Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

DIE VERBONDSTEOLOGIE

Die betekenis van die verbond met betrekking tot die dooppraktyk

-  DS JOH DREYER  -  IN LEWE NED HERVORMDE LERAAR TE POTCHEFSTROOM 

Hierdie artikel uit die pen van wyle ds Joh Dreyer behandel die verbondsteologie met besondere klem op die verskillende doopsbeskouings wat gehuldig word. Dr Abraham Kuyper se leer van die veronderstelde wedergeboorte het in die Gereformeerde Kerke in Nederland gelei tot geskille waaroor sinodes besluite geneem het en wat 'n oorsaak was vir die uiteengaan van Gereformeerdes in afsonderlike kerkverbande. In 1944 was dit 'n aanleidende oorsaak tot die "vrijmaking" wat die ontstaan van Die Gereformeerde Kerken (onderhoudende art 31 ko) was. Ook staan dit in verband met die regverdiging vir die groot doop, wat in die Baptiste en Charismatiese kerke en bewegings gehuldig word. Dit het verskyn in 'n bundel opstelle wat in 1982 opgedra is aan prof AD Pont vir sy vyf-en-twintigjarige ampsjubileum, onder die titel: "Die Kerk in die Wêreld".

Die verbondsgedagte rus volkome op die Heilige Skrif, maar tog het dit in die loop van die jare hier en daar onder die invloed van die subjektivisme en individualisme veld verloor.

Reeds aan die begin van die geskiedenis van die mens, naamlik met Noag en daarna met Abraham het die Verbondsgod sy verbond opgerig (Gen 6:18; 9:9). Byna in alle Bybelboeke lees ons van die verbond van God, die verbondsmaker met die mens. En so loop dit dwars deur die Heilige Skrif tot in die laaste Bybelboek, die Openbaring van Johannes, in hoofstuk 11:18. Dit kom byna 300 maal voor in die Ou Testament.

Die betekenis van die verbond

GW Marchal gee die volgende omskrywing van wat die verbond eintlik is:

Het verbond is de genadige betrekking, waarin God zich vanaf het begin tot ons gesteld heeft, waaraan Hy voor altijd trouw is, waarop wij dienen te reage-ren in het geloof, het ligt vast in zijn verkiezende liefde, het wordt in de tijd geopenbaard, het draagt en stuurt de kerk, het wordt gepraktiseert in het gewone leven en zoals ieder kostbaar geschenk bedreigd door velerlei gevaren.  (HERVORMD WEEKBLAD - 16 Oktober 1980:  Artikel: De Gereformeerde Kerk.)

WA Brakel wys daarop dat verbond (Hebreeus: berith) en testament (grieks: diathêkê), dieselfde betekenis het.

Die twee woorde kan nie sonder mekaar bestaan nie. Die verbond kan sonder die belofte nie verstaan word nie. Hulle word in die Bybel deurmekaar gebruik. Dit is twee bybelse kernwoorde. Met die instelling van die verbond met Abraham kom die belofte dadelik by (Gen 17:7).

''Ek sal my verbond oprig tussen my en jou ...'' en dan dadelik die belofte daarby: ''Ek sal vir jou tot 'n God wees en vir jou nageslag na jou.'' En dié verbond word nie alleen met Abraham opgerig nie, maar ook met sy nageslag ná hom en wel tot 'n ewige verbond.

Hierdie verbond geld nie alleen vir die vleeslike nageslag van Abraham nie, maar ook vir sy geestelike nageslag.

Woelderink wys daarop dat hierdie verbond die moederverbond genoem word. Die moeder dus van al die ander beloftes van God, die bron waar al die beloftes van God deur die eeue heen ontspring. In die beloftes van die goddelike barmhartigheid word vir ons die vader-hart van God in Christus Jesus ontsluit. In die sending van sy Seun op aarde, openbaar God die rykdom van sy genade en heil wat ons op grond van die verbond in Christus deelagtig word. Met die bediening van die heilige doop aan ons kinders, betuig God, die troue Verbondsgod, aan ons en ons kinders, dat Hy '' 'n ewige genadeverbond met ons oprig.

Die instelling van die verbond

Die instelling van die verbond word vir ons geteken in Genesis 15. Vir dié doel word 'n dier geslag en in twee dele verdeel (Gen 15:8-18; Jer 34:18). Dan gaan die deelnemers van die verbond tussen die twee verdeelde stukke vleis deur. Daarmee word dan bedoel, dat met dié een wat die verbond sou verbreek, net soos met die geslagte dier gedoen sal word.

Met die verbondsluiting tussen God en Abraham, val dit op dat alleen God tussen die stukke vleis deurgaan, in die vorm van 'n rokende oond en vurige fakkel (Gen 15:17).

Die verbond het nie van Abrham nie, maar van God uitgegaan. God is die verbondmaker. Hieruit blyk dat die verbond monopleuries (eensydig) is. Dit gaan alleen van God uit. Maar dit bly nie eensydig nie, omdat God die mens as 'n redelike wese daarin betrek. Dan word dit dupleuries (tweesydig). Dit begin wel eensydig, maar dit het die bestemming om tweesydig te word. In die Woord van God lees ons dan ook nie, wat die verbond betref, van óns verbond nie, maar keer op keer van my (Gods) verbond. Al die nadruk val dus op die soewereine genade van God. Hy is die inisiatiefnemer in die oprigting van die verbond.

Van die bondeling, die só bevoorregte mens, word verwag dat hou die verbond moet aanvaar en hou. Hierdie eensydigheid met die verbondsoprigting, word tweesydig deur die gelowige aanvaarding daarvan, deur die in die verbond betrokke mens.

Dat die verbond van God uitgaan, is omdat in die redding van die mens God altyd die eerste is. Hy het ons eerste liefgehad (1 Joh 4:19): ''Julle het my nie uitverkies nie'', sê Jesus aan sy dissipels, ''maar Ek het julle uitverkies'' (Joh 15:16).

Die verbond wat God met Abraham opgerig het, sê nie wie en hoedanig die mens is nie, maar hoe en wie God is. Met die verbondsluiting sê God aan Abraham nie hoe goed hy en sy nageslag sal wees in vergelyking met húlle wat nie in sy verbond ingesluit is nie. Net so min sê God nie, wanneer Hy Israel uit al die volkere van die wêreld uitverkies om sy uitverkore volk te wees, dat die volk van Israel dan beter of verkiesliker as al die ander volke van die wêreld sou wees nie. Hy kies Israel alleen omdat Hy Israel liefhet, ja al het Hy dit ook geweet dat Israel 'n hardnekkige volk is (Deut 7:6-8; 9:13).

As God sy verbond met Abraham en sy nageslag oprig, dan betoon Hy daarmee sy groot genade aan sondaars en aan die kinders van sondaars, wat nie waardig uit hulleself is om deur Hom begenadig te word nie, maar omdat Hy sy barmhartigheid wil bewys, ondanks, ja juis omdat hulle verlore is en sy genade nodig het. As God Isak uitverkies en Jakob, dan sê Hy nie dat Isak beter as Ismael en dat Jakob beter as Esau is nie, of dat Juda, uit wie die Christus gebore sou word, beter as Ruben en Simeon is nie, maar tog rig Hy ook met hulle, ja met hulle almal en hulle nageslag, sy verbond op.

'n Nuwe verbond

As die eerste verbond verwerp word, dan rig God 'n tweede verbond op, naamlik in Christus. Daarom as Jeremia oor die ontrou en die verbondsbreking van sy volk kla (Jer 30 en 31), dan getuig hy van 'n nuwe verbond. Hiervan is Christus die Hoof en Middelaar (Heb 9:15).

Die reformatoriese verbondsleer

Die verbondsleer het die reformatore gevrywaar van die eensydige klem op die uitverkiesing. Dit aksentueer immers ook die menslike verantwoordelikheid in die verbond, want die klem val op die oproep: Julle moet my verbond hou (Deut 29:9).

In die kerk van die Middeleeue het die leer van die goeie werke so sterk op die voorgrond gekom, dat die genadeverbond totaal uit die oog verloor is en plek moes inruim vir die sogenaamde werkverbond.

Dit is eers die reformatore, en veral Calvyn, wat weer die verbond na vore gebring en die genade van God in die verlossingsleer beklemtoon het.

In die negentiende eeu het die verbondsleer in reformatoriese kringe, en met name in Nederland onder invloed van die modernisme van die Franse Rewolusie wat die mens na vore gestoot het, veld verloor. Al meer is die klem gelê op die die mens en wat hy vermag, te wete op die wedergebore mens, die uitverkore mens, die bekeerde mens, wat hy in homself besit en is.

Die veronderstelde wedergeboorte

Abraham Kuyper het met sy teologie van die veronder-stelde wedergeboorte, soos hy dit self genoem het, die beklemtoning van die verbond wat God met Abraham en sy nageslag, met die gelowiges en hulle nakroos, opgerig het, verskuif na die mens wat die kiem van die wedergeboorte in hom sou hê.

Maar ook in die nuwe verbond met die gelowiges en hulle kinders, vra God nie hoe hulle en hulle kinders is nie. Hy vra nie of hulle waardig is om sy verbondskinders genoem te word nie. Maar juis omdat hulle diep skuldig voor Hom staan, juis daarom skenk Hy aan hulle sy genadeverbond net soos hulle is. Daarmee gee God aan hulle die seël en versekering van al die beloftes wat in sy verbond opgesluit lê. Hierdie ryke beloftes sluit ook die belofte van die Heilige Gees in (Hand 2:39).

Hierdie belofte is ook al in die Ou Testamentiese tyd aan Joël belowe (Joël 2:28). Toe was die besnydenis die teken en seël van die verbond van God met Abraham en sy nageslag. In die nuwe verbond, wat ruimer as die ou verbond is en wat alle gelowiges ook uit die heidene insluit, het God dan ook 'n nuwe teken as seël en ver-sekering van sy verbond gegee. Dit is die sakrament van die heilige doop.

Verbond en doop

Die Ou Testamentiese verbond en die Nuwe-Testamen-tiese is dieselfde (Ps 105:8), met dié verskil dat die teken daarvan gewysig is. In die plek van die besnydenis het die doop gekom. Ook in die nuwe verbond is die grond van die doop in wat God skenk, en nie in iets wat die dopeling in homself besit of wat hy doen of wat in hom vermoed of veronderstel word nie. Sy doop is 'n seël van die verbond van God en nie van sy geloof, wedergeboorte of van sy bekering nie. As kind van 'n verbondsgenoot word hy gedoop en nie omdat daar by hom geloof aanwesig is en hy veronderstel word om wedergebore te wees nie, maar omdat ook hy tot die verbond behoort, daarin kragtens geboorte opgeneem is.

As 'n mens dit vashou, dan val by die doop van kinders die moeilike vraag weg, of hulle geloof het en kan hê, of hulle wedergebore is en kan wees. Die doop is van die antwoord op diê vraag nie afhanklik nie, want die doop beseël die verbond. Dit rus nie op die veronderstelling dat die kind miskien wedergebore is nie. 'n Kind van 'n gelowige ouer, ja al is daar maar een gelowige ouer (1 Kor 7:12-14), is tog 'n kind van die verbond en kan die verbondsteken, die heilige sakrament van die doop ontvang.

Die verbond en ruim dooppraktyk

Hy wat die doop grond op die verbond, het as gevolg daarvan 'n ruim dooppraktyk. So was dit met die besnydenis onder die ou verbond. Alle afstammelinge van Abraham het die Ou-Testamentiese verbondsteken ontvang. Die besnydenis net soos die doop, rus immers nie op die geestelike kwaliteit van die dopeling nie, maar op die verbond van genade wat God met Abraham en sy nageslag opgerig het.

In die kringe van die veronderstelde wedergeboorte is die ruim opvatting van die doop prysgegee en klem is gelê op die heiligheid van die verbond. HH Kuyper, seun van Abraham Kuyper, het in sy werk, Hamabdil, 'n lansie gebreek met die oog op die heiligheid van die verbond met loslating van die ruim doopsopvatting. Hy grond die doop op die uitverkiesing van die dopeling. Die genade-verbond van God met die gelowiges en hulle nakroos beperk hy tot die ouers, en tot die grootouers as die ouers van die dopelinge self ongelowig is.

Abraham Kuyper leer selfs in sy E Voto Dordraceno (Deel III,hoofst 8, bl 34):

Maar volhardt iemand desnietemin in de opinie, dat een kind zou gedoopt worden zonder dat daarbij zijn uitverkiezing onderstelt wordt en alsof eerst in den volwassene het genadewerk Gods kon beginnen, dien zeggen wij aan dat hij met geen eerlijke concientie in de Gereformeerde Kerken blijven kan, want onze Gereformeerde Kerken beleden en leerden van ouds het tegendeel.

Die verbond en sektewese

As die verbond uit die oog verloor word, dan kan tereg gevra word: wie sal nou uitmaak wie tot die kerk van Christus behoort? Dan kom 'n mens onvermydelik by die Fariseïsme te lande. Dan ontstaan outomaties die sekte-tipe, wat die kerk alleen maar kan sien as die vergadering van waarlik bekeerdes en wedergeborenes. Dan vier die individualisme en subjektivisme van die Modernisme en Piëtisme hoogty in die gees en gesindheid van die sektewese en verdwyn die verbond van genade uit die oog. En hy wat dié verbond verwerp, verwerp ook die kinderdoop. Dan word nie gelet op wat God aan die verbondskind in die verbond skenk nie, maar op wat hy/sy reeds in hom/haar self besit: naamlik die kiem van wedergeboorte, die uitverkiesing, die bekering.

Hiervan sê Abraham Kuyper dat kinders van gelowiges gedoop word ''niet omdat zij tot de bondgenoten geteld worden, maar omdat zij in den regel reeds feitelijk de eerste genade bezitten, daarom en daarom alleen staat er, dat onze kinderen in Christus geheiligd zijn, en daarom behooren ze als leden van zijn lichaam gedoopt te worden.'' (Kursivering van JD).

So maak die die verbond plek vir iets wat die dopeling besit. Dan is die doop nie meer die teken en seël van die verbond nie, maar dan word die doop die teken en seël van ons geloof, van ons wedergeboorte, van wat ons is en doen en nie van die belofte van God nie.

Die doop is tog juis die omgekeerde, die teken van wat God doen en wat Hy beloof. Ons kan alleen maar glo wat God belowe en ons kan alleen maar na God gaan op ouer leeftyd omdat God eerste tot ons gekom het met sy verbondsgenade toe ons nog maar pas gebore was. Hy het ons eerste liefgehad en ons die teken en versekering van sy genade gegee vóórdat ons daarvoor gevra het.

Met 'n verwysing en met 'n kerk wat die verbond links laat lê, is dit anders. Dan moet die mens optree en toetree tot die godsdienstige vereniging, tot die sekte, tot die kerk waaraan hy wil behoort. En dan kan so iemand die dag en datum van sy toetreding, van sy bekering, van sy onderdompelingsdoop bepaal, want hy/sy is nie lidmaat van die kerk kragtens die genadeverbond van God nie, maar wel kragtens sy of haar menslike besluit.

Maar diegene wat die genadeverbond vashou, is kragtens dieselfde verbond, òf as dooplid òf as belydende lid, 'n lidmaat van die kerk.

Die groot doop impliseer verskuiwing van die Verbondsgod na die mens en dan kom 'n mens as vanself weer by die sogenaamde werkverbond uit. Want daarmee word die doop 'n seël op óns geestelike staat, op wat óns reeds is en reeds besit.