|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
PERSRUBRIEKONKUNDE OOR DIE LITURGIE
"'n Tong-in-die-kies gedagte"
Ds PK Lourens van Bloemspruit skryf in DIE KERKBLAD van 12 Januarie 2000 die volgende, waarmee ons hartlik instem:
Aan al my Roomsgesinde Dopperpredikantskollegas -
Ek skryf hierdie briefie tong-in-die-kies in verband met die "uitspreek" van die seën(groet)- en/of slot-) tydens godsdiensoefeninge in ateljeedienste oor die radio, troues, geloftefeesdienste ensovoorts.
Dit blyk dat daar onkunde oor die liturgie bestaan wanneer die seën "uitgespreek" word in sulke godsdiensoefeninge. Dit laat by my die indruk asof die erediens vir so 'n predikant uit 'n resep van opeengestapelde handelinge sou dui wat die groetseën en slotseën insluit - onkunde wat verklap dat daar nie sekerheid oor die onderskeid tussen 'n erediens en 'n godsdiensoefening bestaan nie.
Die erediens is tog 'n byeenkoms van die gemeente van God onder leiding van die drie besondere ampte. 'n Ateljeediens oor die radio, 'n Saterdagmiddagtroue of 'n Geloftefeesdiens is geen erediens nie. Hierdie optrede verraai 'n Roomse ampsbeskouing waar 'n predikant op grond van sy "amp", wat in die persoon geleë is -want watter ander rede kan daar wees? - die seën van die Here "amptelik uitspreek" in plaas daarvan om dit van die Here af te bid soos die huweliksformulier dit inderdaad doen en verwoord ("Mag ...").