Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
DIE ROL VAN DIE MAN IN DIE KERK
- GUSTAV OPPERMAN - POTCHEFSTROOM -
Die man dra die verantwoordelikheid vir die geestelike leierskap in die verbondsgemeenskap - of dit nou in die verbondsgemeenskap in-die-engere, sy huis of die verbondsgemeenskap in-die-breëre, die kerk is. Dit staan bo-aan die taakomskrywing van sy rol in die kerk. Die aanvaarding van hierdie verantwoordelikheid is n vereiste in al die vorme van die verbondsgemeenskap. Dit begin by die huwelik en gesin. Dop die man die toets in die huwelik en gesin, slaag hy ook nie in die kerk nie (1Tim 3:1-5; Tit 1:6).
Hierdie verantwoordelikheid is nie oordraagbaar nie en word deur al die kontekste van Heilige Skrif heen gehandhaaf.
Hierdie beginsel het niks met gelykwaardigheid te doen nie. In God se genade is almal gelykwaardig: Jood en Griek, slaaf en vryman, man en vrou (Gal 3:28). So stel die apostel Petrus dit ook in 1 Petrus 3:7: man en vrou is mede-erfgename van die genade van die lewe in alle opsigte gelykwaardig Petrus stel egter nie daardeur sy uitspraak in vers 1 ter syde nie: vroue wees aan julle mans onderdanig.
Dus: gelykwaardig, maar nie gelykpligtig nie. Die man moet voorgaan in geestelike leiding. Hierdie ongelykpligtigheid van die man en die vrou is reeds met die skepping duidelik.
God het sy verordeninge aan die man oorgedra (Gen 2:16,17). Nadat die vrou uit die mens geskape is, moes hy by implikasie hierdie verordeninge aan die vrou onderrig het. Dit het hy ook gedoen, want sy kon dit redelik getrou aan die slang weergee (Gen 3:3). Na die sondeval soek God die mens, die een aan wie hy die verantwoordelikheid opgedra het (Gen 3:9 -11): Toe roep die Here God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? Telkens word die manlike enkelvoud aanspreekvorm gebruik. In vers 12 erken die mens dat hy die geestelike leiding in die huishouding aan sy vrou oorgedra het. Sy moet nou, volgens hom die verantwoordelikheid aanvaar. Toe die man se straf aangekondig word, blyk dit dat die ontduiking van sy geestelike verantwoordelikheid net so swaar by God weeg as sy ongehoorsaamheid aan gebod self:: En aan die mens het God gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou (Gen 3:17).
Hierdie manlike verantwoordelikheid word gehandhaaf deur al die eeue en kontekste van die verbondsgeskiedenis soos dit vir ons opgeteken is. In sy brief aan Timotheus gebruik Paulus juis hierdie stukkie uit die skeppingsgeskiedenis as motivering vir sy handhawing van die man se verpligting tot geestelike leierskap (1Tim 11-14 vgl. ook 1Kor 14:35; 1Tim 3:2; 2Tim 2:24).
In 1 Korinthiërs 11:8,9 lees ons dat die man nie uit die vrou is nie, maar die vrou uit die man. Die man is immers nie ter wille die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. As ons sin van hierdie uitspraak wil maak, dan moet ons die verband waarin dit voorkom nagaan. Dan begin ons by vers 3. Die woord hoof wat hier gebruik word beteken dikwels die begin of die eerste en daarom ook die vernaamste. Uit die Ou Testament is dit reeds duidelik dat die hoof van die fa-milie in die reël die oudste seun, die eersgeborene is.
By die hoof berus die leiding. Hy dui die koers aan. Hy is nie soseer die heerser nie, maar wel voorganger. Hy is die voorbeeld wat deur dié wat na hom kom gevolg moet word.
In die sin is Christus die hoof van elke man. Hy is immers ook soos dit elders staan, die Eersgeborene van die ganse skepping (Kol 1:15). Hy gaan voor. Hy is die Leidsman. Die man moet hom na sy voorbeeld rig, hom aan sy leiding oorgee.
Maar soos Christus die hoof is van elke man, so is die man die hoof van die vrou. Die vrou behoort haar by hom te voeg en sy leiding te aanvaar. Hy gaan voor, hy stippel die koers aan en sy volg.
Die versuim van die taak om leiding te gee, lei nie net tot Adam se ondergang nie. Salomo en Agab word self ook slagoffers van manlike pligsversuim. Die pligsversuim van n verbondshoof lei tot die betreurenswaardige situasie in Genesis 34. Na die ingrype van God aanvaar Jakob weer sy plig in Genesis 35:2vv. n Deel van daardie plig was om sy huis te reinig van die afgode wat sy vrou aangehou het (Gen 35:2,4; vgl met 31:19).
Deur die Here se genade stuur Hy in tye van manlike pligsversuim soms vroue om die mans weer tot hulle verantwoordelikheid op te roep. Dit kos n Debóra om Barak te herinner aan sy plig om n heilige oorlog te voer. Sy onvermoë om dit sonder haar in die krag van Here alleen te doen, bring skande oor hom: die eer van die oorwinning gaan aan vrou (Rig 4). Dit is n groep vroue wat die openbaring van n opgestane Jesus ontvang (Mat 28:9). n Deel van daardie openbaring behels egter die opdrag om die manlike dissipels wat Hy gekies het, tot pligshervatting op te roep (28:10).
Die eerste paar hoofstukke van Jesaja skets die geloofsvolk in n jammerlike toestand: God se oordeel oor die afvallige volk behels onder andere dat Hy manlike leierskap van die volk ontneem. Daar is geen volwasse mans wat kan voorgaan in die verbondsgemeenskap nie (3:1-4). Daar is geen man wat bereid is om die leierskap in die verbondsgemeenskap in-die-kleinere, in die huis van sy vader, oor te neem nie (3: 6-7). Uiteindelik bly daar net kinder- en vroueheerskappy oor (3:12).
Gebrek aan manlike leierskap in Jeremia se tyd lei die vlugtelinge in Egipte om onder die leiding van die vroue vir die hemelkoningin offers te laat opgaan (Jer 44). Hieroor spreek die profeet veral die mans aan (44:9,15). Hulle het dit toegelaat. Waar die Here se oordeel oor die vlugtelinge uitgespreek word, is dit die pligsversuimende mans wat onder skoot kom (44:26-8).
Op watter wyse behoort hierdie heerskappy gestalte te vind ? Deur dienende liefde sê die apostel Paulus in sy brief aan die Efesiërs (5:22-33). Christus is die voor-beeld in die liefdevolle heerskappy wat hy teenoor sy bruidskerk betoon. Dit is n liefde wat bereid is om die vuilwerk in die verbondsgemeenskap te doen (Joh 13:1-20), dit is n verantwoordelikheid tot die dood toe (Ef 5:25). Dit is n verantwoordelikheid wat die heiliging van die vrou behels n verantwoordelikheid wat ook die reiniging deur die Woord - bediening insluit (5:26 vgl ook 1Kor 15:34 en 1Tim 2:11).
Geestelike leierskap het baie te doen met Woordonderrig. Dit kan nie daarvan geskei word nie. Die vader is verantwoordelik vir die onderrig binne huisverband. Dit is die huisvaders wat in die bekende "onderrig"-gedeelte in Deuteronomium 6:6-9 aangedui word. In Deuteronomium 8:5 en 32:7 word daar ook verwys na n man wat sy seun self onderrig.
Die vaderlike verantwoordelikheid beteken geensins dat die vader nie die onderrig van sy kinders aan sy vrou of iemand anders kan opdra nie. In Deuterono-mium 21:18 is albei, vader en moeder, ter sprake waar dit oor die onderrig gaan. Die moeder is immers die hulp wat by hom pas (Gen 2:18,20). Volgens die Spreuke van Salomo word beide, vader en moeder, telkens saam genoem as diegene wat hulle kinders onderrig (Spr 1:8; 6:20). Soms word slegs die moeder genoem (Spr 31:26). Die verantwoordelikheid kan die man egter nie oordra nie. Hy bly die primêre aangesprokene.
Die vader was in die bybelse tyd by uitstek die een wat onderrig gee. Hoe hoog hy in die verband geag was, kom duidelik na vore wanneer daar in ander onderrigsituasies van die beeld van die vader as onderwyser gebruik gemaak word. Wanneer die leerling Elisa sy leermeester sien opvaar na die hemel, dan roep hy uit: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters ! (2Kon 2:12). Daarom gebruik die bejaarde apostel Johannes juis ook n verbondsterm wanneer hy aan diegene skryf wat onder sy leiding tot die geloof gekom het hy spreek hulle aan as my kinders (1Joh 2:12; vgl ook Spr 1:8,10,15 vv.; 1Kor 14:35; 1Tim 1:2; 2Tim 1:2; Tit 1:3; Filémon 1:10; 1Pet 5:13).
In geeneen van die kontekste van die Skrif, of dit in die huis van God, of in die huis van Jakob of in die huis van Filémon is, het die man verlof om die verant-woordelikheid vir geestelike heerskappy af te staan nie. Net so min as wat hy vandag verlof het om die verantwoordelikheid vir gemeentelike onderrig en leiding aan die vrou oor te dra nie.