formatoriese Roeping
Ons het te staan gekom voor die allerlotsbeslissende oomblik in ons volksbestaan.
Ons bevind ons in 'n bedeling waarin Rewolusie, Transformasie en Renaissance die botoon voer. Ons het gaandeweg toegelaat dat ons deur sintese (die vermenging van geloofs-, lewens- en wêreldbeskouings) verlam word.
Wat staan ons te doen? Die oomblik verg 'n lotsbeslissende besluit: Koers moet uit die krisis gekies word deur 'n geloofsbesluit dat ons deur God geroep word om op volgehoue deurgaande wyse die reformatories-formatoriese weg in te slaan met volle Godsvertroue en inspanning; dat ons deur God geroep word om stelling op die volstrekte antitese in te neem. Dit is 'n daad met twee kante: weerstand bied en staande bly.
Dit geld vir ons hele lewe in al sy geledinge. Ons laat die politiek links lê en spits ons toe op die vraag: Wat is die Reformatories-formatoriese roeping en rol van hierdie universiteit: Die Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys?
Die Roeping van die Universiteit
Die onderskeidende, eienaardige, God-bedoelde taak en roeping van die universiteit is om wetenskap te beoefen tot Gods eer en tot uitvoering van sy kultuuropdrag om die aarde te onderwerp, ontgin en ontwikkel. Die Godbedoelde taak van die universiteit behels die volgende:
Voortplanting van wetenskaplike kennis hoofsaaklik deur onderrig.
Wetenskaplike vorming en die verwerwing van wetenskaplike kundigheid.
Ontginning van nuwe kennis deur wetenskaplike navorsing.
Ons maak 'n byvoeging, naamlik die voortgesette persoonsvorming (opvoeding)van die student.
Wat is Wetenskap?
Wetenskap kom van weet en weet kom van 'n Indo-Europese grondwoord wid- wat sien beteken. Ware wetenskap kom voort uit wat jy sien of insien deur gerigte ondersoek. Die vrug van wetenskaplike ondersoek is insig in betekenis.
Die Volstrekte Antitese
Die ACVHO is volstrek antitetiies omdat dit Teïsties (Trinitaries) Skriftuurlik Calvinisties gereformeerd volkseie van inslag is.
Dit behels twee sake:
Die ACVHO se wetenskap is begrond in 'n geloofsbeskouing, naam-lik die Calvinisties gereformeerde geloof.
Die ACVHO se wetenskapsbeoefe-ning berus op 'n besondere kenleer (epistemologie), naamlik die Openbaringsepistemologie.
Wetenskap en Geloof
Die geloofsbelydenis waarop ons wetenskap begrond is, is die Calvinisties gereformeerde geloof. Dit behels die volgende grondbeginsels wat tegelyk die grond-beginsels is van die Calvinisme, die geestelike wortel van ons volksbestaan:
Die volstrekte soewereiniteit van God Drie-enig oor alle geskapene, hetsy dit sienlik of onsienlik is en die feit dat God die absolute Grond van alles is en dat alles uit en deur en tot Hom is.
Die gesag van God se Woord, wat die absolute waarheid, die enigste sis-teem van die waarheid, die onbedrieglike toetssteen van die waarheid, die onfeilbare rigsnoer vir waarheid en lewe ... en die einde van alle teëspraak is.
In en deur Christus is die wêreld vir God herower en tot die Eienaar in die juiste verhouding teruggebring. Christus verbind die aanvang van die wëreld aan die einde, die oergeskiedenis aan die eindgeskiedenis, die eerste dinge aan die uiterste, die alfa aan die omega (prof K Schilder:
Christus en Cultuur).
Die Verbond is die grondverhouding van alle verhoudings en die vooronderstelling van die skeppingsidee.
Slot
Die ACVHO is deur God tot stand laat kom en in die vier jaar van sy bestaan op wonderlike wyse deur Hom in stand gehou.
Die ACVHO is deur God bedoel en geroep om 'n reformatories-formatoriese rol te vervul; om toe te tree tot die stryd om die ordes; om daartoe by te dra om ons volk uit sy Godbepaalde wortel, naamlik die Calvinisme te laat herleef; om 'n beslissende rol in die aanwys van die koers uit die krisis te speel en les bes om 'n werktuig in die bevordering van die Koninkryk van God te wees.
En hiertoe sal ons in staat wees deur Christus wat ons krag gee en die sin van ons werk sal setel in die eer en verheerliking van die Drie-enige God, uit Wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is en aan Wie die heerlikheid behoort tot in ewigheid.