Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Gesag en Bevoegdheid

AKTUEEL:
Relativering van die getroue Woordverkondiging in die eredienste

SKRIFOORDENKING:
Bid in die Gees by elke geleentheid
Ef 6:17-19

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare (2)

Die Eerste Gebod

God se plek vir die vrou in die gemeente

Die Parlement van Wêreldgodsdienste

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Waarheen "Geloofsverklaring 2000"?

Kultuur, Openbaring en Toekomsverwagting

Samelewingsverbande

Vraagtekens en Uitroeptekens

WOORD EN WETENSKAP:
Aan die begin was daar inligting

KERKLIKE JOERNAAL: 
Verslag: GKSA Sinode 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Reformatories-formatoriese roeping
"Lesidi la Ditshaba Christian School" in Soshanguve
Christelike vakonderrig in geskiedenis

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (4)

PERSRUBRIEK: 
Liturgie

Religieuse Pluralisme
Koerantbriewe

KOMMENTAAR: 
Die totale breuk met die verlede:  Waar laat dit die Afrikaner?

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die sesde gebod en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 2  Maart 2000

Persrubriek

RELIGIEUSE PLURALISME

In ROEPING EN RIGLYNE van die VCHO, Desember 1999, bl 2, skryf prof AWG Raath onder andere as volg:

Die stryd van die Christen in ons land neem elke dag in felheid toe. Onder die invloed van die heersende denkgees word die Christendom al hoe meer as 'n blote deelwaarheid afgemaak. Met ander woorde, dit het bloot relatiewe waarde en kan nie as enigste raamwerk van die waarheid geld nie.

Die implikasies hiervan vir die onderwys en opvoeding van verbondskinders is vernietigend. Christene word aan die verstand gebring (selfs deur van ons leraars in kerke van Reformatoriese oortuiging) dat Christelike onderwys verwerp moet word omdat dit nie as absolute grondslag van waarheid kan geld nie; dit is bloot 'n deelwaarheid wat by 'n groter geheel inpas en in die lig van ander ideologieë interpreteer moet word. Om aan die aan die absolute waarheid en waarde van die Christendom vas te hou getuig - volgens hierdie sienswyse - van 'n verouderde bekrompenheid wat ontgroei en oorkom moet word.

Tweedens is die implikasie dat die Christene oortuig moet word dat hul lewensbeskouing minder waarde het as wat hulle geneig is om te aanvaar; dit maak - so word geleer - nie saak wat 'n mens glo nie, maar hoe 'n mens hy is, hoe hy sy gemeenskap dien, hoe hy die idee van nasie-eenheid nastreef, ensomeer. Op die publieke terrein is alle lewensbeskouings as "ideologieë" gelykwaardig en aan geeneen mag voorkeur gegee word nie. In die publieke onderwys word tans baie moeite gedoen om hierdie standpunt met staatlike sanksie deur te voer en sowel kerklui as onderwysinstansies agter die staatlike ideaal van godsdiensgelykheid te skaar en Christene wat dit teenstaan tot ander insigte te probeer bring.

Die handhawing van hierdie ideologie van ideologiese pluralisme word tans in ons land as 'n belangrike model vir die handhawing van die algemene welsyn nagestreef en Christenouers word onvermoeid bearbei om te aanvaar dat dit "dogmaties" en "seksioneel" is om aan die onfeilbare waarheid van slegs 'n enkele Christelike lewensbeskouing verkleefd te bly. Die onderliggende gedagte is dat die solidariteit van die mensdom die hoogste goed is en dat godsdienstige verskille die knie vir die ideaal van "medemenslikheid" moet buig. Die onvermydelike resultaat van dit alles is dat die Christelike lewensbeskouing as seksioneel/eensydig gebrandmerk word; dat dit nie die algemene welsyn dien nie. dat dit die solidariteit van die mensheid (ook as politieke ideaal) bedreig; dat die wortels en lewensbeskoulike uitgangspunte van die Christelike kultuur daarmee onder verdenking gebring en aangeval word. Die verkondiging van die religieuse pluralisme langs die bogenoemde lyne stel die veelheid (pluraliteit) van opvattings/denkbeelde/standpunte absoluut sonder om die kwaliteit van die inhoud van elkeen te weeg en te toets, sonder om te vra watter waar en watter vals is.

Die sogenaamde "vrye maatskappy" (permissive society) wat hieruit gebore word, laat op alle samelewingsterreine sy spore van verwoesting in ons samelewing:

Godsdienstige plegtighede word al hoe meer uit die publieke lewe geweer omdat dit tot moontlike konflik aanleiding kan gee en seksionele optrede voorkom moet word.

Die Christen se religieuse oortuiging word tot blote godsdiensbeoefening versmal en buite die kerk oorheers die standpunt van neutraliteit.

Die kerk ervaar al meer 'n funksieverlies en taakversmalling - die kerk se taak word al hoe meer 'n sedelike funksie en die sosiale evangelie word nou belangriker as vertikale "bruid-wees" van die kerk.

Al hoe meer word verkondig dat daar 'n onoorbrugbare spanning tussen kerk en volk bestaan.

Die houvas van samelewingsverbande word verminder en sodoende die gesagsbande van gesin, kerk en skool al hoe meer gerelativeer.

'n Beheptheid met verandering ter wille van verandering, aftakeling van die sogenaamde "establishment" en die eis van demokratisering in alle samelewingsverbande is aan die orde van die dag.

Sosiale permissiwiteit in kleredrag, verhouding van die geslagte, gebruik van dwelms, pornografie onder die dekmantel van persvryheid, absurde kuns, verheffing van die oerwoudkultuur deur sang, lied, musiek, dans ensomeer word bevorder.

Met ontsteltenis neem die Christelike geloofsgemeenskap in ons samelewing kennis van die losgeslane mensdom in ons land wat sy bybelse oriëntasie en beginsels prysgee; van die vereensaamde mens wat sy raamwerk vir sinvolle sosiale optrede verloor; van die verskynsel van 'n verveelde jeug met 'n diepliggende drang tot sensasie; van 'n jongmenskultuur met 'n wanhoopsgestalte van ontvlugting; van eurotiese sosiale drange wat tot die geweldskultuur op alle vlakke van die sosiale lewe lei en uiteindelik die innerlike disintegrering van die emosionele lewe van ons samelewing met sy talle selfmoorde en gebroke huisgesinne tot gevolg het.