Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

SKRIFOORDENKING

BID IN DIE GEES BY ELKE GELEENTHEID

-  DS SJMS SMIT  -  OOS-MOOT  -

(Preekskets 19 Januarie)

"En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees - dit is die Woord van God - terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking en vir al die heiliges en vir my ... " Ef 6: 17 - 19

Met die verkondiging van die Woord bied God aan sy kerk 'n geleentheid om sig te bewapen met die wapenrusting van waarheid, geregtigheid, vrede, geloof, verlossing en die Woord van God. En God wil hê dat die gelowiges hierdie wapenrusting moet opneem met die doel om vas te staan in die geestelike stryd.

God vra reaksie van sy bewapende gemeente. Wat is ons reaksie op God se bewapeningsprogram?

Paulus stel dit baie duidelik in vers 18 watter reaksie God van sy bewapende gemeente verwag. God verwag nie aggressie nie maar GEBED! Waak en bid! Die bewapende gemeente van Christus moet 'n biddende en wakende gemeente wees. Dit is dieselfde opdrag wat Christus in Matteus 26 aan sy dissipels in Getsémane gegee het. Paulus wil egter die belangrikheid van gebed uitlig met die herhaling van die woord "alle". Bid alle gebed, by alle geleenthede en waak tot sodanige gebedslewe met alle volharding vir alle heiliges.

Kom ons kyk vervolgens na hierdie vier fasette van die reaksie wat God van sy bewapende gemeente vereis.

1. Bid alle gebed en smeking.

Gebed is hier 'n sambreelterm vir alle soorte gebede, naamlik: aanbidding, lofverheffing, danksegging en smeking. Paulus lig smeking uit om te beklemtoon dat die gemeente van God kan-, mag-, en moet vra wat hulle van Hom nodig het.

Die gemeente moet alle gebed en smeking bid.

Gebed is die krag waarmee die bewapende Christen reageer en hom tot God wend, en Hom aanbid as die soewereine God wat heers oor alles wat Hy gemaak het.

Dawid sê in Psalm 66: 4: "Laat die hele aarde U aanbid en psalmsing tot U eer". Hierdie aanbidding hoort by die gemeente van Christus, en dit is 'n kenmerk van die kerk tot in alle ewigheid. Selfs in Openbaring 4 (waar ons 'n blik op God se plan met die kerk kry) sien ons dat die 24 ouderlinge (dit is die kerk van die Ou en Nuwe Testament) neerval voor Hom wat op die troon sit en Hom aanbid wat tot in ewigheid lewe.

En nou is dit so, dat as jy God wil aanbid, dat jy dan nie anders kan as om sy lof te verhef nie. In Psalm 103 bars Dawid in so 'n lofverheffing uit. Die 24 ouderlinge in Openbaring 4 aanbid God ook met so 'n lofprysing. Daarmee erken die gemeente van Christus sy Heerskappy oor sy kerk en oor alles wat God gemaak het.

Maar alle gebede sluit ook dankgebede in. Wanneer ons die lof van Christus verhef, dan moet ons dit doen in dankbaarheid vir die gawes wat God vir ons in Christus berei het. In dankbaarheid dat God ons nie as wese agtergelaat het nie, maar dat Hy Christus as Hoof aan die kerk gegee het en die Heilige Gees oor ons uitgestort het sodat ons in die Gees kan bid.

Om in die Gees te bid beteken dat die Heilige Gees ons leer wat ons moet bid. Ons, sondaars, kan God nooit na waarde prys nie en wil nie bid nie, omdat dit eis dat jy jouself moet verloën en God in afhanklikheid moet aanroep. Maar nou leer die Gees ons om ons afhanklikheid van God te besef, Hy leer ons ons nood reg te ken, sodat ons moet weet wat ons moet bid as ons ons harte voor God uitstort. Verder heilig die Heilige Gees ook ons gebede in die troonsaal van God as 'n aangename offer van dankbaarheid voor die aangesig van God.

God hoor die gebed van 'n gemeente wat smeek, en Hy hoor die gebed van 'n enkeling wat roep, en Hy laat sy wil geskied. So het Hy 'n bedienaar van die Woord en 'n gemeente met mekaar vere-nig om as sy liggaam onder een Hoof, Jesus Christus, 'n biddende gemeente te wees wat by elke geleentheid bid.

2. Die bewapende gemeente moet by elke geleentheid bid.

Letterlik staan daar: "in elke gunstige geleentheid", op elke geskikte tyd. Dit beteken dat ons gelei deur die Gees, God in- en vir elke lewensituasie in die gebed moet aanroep.

Vanuit die gevangenis in Rome waarvandaan Paulus hierdie brief geskryf het, het hy die krag van die gebed op 'n besonderse wyse ervaar. Nie net omdat daar vir hom, in sy moeilike moeilike omstandighede, gebid is nie, maar ook omdat die geboeide Paulus deur die gebed die gemeente van Efese voor God kon stel. Dit is deel van die besonderse krag wat daar in die gebed opgesluit is. Jy kan jou kinders, jou ouers, jou geliefdes in hulle afwesigheid, aanwesig voor God stel.

Paulus het die Efesiërs so voor God aanwesig gestel en bid, per brief, dat die gemeente vervul met die Heilige Gees sal vasstaan in die stryd teen die bose. Want die gemeente van Efese sou deur wrede wolwe binnegedring word, en hulle sou die kudde nie spaar nie. Daarom roep Paulus die gemeente in die gebed op om te waak.

3. Waak met alle volharding.

Die gemeente van Christus mag nooit verslap in hulle gebedslewe en weerstand teen die bose nie. Soos 'n goeie soldaat moet ons voortdurend slaggereed op die wagpos wees. Ons word dikwels verlei om in te sluimer, en dan kom geskinder, tweedrag, vuil taal, hebsug en allerhande werke van die duisternis in die gemeente in. Dit het met Efese gebeur!

Hulle het in 'n onbewaakte oomblik hulle eerste liefde verlaat. Die liefde wat daar onderling in die gemeente was, het koud geword. Hulle het so gestry vir die waarheid dat hulle later 'n hardheid vertoon het. En omdat hulle hul hartlikheid verloor het, was elkeen naderhand slegs oor homself begaan. Koue gierigheid, onreinheid en hebsug het in die plek van warme liefde gekom.

En dan kom die Woord van Christus, die Hoof van die kerk, tot sy bewapende gemeente: "Waak met alle volharding", waak en bid - dat julle nie in die versoeking kom om terug te val in die lewenstyl van die wêreld nie.

Laat ons dit nie vir mekaar geheim hou nie, Satan val die heiliges, die gemeente van Christus aan. Hy het nog nie opgehou om Christus in die hakskeen te byt nie. Daarom moet die kerk van Jesus Christus waak en bid - vir alle heiliges.

4. Bid vir alle heiliges.

Die heiliges, dit is die volk van God wat deur die inwoning van die Heilige Gees geheilig is, het die volhardende gebede van die kerk nodig. Ons moet mekaar in die gebed voor die troon van God bring. Ons moet vir mekaar bid. Dit vra dat ons mekaar moet ken, en dat ons mekaar moet liefhê en mekaar se belange op die hart moet dra.

Wanneer ons elkeen staande bly deur die krag van die Gees, dan kan ons vir mekaar bid om staande te bly, en so word die gemeente 'n staande mag wat die stryd teen die bose stry. Dit is 'n stryd wat ons Hoof Christus op ons gelê het. Ons het mekaar se voorbidding nodig!

En veral moet vir die bedienaars van die Woord gebid word, dat as hulle hul mond oopmaak en móet oopmaak, dat aan hulle die regte woord gegee sal word, dat hulle op so 'n wyse spreek en preek soos wat die Here dit van hulle eis.

Paulus het sy afhanklikheid van die voorbereiding van die gemeente in die bediening van die Evangelie nie verkondig nie. Want die versoeking is daar om die evangelie so te verkondig dat dit byval by die hoorders vind. Ook in die moderne teologie is die neiging om die Woord van God aan te pas aan die situasie van die mens, en nie dat die mens moet aanpas by die Woord van God nie. Die versoeking is daar om te swyg wanneer die eer van Christus aangetas word.

Daarom: Bid vir die bedienaars van die Woord dat slegs die Woord van God, die Evangelie van Vrede verkondig sal word, dat ook hul voete aangenaam sal wees as hul die verborgenheid van die Evangelieboodskap aan u bring, naamlik: "Sion, jou God is koning".

Waak en bid, want God het mag om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in Ewigheid.