|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
OPVOEDING EN ONDERWYSASPEKTE VAN DIE CHRISTEN-ONDERWYSER SE TOERUSTING VIR CHRISTELIKE VAKONDERRIG IN GESKIEDENIS
(UITTREKSEL UIT 'N PUBLIKASIE VAN PROF EJ VAN NIEKERK - FAK. OPVOEDKUNDE UNISA)
DIE WAARDE VAN CHRISTELIKE VAKONDEERRIG IN GESKIEDENIS
Dikwels bevind geskiedenisonderwysers hul in 'n onbenydenswaardige situasie vanweë die opvatting dat Geskiedenis op skool 'n pynlike memorisering van waardelose name, datums en feite uit die verlede behels. Dit mag onder andere die gevolg daarvan wees dat geslagte onderwysers hul vak op 'n oninteressante wyse aangebied het wat weinig leerlinge tot 'n lewende belangstelling daarin aangespoor het. Vanuit 'n Christelike perspektief is hierdie 'n baie ongelukkige toedrag van sake, aangesien 'n goeie historiese besef groot voordele vir Christene inhou. Daarom word die volgende Christelike oriëntering tot die waarde van Geskiedenis as skoolvak kortliks aangebied.
Rushdoony verwoord die belangrikheid van die geskiedenis vanuit 'n Christelike perspektief treffend soos volg: "History is important precisely because it is totally meaningful because of God's eternal decree act of creation." God self is die oorsprong van die tyd en die geskiedenis, en daarom is dit sinvol en aan die ewigheid verbind. God self hou die voortgang van die tyd en geskiedenis in stand op weg na die volvoering van sy raadsplan, waarin ons danksy sy openbaring in die tyd ook insig kan verkry.
Die mens kan sy plek in die geskiedenis leer ken vanuit die Skrif. Wie die geskiedenis verkeerd sien, deur byvoorbeeld die deurwerking van die sondeval in die geskiedenis nie in ag te neem nie, pleeg 'n sonde in denke en geloof. Hoewel so 'n mens sy plek in die geskiedenis nie kan verlaat nie, sien hy dit ook nie suiwer nie. So 'n mens verstaan ook nie sy eie tyd nie en werk op die verkeerde wyse aan die geskiedenis mee. Ons kán tot ware selfkennis en 'n egte bepaling van ons plek in die geskiedenis kom deur vanuit die Skrif tot 'n geheeloorsig oor die geskiedenis te kom. Uit die geskiedenis leer ons onsself as mense ken, want daaruit ken ons ons menslikheid as historisiteit.
Dit is 'n groot kwaad om die waarde van historiese besef nie juis te takseer nie. In die paradys slaag die slang daarin om die juiste historiese besef met 'n verminkte te vervang, en beland die mens in die sondeval. Ongeloof en afvalligheid kom onder meer daarin uit dat ons die geskiedenis en ons plek daarin nie verstaan nie. Bekering beteken daarom vir die nuwe bekeerling sowel as vir die daaglikse toewyding van die kind van die verbond, 'n genesing van die geskonde historiese besef. 'n Juiste historiese besef hou groot voordeel in. Dit is net in die Satan se belang dat ons ons plek in die geskiedenis verkeerd sien en dwaal in ons historiese besef.
Kennis van my persoonlike, my familie, gemeenskap, volk, land en beskawingsgroep se historiese agtergrond gee nie net 'n noodsaaklike belewing van identiteit nie, maar help die mens ook om sy spesifieke plek tussen verlede en toekoms te bepaal. Swanstrom verwoord dit so: "A knowledge of history helps each of us answer the question, Who am I ? This is especially important in the face of the anonymity and alienation many people feel in our rapidly changing, mass society." Dit is God se wil dat elke mens binne 'n bepaalde tydsbestek en konteks gebore word, en ook dat elk daarbinne sy/haar roeping sien en uitleef volgens die Skrifbeginsels.
Die waarde van 'n Christelike perspektief op die geskiedenis blyk onder andere daaruit dat alle mense in God se geskiedenisboek figureer - nie net die vernames en deelnemers aan sleutelgebeurtenisse nie. Elke akteur in die historiese drama is belangrik as beelddraer van God wat die ewige lewe kan verkry of verloor, sy/haar roeping kan vervul of versaak. Die Christen kan makliker empaties die gevoelens, oorwinnings en frustrasies van historiese figure kan deel, omdat dit ook mense was vir wie Christus gesterf het. Indien ons so sterk met die deelnemers aan 'n historiese gebeurtenis identifiseer dat ons die situsasie as 't ware deur hul oë sien, sal ons ook weet dat hul soms nie die toekoms of langtermyn gevolge van hul dade kon voorsien nie. Hierdie empatie sal vanuit Christelike standpunt nie net tot lede van die eie ras, volk of groep beperk wees nie, maar Christene sal poog om 'n openheid en waarheidslievendheid in die ondersoek en onderrig van die verlede te openbaar. 'n Eerlike omgang met die verlede is 'n groot pluspunt. ...
Geen aspek van die hede kan werklik los van die verlede verstaan word nie, insluitende ons landsomstandighede, kerk, politieke party, skool, vereniging, vakbond, ensovoorts. Die ontwikkelingsgeskiedenis het ons gemeenskap gemaak wat dit is. Ook hedeprobleme moet teen hul historiese agtergrond ondersoek word, indien ons hul beter wil verstaan en hanteer, want die geskiedenis bied 'n kroniek van menslike ondervinding. Die geskiedeniswetenskap behoort 'n laboratorium in diens van die historiese besef te wees. Die kroniek van die verlede moet egter altyd in die Skriflig gesien en beoordeel word.
In 'n Christelike benadering tot die geskiedenis beskik ons oor norme aan die hand waarvan ons kulturele ontwikkeling/beskawingsontwikkeling kan beoordeel. Hierdie norme behoort in finale instansie Skrifgefundeerd te wees en is ook in ons hedendaagse omgang met die werklikheid van groot waarde in Christelike kultuurbou.