Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
DIE BOEDDHISME EN SY LEIERS Net buitekant Bronkhorstspruit is die grootste Boeddhistiese tempel in die suidelike halfrond opgerig. Die Boeddhisme is van oorsprong 'n Oosterse godsdiens maar vind tans in toenemende mate aanbidders wat voorheen tot die Christelike geloof behoort of behoort het, veral in Europa maar ook in ons land. Daar is baie wat nie die suigkrag en die sin van die Boeddhisme verstaan nie. Dit is vir die oningeligtes 'n onbekende godsdiens waaraan verbygegaan word. Tog is dit belangrik om daarvan te weet, om dit in die praktyk te kan weerstaan as daar 'n konfrontasie met aanhangers van dié godsdiens plaasvind. Ds Jaco Beyers van die Nederduitsch Hervormde Kerk, gemeente Verwoerdburg, het 'n uitgebreide artikelreeks hieroor gepubliseer in KONTEKS, 'n tydskrif van die Ned Hervormde Kerk, uitgawes Julie, Augustus en September 2000, wat ons met erkenning aan die skrywer en die uitgewer in verskillende aflewerings DV in ons blad publiseer. - Tweede aflewering -
Die edele agtvoudige pad en heilige geskrifte
In die eerste aflewering het ons reeds na die begrip nirwana verwys wat dui op die volkome vrymaking van alle wette wat die menslike bestaan regeer. Nirwana is die einde van alle lyding. Die weg daarheen is die weg van die edele agtvoudige pad.
Die rol van lyding (die vier edele waarhede)
Die vier edele waarhede is die filosofiese fondasie waarop die boeddhistiese godsdiens gebou is. Die Boeddhisme leer dat die Boeddha tot die volgende insigte gekom het ná 'n tyd van meditasie:
Alle mense ken lyding. Elke mens se lewe word gekenmerk deur een of ander ervaring van lyding. Om gebore te word is lyding; om ouer te word is lyding; siekte is lyding; bekommernis, wanhoop en pyn is alles lyding. Die hoeveelheid lyding wat 'n mens ervaar, word bepaal deur 'n mens se manier van lewe in die vorige bestaan.
Waar ontstaan lyding? Alle lyding word veroorsaak deur die begeerte na verkeerde dinge. Lyding kom dus as gevolg van die mens se onkunde oor wat die waardevolle dinge van die lewe is en wat nie. Mense koppel verkeerde waardes aan dinge in die lewe. Dit veroorsaak lyding.
Hoe hou lyding op? Die boeddhistiese godsdiens is 'n totale poging om van lyding te ontsnap. Lyding kan ophou die oomblik as die mens kan loskom van die ewige siklus van weergeboorte in 'n volgende lewe. Lyding hou op sodra 'n mens nirwana bereik.
Wat is die weg hoe lyding verwyder kan word? 'n Mens kan deur 'n sekere lewenstyl loskom van lyding. Dit is dus die weg waarlangs nirwana bereik kan word. Dit is die weg van ''die edele agtvoudige pad''. Dit is die leer vir hoe die lewe van 'n goeie Boeddhis behoort te lyk.
Die agt sake van die pad kan in drie groepe verdeel word: die eerste twee staan onder die opskrif van wysheid en begrip. Die volgende drie verwys na etiese gedrag en die laaste drie na geestelike dissipline.
Regte kennis of begrip. Dit beteken dat 'n mens die basiese van die boeddhistiese godsdiens moet ken en verstaan, naamlik die Vier Edele Waarhede.
Regte houding of ingesteldheid. Dit verwys na die regte voorneme wat 'n mens moet hê, naamlik om vry te wees van begeerte, om nie leed aan ander te doen nie, maar barmhartigheid te betoon. Dit wil sê om vry te wees van haat en wraak.
Regte spraak. Dit beteken dat 'n mens moet wegbly van leuens, kwaadwillige praatjies, skinder en sinlose ligsinnigheid. Wanneer 'n mens praat, moet dit wyse woorde wees wat op versoening gerig is.
Regte dade. Boeddhisme pleit vir hoë morele gedrag. Alle moord, diefstal en owerspel word streng verbied.
Regte lewenswyse. Dit beteken dat die beroep wat 'n mens beoefen, van so 'n aard moet wees dat ander mense nie daardeur skade of leed aangedoen word nie.
Regte inspanning. 'n Mens moet oefen om alle versoe-kings om die bose dinge in die lewe te doen, te vermy. 'n Mens moet liewer oefen om die regte en rein gedagtes, dade en woorde te gebruik.
Regte aandag. 'n Mens moet oefen en let op die regte en rein dinge in die lewe. Vermy die bose begeertes. Konsentreer op jou eie ervaringe en maak seker dat dit rein en goed is.
Regte kalmte. Deur kalm te wees, kry 'n mens die regte insigte. Die kalmte kom oor jou wanneer jy konsentreer, sodat alle kettings wat jou vasbind aan jou eie begeertes, verbreek word.
Wêreldbeskouing
Die Boeddha het self geleer dat alles in die wêreld voortdurend aan die verander is. Alle dinge is ook aan mekaar geskakel. Niks in die wêreld is voltooi of volmaak nie. Alle dinge sal voortdurend verander. Soos wat een ding verander, beïnvloed dit ook die ander sake waarmee dit verbind is. geen mens is volkome geskape nie en 'n mens se lewe verander voortdurend. Selfs al sterwe 'n mens, word hy/sy weer in 'n ander vorm gebore.
Alle dinge is met mekaar gekoppel en het 'n invloed op mekaar. Omdat alle elemente op aarde met mekaar gekoppel is, verander die verhouding waarin alles tot mekaar staan. Daar word voortdurend nuwe kombinasies van elemente gevorm en daar is geen einde aan hierdie proses nie. Die voortdurende herrangskikking van elemente maak die wêreld soos wat dit is.
Ons as mense bestaan in die wêreld. 'n Mens moet jou eie waarde vergeet en prysgee. Jy is slegs 'n deel van al die dinge wat op aarde bestaan. Die oomblik as jy nog probeer vashou aan die eie ek, is jy die verste verwyder van alle kennis en insig. Solank as ek op myself gefokus is, sal lyding deel van my bestaan wees. 'n Mens moenie dink aan my onsterflike siel nie. Dit is 'n illusie. Die mens kan oor en oor gebore word, telkens in 'n nuwe vorm en liggaam.
Daar is egter geen deurlopende identiteit wat behoue bly nie. Die mens is en bly deel van die totale wêreldgees in en om ons.
Heilige geskrifte
Alles wat die Boeddha geleer het, is eers mondelings oorgelewer. Sy leer is eers op 'n later stadium op skrif gestel. Kort na die dood van Guatama is daar 'n vergadering van al sy volgelinge gehou waar ooreengekom is oor al die dinge wat hy geleer het. Honderd jaar later is daar weer 'n vergadering gehou, (die tweede Boeddhistiese Konsilie), waar die leer van Boeddha hersien is. 'n Volgende vergadering is in 523 v C onder die toesig van keiser Asoka in die stad Pataliputra gehou. By hierdie derde Boeddhistiese Konsilie het duisende monnike vir nege maande lank gesit en die tradisies nagegaan, dit voltooi en kategories ingedeel. Tot op hierdie stadium was alles nog mondelinge oorleweringe.
Eers in die eerste eeu v C is die eerste boeddhistiese tradisies op skrif gestel. Dit het plaasgevind op die eiland Ceylon, vandag Sri-Lanka genoem. Hierdie geskrewe dokument word die Pali-kanon genoem. Ook staan dit as die Tripitaka of drievoudige mandjie bekend. Die Tripitaka bestaan uit drie dele wat op palmblare geskryf en in mandjies bewaar was.
Naas die Tripitaka bestaan daar ook ander boeddhistiese geskrifte. Nie alle splintergroepe binne die Boeddhisme aanvaar al die bestaande geskrifte nie. Die tradisionele Boeddhiste erken egter nie al die bykomende dokumente wat deur van die ander groepe erken word nie.
Geestelike leiers
Die leierskap van die boeddhistiese godsdiens is moeilik om te identifiseer. Aangesien Boeddhisme so 'n verskeidenheid van vorme in verskillende lande aangeneem het, het daar 'n magdom leiers ontstaan. Een van die bekendste leiers is die Dalai Lama. Hy is die geestelike leier van die Tibetaanse Boeddhisme. Dit beteken dat hy die geestelike leier is van die Boeddhisme soos wat dit in Tibet beoefen word. Baie Boeddhiste regoor die wêreld beskou die Dalai Lama as hulle geestelike leier. Soos die pous vir die Rooms-Katolieke wêreldwyd die leier van hulle kerk is, so is die Dalai Lama vir die meeste van die Boeddhiste hulle gesaghebbende leier.
Die Dalai Lama word as 'n reïnkarnasie van die Boeddha beskou. Sodra hy sterf, word sy siel weer in 'n jong seun geïnkarneer. As hierdie seun die tradisionele toetse slaag, sal hy as die opvolger aangewys word. Die eerste Dalai Lama was Sonam Gyatso. Hy was die leier van 'n monnikeklooster wat in 1578 deur die destydse Mongoolse regeerder as leier van die boeddhistiese gemeenskap aangewys is. Ná hom is al die opeenvolgende leiers van hierdie klooster as die geestelike leiers van die Boeddhiste aangewys. Vir 'n lank ruk was die Dalai Lama ook die politieke leier van Tibet, totdat in 1950 die Chinese regering Tibet oorgeneem het. Die huidige Dara Lama, Tenzin Gyatso, is die veertiende sodanige leier van die Boeddhiste. Hy vertoef tans in ballingskap in Indië. In 1989 is die Nobelprys vir vrede aan hom toegeken vir sy doelgerigte pogings om rus en vrede in Tibet te herstel. In Desember 1999 was hy in Suid-Afrika waar hy die opening van die Parlement van Wêreldgodsdienste in Kaapstad bygewoon het.
Leergeskille
Kort na die dood van Guatama, het sy volgelinge begin verskil oor die interpretasie van die kernleer van die Boeddha, naamlik oor hoe die Vier Edele Waarhede en die Agtvoudige Pad verstaan moet word. Twee definitiewe groepe het ontstaan. Die konserwatiewe Therevadane en die meer liberale Mahasang-hikas.
Die Therevadane roem daarop dat hulle baie getrou bly. Hulle glo hulle het die regte en enigste interpretasie van die Boeddha se leer. Hulle beklemtoon ook die pogings wat elke indiwidu het om verlossing te bereik. Geen godheid kan 'n mens help om gered te word nie. 'n Mens kan deur die manier waarop jy lewe, jouself red. Die Therevadane verwerp alle rituele en die aanbidding van beelde. Selfs die beeld van Boeddha is, sê hulle, onnodig.
Die Mahayana-rigting glo dat daar verlossing en redding vir die hele mensdom moontlik is en nie net vir die paar mense wat reg en rein lewe nie. Daarenteen glo die Therevada-groep dat slegs 'n monnik wat rein lewe, gered kan word. Die Mahayana-skool is geneig om toegewings ten opsigte van gods-diensbeoefening te maak, sodat dit in die smaak van die massas val. Hulle gebruik ook 'n klomp ander heilige geskrifte as net die tradisonele, soos wat die Theravada-groep slegs aanvaar.
Die Mahayana-groep het 'n interessante byvoeging oor die leer van Boeddha, naamlik dié oor die Bodhisattva. Dit is iemand wat baie naby aan die verligting van die Boeddha kom of iemand wat daarna streef. Die Bodhisattva stel egter die verligting uit net om nog langer op aarde te wees om ander mense te kan help. Hy of sy kan selfs toegang tot die nirwana weier net om nog langer tyd gegun te word om naasteliefde op aarde te betoon. Die Bodhisattva word dus meer as net 'n leermeester. Hy of sy word 'n middelaar of verlosser vir ander mense. 'n Bodhisattva kan beskou word as iemand wat so rein en opreg met insig en kennis lewe, dat hy/sy naby aan die lewe van die Boeddha self kom.
Die Mahayana, net soos die Therevada-groep erken dat daar meer as een Boeddha was en kan wees . Die Mahayana sê egter dat die aantal Boeddhas soos die sandkorrels van die strand kan wees.Die Therevada-groep glo daarenteen nie dat daar so baie Boeddhas kan bestaan nie.
Die volgelinge van Guatama, of hulle nou uit die Mahayana- of Therevada-groepe kom, het hulle in monnikegroepe versamel wat in kloosters saamgebly het om die leer van die Boeddha aan ander te verkondig. Hierdie monnike was altyd afhanklik van wêreldlike regeerders om hulle te beskerm, te versorg en te onderhou.
(Word vervolg)