Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
JY MOET JOU NAASTE LIEFHê SOOS JOUSELF Wie is my naaste wat ek moet liefhê? - CB DE W VANDER WALT - EDENVALE - Na aanleiding van die artikel in DIE KERKPAD van November 2000: ''Jy moet jou naaste liefhê soos jouself'', laat veral die laaste paragraaf die vraag ontstaan: ''Moet ek werklik almal wat geskape is na die beeld van God liefhê?'' My antwoord as 'n ''leek'' is beslis ; NEE! Want daar is ook geskrywe: ''Sal ek nie dié haat wat U haat nie?''Die woordeboek HAT verklaar naaste as: ''Wat die digste tot iemand staan; my naaste familie; my naaste vriende; intiemste''. Ek sal graag my medegelowiges hierby voeg.
Christus vermaan sy dissipels om mekaar lief te hê (Joh 15 : 12). Hy beveel dit nie ten opsigte van buitestaanders nie maar wel aan die intieme kring van sy dissipels! Dit is duidelik in die verband van die teks dat dit net bedoel was vir hierdie intieme kring, want Jesus noem die Fariseërs en die Sadduseërs ''addergeslag'' en dit nog wel voor die gehoor van die destydse ''teoloë''! Dit getuig tog nie van liefde bloot in die horisontale betekenis van dié woord nie.
In Mattheus 18 : 15 vv sê Jesus dat as jou broer nie wil luister na die herhaaldelike vermanings nie, dan moet hy vir jou wees soos die heidene en die tollenaars. As my broer dan soos 'n heiden geword het en hy die Godheid verloën en minag, dan is hy 'n vyand van die Drieënige God. Hoe kan ek hom dan nog liefhê?
In Psalm 139 : 21 staan: ''HERE, sou ek nie dié haat wat U haat, en 'n afsku hê van dié wat teen U opstaan nie?'' Christus sê ook (Matt 6:24): ''Julle kan nie God en Mammon dien nie want julle sal die een liefhê en die ander haat''.
Romeine 9:13: ''Jakob het Ek lief gehad en Esau het Ek gehaat''. God haat sy eie maaksel, een van 'n tweeling!
Genesis 38:7: ''Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag. Daarom het die HERE hom laat sterwe''.
Exodus 4:24: ''En op die pad in die herberg het die HERE hom (Moses) teë gekom en wou hom doodmaak'', omdat hy nie sy seun besny het nie. Die Here vernietig sonder aansien des persoon.
1 Korinthiërs 13: Paulus skryf aan die gemeente oor die grootste van baie deugde, naamlik die liefde. Hy skryf nie aan elke Jan Rap en sy maat nie, maar slegs aan medegelowiges; aan 'n gemeente van Christus.
1 Johannes 5:1: ''Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat God liefhet , het ook die een lief wat uit Hom gebore is''. Dit is duidelik dat die wat nie uit God gebore is nie, nie God liefhet nie en daarom is hy ook nie geregtig op die kind van God se liefde nie.
2 Korinthiërs 6:14 vv: ''Moenie in dieselfde juk trek saam met die ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid ...?'' Verse 17 en 18: ''Daarom gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem ...''. Die Here gebied: ''Sonder julle af'' (van die goddelose). Geen vermenging en geen liefde nie!
Psalm 3:8: ''Staan op, HERE, verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend geslaan''. Dawid se vyande is tog ook deur God geskape en hier vernietig God sy maak-sel! Nou verwag die liberaliste dat ek die mense wat die Here haat, moet liefhê. Die duiwel is ook 'n skepsel van die Here; meen dit dat ek, juis daarom, die Satan moet liefhê?
Jesus vermaan die Jode om hulle te bekeer want: ''Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag''.
As die Here, die almagtige en alwyse God sy eie maaksel haat en vernietig, hoe kan ek wat 'n nietige en sondige mens, wat nie aldag weet wat reg en verkeerd is nie, alle mense volgens die liberaliste moet liefhê? Die Bybel se riglyne is duidelik: Betoon liefde aan diegene wat die hemelse Vader liefhet en sy gebooie bewaar en haat dié wat die Here haat. Dawid sê: ''Sou ek die nie haat wat U haat nie ... ek haat hulle met 'n volkome haat ...'' .
Laat ons egter bid dat die goddelose en ongelowige mense hulle sal bekeer. Sodat die boosheid van die mense sal verminder en die getal van die uitverkorenes vol mag word.
Redaksionele Kommentaar:Die skrywer van hierdie opsomming het 'n punt beet as hy liefde in die vertikale perspektief stel. Daar is onderskeie soorte van liefde wat in die Skrif begrond is. So vermeld die Here se Woord tog ook dat ons ons vyande moet liefhê (Luk 6:27 vv). Maar dat is 'n ander liefde as dié ten opsigte van die medegelowiges in die gemeenskap van die heiliges. Daar bestaan 'n antitetiese distansiëring in die samelewing. Dit raak die valse eenheid waarmee ons nie mag saamgaan en aan saambou nie. Maar daar bestaan ook 'n bloot horisontale liefde ten opsigte van ''naastes'' wat deur die Here op ons weg geplaas word. Dit is nie alleen die kringe waarbinne die liefde betoon moet word, wat onderskeibaar is nie, maar ook die grondbegrippe van liefde met sy onderskeie skriftuurlike kontekste. Dit bly, soos die liberaliste dit wil interpreteer en toepas, buite beskouing. Dit is die motief van die skrywer van hierdie artikel. ®