Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

OMSTREDE REEKS HARRY POTTER BOEKE

Towery tesame met Satanisme word só bevorder

'n Insiggewende artikel oor die bogenoemde saak het verskyn in DIE BASUIN van Februarie 2001, 'n tweemaandelikse Christelike aktualiteitstydskrif met 'n evangeliese benadering onder die redaksie van prof JS Malan. Hierdie artikel verskaf nuttige agtergrondsinligting en leiding oor die onderhawige saak wat tans in dispuut is. Ons neem dit met erkenning aan die redakteur van dié tydskrif graag oor vir kennisname van die lesers van ons blad.

Die grootskaalse verval in bybelse norme en Christelike beginsels in die Westerse wêreld het die deur vir 'n toename in Nuwe Era ideologieë, towery en Satanisme wyd oopgemaak. In 1995 was daar 'n geskatte 100 000 Amerikaners, hoofsaaklik volwassenes, wat by die Satanisme betrokke was. Aan die einde van die jaar 2000 was daar volgens Don Stanton 14 miljoen kinders alleen in die VSA wat aan die kerk van Satan behoort het, gedeeltelik as gevolg van die invloed van 'n reeks kinderboeke deur die Skotse outeur, JK Rowling, waarin die towenaarseun, Harry Potter, die hoofkarakter is.

Vier boeke in die reeks van sewe het reeds verskyn, waarvan meer as 50 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop is. Dit is in 35 tale vertaal en het in verskeie lande die top tien lys van beste verkopers gehaal. Die eerste twee boeke (Harry Potter en die towenaar se steen en Harry Potter en die kamer van geheimenisse) is deur Human en Rousseau in Afrikaans uitgegee. Tussen Maart en Mei 2000 het albei boeke al drie drukke beleef.

Die held in die verhaal is Harry Potter, wat op eenjarige ouderdom wees gelaat is toe 'n towenaar, heer Voldemart, sy ouers deur toorkuns vermoor en 'n dodelike vloek oor Harry uitgespreek het. Harry het egter die vloek oorleef en sodoende die dood oorwin. Hy is op die stoep van sy ouerhuis aangetref met op sy voorkop 'n lidteken wat soos 'n weerligstraal lyk. Buite sy wete het hy oor geweldige towerkrag beskik.

Nadat hy elf jaar lank by sy oom en tante gebly het, is 'n brief deur 'n pos-uil afgelewer waarin hy genooi is om die Hogwart-skool vir hekse en towenaars in 'n ou kasteel by te woon. Hier word hy etlike jare lank as 'n towenaar opgelei. Hy vlieg deur die lug met 'n heksebesem, gebruik 'n towerstaf, 'n towenaarshoed en 'n onsigbaarheidsmantel. Hy leer alles oor die voorbereiding van towerdrankies, asook oor towerspreuke en -vloeke. Hy kommunikeer met spoke, praat met die geeste van afgestorwenes, het kontak met verskeie bonatuurlike gedrogte en beoefen astrale reise.

Lesings word deur ervare towenaars aangebied, waar-van een 'n spook is wat deur die muur en swartbord verskyn en dan sy lesing oor die geskiedenis van toorkuns gee. Die leerlinge het ook toegang tot 'n biblioteek met 'n groot versameling boeke oor heksery en toorkuns. Inligting oor gevorderde vloeke en swart kunste is in 'n beperkte afdeling van die biblioteek, wat vir beginners verbode is, aanwesig.

Harry leer alles oor towerplante en hoe om dit met ander bestanddele soos boomslangvel, die naels van sekere diere, netwerkige vlieë en bloedsuiers te meng om 'n sekere doel daarmee te bereik. In die transfigurasieklas leer hy hoe om diere of mense van gedaante te laat verander. Kewers word in knope verander en mense in katte of ander diere soos reuse spinnekoppe. Sommige towerdrankies het geweldige aaklige gevolge, soos 'n heks uit wie se kop 'n hele klomp ekstra pare arms groei, of 'n man wat heeltemal omgedop is sodat sy binnegoed aan die buitekant sit.

In een klas moet Harry sy toorkrag en vernuf teen kwaadwillige blou kabouters inspan wat oral verwoesting saai. Hulle is omtrent 20 sentimeter lank, is baie vinnig en beskik oor bonatuurlike kragte.

Op 'n dag het hy in die donker kasteel 'n geheimsinnige stem met hom hoor praat, wat sê: ''Kom na my toe dat ek jou kan verskeur, vermoor en verslind''. Saam met mede-studente begin hy navorsing oor die onbekende verlede van die duisend jaar oue kasteel te doen. Hulle kom agter dat daar iewers diep onder die kasteel 'n baie misterieuse kamer van geheimenisse is. Daarin is 'n monster met bykans onoor-winlike kragte. Hy kan net deur die erfgenaam van Slibberin, een van die beroemdste towenaars wat daar ooit in die kasteel was, oorwin word.

Op soek na die versteekte vertrek het Harry verskeie grillige ondervindings. Die spoke van mense wat in die kasteel vermoor is, verskyn aan hom. Op een plek het spookperde met koplose ruiters in 'n woeste stormloop deur die muur gebars. Hy praat met die geeste van mense wat weens vloeke gesterf het. Harry sê dat hy hulle lewens met 'n teenvloek kon gered het as hy maar daar gewees het. In 'n muwwe kerker vind hy die oorblyfsels van 'n onthaal van vyfhonderd jaar gelede. Dit word só beskryf:

Aan die oorkant van die kerker staan 'n lang tafel wat met swart ferweel bedek is. ... Dit ruik aaklig. Groot, verrotte visse lê op pragtige silwer borde; koekies, pikswart verbrand, is op skinkborde gestapel; daar is harslag wat krioel van wurms, 'n blok kaas vol groen muf, en in die middel, 'n enorme grys koek in die vorm van 'n grafsteen, met teeragtige versiersuiker waarmee die volgende woorde geskryf is: ''Sir Nicholas de Mimsy-Porpington. Gesterf op 31 Oktober 1492.''

In een van sy leermeesters se kantore maak Harry met 'n feniks kennis, wat 'n bonatuurlike voël is. Hulle bars in vlamme uit wanneer dit tyd is om dood te gaan, daarna word hulle weer uit die as gebore. Fenikse is getroue troeteldiere vir towenaars en hekse, hulle kan swaar vragte dra en hulle trane het helende krag.

In die kamer van geheimenisse raak Harry in 'n doodsbenoude stryd met die monster gewikkel - 'n basilisk, wat 'n reuseslang met dodelike giftande is. Hy oorwin die slang en word sodoende die erfgenaam van die beroemde Slibberin. 'n Groot toekoms as towenaar wag hierna op hom ... .

Fantasie en werklikheid

Die fantasieë in die lewe van Harry Potter is duidelik op gevestigde gebruike in towery en heksery gebaseer, soos wat dit deur die eeue heen bekend geraak het. In die boeke word neerhalend na die ''gewone mense'' as ''muggles'' verwys. Dit is hulle wat nie in toorkuns glo nie en wat dit as boos beskou. Hulle is vir die meeste jongmense vervelig, eensydig en oningelig. Die jeug verkies die fantasiewêreld van hekse en towenaars en maak alle moontlike planne om dié kunste aan te leer en te beoefen. Harry Potter is vir hulle 'n rolmodel.

Deur blootstelling aan 'n fantasiewêreld word ondervindings deur die verbeelding geskep wat selfs 'n groter invloed op mense se waardes en gedrag as werklike ondervindings het. Kyk maar na TV advertensies. Bekoorlike stories wat mense beïnvloed om met 'n ander persoon se ondervindings te identifiseer, is baie sterker instrumente vir gedragsmanipulering as basiese feite. Dit is waarom die meeste adver-tensies beelde oor die optrede van 'n mooi, slim of suksesvolle persoon aanbied, eerder as vervelige feite oor die waarde van 'n produk. Deur die verbeelding te prikkel, eerder as die verstand, kan valse herinneringe en ongewenste begeertes in ontvanklike gemoedere geskep word. Jy word geleer om 'n ander persoon se ervaring met hom te deel.

Die groot invloed wat die Harry Potter boeke op die huidige geslag jongmense het, moet gesien word teen die agtergrond van vervallende Christelike waardes en 'n sterk toename in die beheptheid met 'n bonatuurlike, mistiese wêreld van towerkrag en vreemde ervarings. Hierdie belangstelling word aangewakker deur TV verhale soos Sabrina, the teenage witch, Charmed en Buffy the vampire slayer. Die Hollywood produksie van Harry Potter sal later vanjaar vrygestel word en na verwagting die grootste rol in die bevordering van gesuggereerde toorkuns speel.

Ook sal daar 'n verskeidenheid Harry Potter speelgoed en speletjies bemark word, wat saam met Pokémon (POcKEt MONsters), Dungeons & Dragons en ander fantasiespeletjies, die belangstelling in en betrokkenheid by die okkulte verder sal bevorder.

Daar is reeds verskeie aanduidings dat baie van die jongmense die onderliggende boodskap van Harry Potter se towerkultuur ernstig opneem en ook self in die praktyk wil navolg. Die outeur van dié boeke sê dat sy briewe van kinders kry wat aan professor Dumbledore, die hoof van die skool vir toorkuns en heksery in die boeke, gerig is. Hierin vra en smeek hulle selfs om tot die skool vir towenaars en hekse toegelaat te word. Hulle glo in die werklikheid van hierdie kragwêreld en is vas beslote om darin op te gaan.

Die simbool van krag

Baie van die kinders trek soos hekse en towenaars aan en laat ook, om soos Harry Potter te lyk, die simbool van 'n weerligstraal op hulle voorkoppe tatoeëer. Hieronder is 'n paar weergawes daarvan:

Die weerligstraal is 'n baie algemene simbool van 'n onsigbare krag. Dit word ook gebruik om elekriese krag mee aan te dui. Onder die Sa-taniste beeld die weerligstraal saam met die pentagram die krag van Satan uit . Hulle beweer ook dat die straal met die pylpunt aan sy onderkant die val van die Christendom aandui. Tog is dit is nie waar nie, want die val van Satan uit die hemel word met 'n (afwaartse) weerligstraal vergelyk (Luk 10:18).

Onder die hekse en towenaars is die weerligstraal die uitbeelding van 'n onsigbare towerkrag wat op 'n persoon gerig kan word om hom te vermink, aan 'n kwaal te laat ly of hom dood te maak. Hierdie krag kan uit 'n heks of towenaar se towerstaf of hande vrygestel word, en selfs ook uit sy oë. Tydens 'n vervloeking kan 'n helder gloed uit sy oë skyn.

Belangstelling in Satanisme

Volgens persberigte laasjaar in die VSA is daar 'n baie groot toeloop van jeugdiges na Sataniese tempels. Hulle soek inligting oor hoe om geeste op te roep, beswerings te doen en vloeke uit te spreek. Uit evangeliese Christelike kringe is daar herhaalde waarskuwings om boeke te vermy waarin magiese praktyke en toorkuns, en by implikasie ook Sata-nisme, bevorder word. Ten spyte hiervan is daar miljoene kinders wat hulle liggame én siele deur bloedverbonde aan Satan gee in ruil vir bonatuurlike magte. Die Lock Haven Daily News in Pensylvania berig soos volg:

Ashley Daniels is 'n tipiese nege jaar oue Amerikaanse meisie ... Sy het die Harry Potter boeke gelees. Dit het haar net vier dae geneem om die laaste een,The goblet of fire, wat 636 bladsye beslaan, te lees. Soos sommige van haar skoolmaats, was sy genoegsaam onder die invloed van die vreemde, okkultiese aktiwiteite in die Hogwart skool vir Toorkuns en Heksery om haarself, soos Harry en sy maats aan die beoefening van die swart kunste te wy. Sy het gesê: ''Ek het altyd geglo wat hulle ons in die Sondagskool geleer het, maar die Harry Potter boeke het aan my gewys dat toorkuns werklik is, iets wat ek nóu kan leer, en dat die Bybel niks anders as vervelige leuens is nie''. Sy het probeer om Karebus, die driekoppige hellehond, op te roep.

Die tienjarige Craig Nowell het gesê: ''The Harry Potter books are cool, cause they teach you all about magic and how you can use it to control people and get revenge on your enemies. I want to learn the Cruciatus Curse to make my science teacher suffer for giving me a D''. Hy het by die New Satanic Order of the Black Circle aangesluit. Die elf jaar oue Bradley Winters het gesê dat wanneer hy grootgeword het, hy dan wil leer om geeste en magtige demone op te roep.

Uiteenlopende reaksies

Daar is uit Christelike en onderwyskringe teenstrydige en uiteenlopende reaksies op die Harry Potter boeke. Dr Andrea Collins van Focus on Faith in Denver, sê: ''Hierdie boeke beeld nie net een of twee gebruike van towerspreuke en kristalballe uit nie, maar honderde okkultiese gebruike. Die natuurlike, intuïtiewe sprong vanaf die lees van 'n Harry Potter boek tot die verwerping van God en die verering van Satan, is vir 'n jeugdige baie maklik om te maak. Die groot getal kinders wat dit wél gedoen het, is 'n bewys daarvan. Hierdie boeke is magies en daarom baie gevaarlik''. Die outeur van dié boeke is oor dié tendens uitgevra, maar sy is nie daaroor bekommerd dat haar boeke dié gevolg het nie.

Aan die ander kant van die spektrum is daar ook dié ''Christelike'' groepe (asook sekere teoloë in Suid-Afrika, onder andere 'n vroueteoloog by UNISA) wat geen gevaar in die boeke sien nie. Die Rooms-Katolieke tydskrif, Catholic Studies, prys die Harry Potter boeke en sê dat dit die kinders leer dat kwaad deur goed oorwin kan word.

Die feit is egter dat daar selde in die boeke 'n teenstelling tussen goedwillige en kwaadwillige toorkuns is, waarin laasgenoemde as die ''donker kunste'' beskryf word. Ge-woonlik is dit dieselfde towerkrag wat met verskillende motiewe aangewend word. Dit is eerder 'n geval van kwaad teen kwaad. Enige vorm van betrokkenheid hierby is okkulties en, by implikasie, demonies.

Onderwys-owerhede, wat in die meeste gevalle nie meer aan Christelike beginsels verbonde is nie, verwelkom hierdie boeke om twee redes: 1, Hulle is goed geskryf, en 2, hulle maak kinders opgewonde en geesdriftig om te lees. Hierdie en verskeie ander boeke oor dieselfde tema, en selfs ook Darwin se boek oor evolusie (The origin of Species), word deur jeugdiges verslind. 'n Skoolhoof in Gulfport sê: ''Ek het 'n vyfde graadse leerling wat vantevore in sy lewe nog nooit 'n boek gelees het nie. Skielik is sy belangstelling gaande gemaak en het hy in 'n kort tyd verskeie boeke gelees, waaronder Sorcerer's Stone, Prisoner of Azkaban, Chamber of Secrets, Goblet of Fire, The Seven Scrolls of the Black Rose, The Ecronomicon, The Satanic Bible en The Origen of Species''.

Die vier Harry Potter boeke is nie uniek nie, maar het op die ''regte tyd'' 'n baie ontvanklike mark getref. Saam met ander boeke oor die okkulte het dit miljoene verveelde jeugdiges wat weens sekulêre of multigodsdienstige onderwys geen Christelike ankers en riglyne het nie, op 'n verbeeldingryke reis na 'n onbekende, okkultiese wêreld van hekse en towenaars meegesleur. Sodoende word hulle sinne en onderskeidingsvermoë deur die god van hierdie wêreld (Satan) verblind (2 Kor 4:4), en word die weg na betrokkenheid by 'n werklike wêreld van demone, verleidende geeste, bonatuurlike kragte en leringe van duiwels geopen (1 Tim 4:1). Salomo het gesê: ''Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood'' (Spr 14:12).