|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 2 Maart 2000
REDAKSIONEEL Met die verskyning van hierdie uitgawe gaan ons gedagtes uit na diegene wat op die een of andere wyse geraak is deur die oorstromings wat die afgelope maand op groot skaal plaasgevind het, veral in die gebiede wat onder ons lesers nog as Noord, Oos en Wes Transvaal bekendstaan. Hoewel ons medelyde het met almal, ongeag die bevolkingsgroep waaraan hulle behoort, dink ons in die besonder aan diegene uit die geledere van die eenheid van die Christelike geloof, ons broeders en susters, medelidmate van die kerk van Christus, dalk ook intekenare en lesers van ons blad, wat groot materiële en miskien ook persoonlike verliese gelei het, wat die insette en vrugte van jarelange arbeid en van hulle aardse besittings skielik verloor het en wat weer van vooraf moet begin. Waar dit met lewensverlies gepaardgegaan het deel ons hulle smart en ons wens hulle en hulle gesinne die troos en bystand van die Here om hierdie beskikking van Hom in die geloof te ervaar en in sy krag te bowe te kom.Hierdie rampe kom oor die wêreld nie sonder God se beskikking nie. Dit is in Genesis 3: 17 - 19 gestel as straf op die sonde wat deur ons eerste voorouers in die Paradys gepleeg is. "Vervloek is die aarde om jou ontwil: met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe ..." As dit was dat ons nie die geloof gehad het nie, dan sou ons God en die natuur gevloek het dat dit ons, bó en behalwe alle ander ellende, nou ook nog oorgekom het. Maar nou dank ons Hom dat ons mag glo in sy voorsienigheid, só dat Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie maar uit sy Vaderhand toekom. Mag dit in die besonder hulle wat getref is, maar ook ons almal troos en versterk in die geloof om dit uit sy hand te aanvaar. ®