Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

BYBEL EN KORAN VERSUS BYBEL OF KORAN

PROF HENNIE AJ KRUGER  -  SKOOL VAN GODSDIENS EN KULTUUR  -  UNIVERSITEIT VAN DURBAN-WESTVILLE

DEEL I

Omstrede uitsprake

Die onlangse vraag van prof Izak Spangenberg of die verskillende godsdienste nie miskien 'n refleksie van die ''veelkleurige genade'' van God verteenwoordig nie, het gelei tot hewige debatte (laasjaar) in die pers en in DIE KERKBODE. Die Algemene Sinodale Kommissie van die Ned Geref Kerk het teen hierdie agtergrond 'n uitspraak (en vermaning) in Die Kerkbode gepubliseer wat die Kerk en sy leraars se verbintenis tot die Skrif en Belydenisse herbevestig, onder andere dat Jesus Christus die enigste weg na God is.

Verwarring: Spreek die Drieënige God deur Bybel én Koran?

Dit wil egter voorkom asof die skynbare onskuldige aanhaling van 'n sekere uitspraak van mnr Callie Strydom (laasjaar se gyselaarsdrama) in dié verband (Die Kerkbode 15-9-2000, bl 10), onopgemerk verbygegaan het. Daarin verwys prof Julian Müller in sy skrywe onder die opskrif: ''Callie en Monique Strydom ontmoet ook 'ander godsdienste' '', na mnr Strydom se uitspraak dat God naamlik twee instrumente in hulle krisissituasie sou gebruik het, te wete die Bybel én die Koran. Die vraag is of ons mnr Strydom se uitspraak reg verstaan, soos deur prof Müller meegedeel. Hoe dit ookal sy, die inhoud van dit wat mnr Strydom in die Koran gelees het is nie hier ter sprake nie, behalwe miskien die vraag of hy van uitsprake in die Koran oor die neem van gyselaars deur Moslems kennis geneem het (byvoorbeeld Koran: Sura VIII:67-70)? Die saak wat hier beoordeel moet word, hang saam met die vraag of mnr Strydom na bewering werklik die stem van die Drieënige God, die God van die Bybel, by die lees van die Koran verneem het. Prof Müller se mededeling skep die indruk dat laasgenoemde wél die geval is. In dé verband is die volgende van toepassing.

Hoe breed vloei die rivier van God se openbaring?

Die voorbeeld as sou die Drieënige God die Bybel én die Koran gebruik het in die noodsituasie waarin mnr en mev Strydom verkeer het , word nou gebruik om Christene daarteen te waarsku, soos dit gestel word, dat ons nie mag oordeel oor hoe God wil werk nie en dat ons Hom nie noodwendig moet beperk tot die spreke deur die Bybel nie. Hiervolgens kan God dus by geleentheid deur die Koran tot Christene spreek as hy so verkies. So 'n redenasie kom egter verdag voor. Die probleem met hierdie stelling is dat dit nie die mens is wat God wil beperk, soos prof Müller dit stel nie, maar God wat Homself beperk het, om naamlik slegs deur sy profete te spreek en ten slotte finaal deur sy Seun (Heb 1:1-2). Dáár loop die grense van God se Woordopenbaring. Die hierbo genoemde uitsprake sal teen hierdie riglyn getoets moet word. Die uitspraak van 'n enkeling wat op dié moment onder groot psigiese druk verkeer het, waartydens iemand gewoonlik na enige strooihalm sal gryp, word aangehaal en gebruik om die aanvegbare stelling te maak dat God in daardie omstandighede deur die Koran sou gespreek het, om later gerieflikheidshalwe weer terug te skakel toe 'n Bybel aan hierdie persoon oorhandig is. Prof Müller praat selfs van die feitelike van hierdie ervaring en/of stelling dat God deur die Koran met die gyselaars sou gepraat het. Ek is van mening dat die betrokke perso(o)n(e) nie die stem die God van die Bybel in die lees van die Koran gehoor het nie. Ek vra graag: Verteenwoordig hierdie inklusiewe denke miskien die dun end van die wig om die spreke van God, wat volgens die Christelike geloof en tradisie in die tweedelige Kanon van die Ou en Nuwe Testamente vervat is, uiteindelik uit te brei na ten minste 'n driedelige Kanon (Ou Testament, Nuwe Testament én Koran), omdat die Christendom, Jodendom en Islam almal as monoteïstiese godsdienste beskou word? In hierdie mededeling word 'n sekere pastorale aanvoeling oordryf as só 'n uitspraak van 'n enkeling in 'n noodsituasie bó die eksklusivisme van die bybelse Kanon verhef word. Vir Christene spreek God net deur sy Woord en Gees.

DEEL II

'n Verwarde en willekeurige God?

Ongelukkig kan geen onaangename ervaring van watter aard ookal (in hierdie geval, om gyselaar te wees), God daartoe bring om in elke nuwe situasie sy openbaring willekeurig uit te brei óf op te skort, soos in die onderhawige geval beweer word, deur middel van 'n ''heilige'' boek van 'n nie-Christelike godsdiens te spreek en gerieflikheidshalwe terug te skakel na sy ''normale'' program sodra daar 'n Bybel beskikbaar is nie. Hier moet mens dan vra: Het God dalk twee agendas?

As dít waar sou wees, tree die God van die Bybel nogal verwarrend op. Enersyds verwys die Koran wel na Jesus. Hy word selfs as Christus Jesus aangedui (Koran: Sura III:45). Hierdie verwysing is egter misleidend. Volgens Sura IX:30-31 is Chris-tene deur Allah vervloek omdat hulle Jesus as die Christus erken. Die Koran ontken ook die kern van die Evangelie, naamlik die sterwe en dus ook die opstanding van Jesus Christus (Koran: Sura IV:156-157). Indien die God van die Bybel inderdaad só ongenuanseerd sou spreek en optree, bestaan daar geen grense vir die openbaringswaarheid van die Evangelie nie. Dan het ons te doen met 'n verwarde en willekeurige God op wie niemand kan peil trek nie. Die impikasies vir die Kerk is duidelik. Dan kan hy maar liewer sy deure toemaak, want dan het Christus tever-geefs gesterf en is ons geloof nutteloos.

Polemiek

'n Polemiek rondom die vraag (of die stryd) wie reg het in verband met die aansprake van die Christene teenoor die aanhangers van ander godsdienste, maak volgens prof Müller nie sin nie. Volgens hom moet ons net die verhaal van Jesus vertel. Met laasgenoemde kan mens gedeeltelik saamstem. Myns insiens kan dit egter nie vertel word sonder dat die polemiese aspek (dit wil sê om die waarheid van die Evangelie teenoor aanhangers van ander gods-dienste te handhaaf) 'n integrale deel van dié geskiedenis vorm nie. Uit 'n sekere oogpunt bekyk, vorm die strydvraag tussen die kinders van die Here en die aanhangers van ander gode oor wie naamlik die ware God is, 'n konstante tema in die Ou en Nuwe Testament. Alreeds Genesis 1 - 11 is deurspek met 'n polemiek wat sentreer oor die ware God teenoor die afgode van dié tyd. Die groot profete sluit hierby aan (vgl Jesaja 40 - 48). In die Nuwe Testament het Jesus telkens 'n woordestryd gehad met diegene wat sy unieke aansprake ontken het (bv Joh 8 : 1 - 59). Paulus het met gemeentelede geargumenteer oor die vraag na die uniekheid van Christus teenoor die gode (bv 1 Kor 8 : 1 - 6). 'n Woordestryd vorm 'n onmisbare deel van die Evangelieverkondiging.

Christene huiwer

Dit wil voorkom asof ons as Christene al meer huiwer om te bely dat ons in 'n unieke God en in 'n unieke Saligmaker glo. Onder druk van die pas afgelope Wêreldparlement van Godsdienste in Kaapstad (Desember 1999), gevolg deur 'n byna soortgelyke byeenkoms in Durban, lyk dit asof baie Christene wil swig en nou begin worstel met 'n herdefiniëring van die God van die Bybel en die grense van die Evangeliese waarheid. Om die ideaal van 'n verenigde nasie in politieke sin te bou, moet die grense van die waarheid soos dit in Jesus Christus saamgevat is en soos die Kerk dit verstaan, nou verskuif om alle godsdienste van die wêreld daarby in te sluit. Want alle godsdienste moet steun verleen om die nasie te bou. Dus, uiteindelik een regering, een nasie, een godsdiens, één God?! Volgens hierdie gedagterigtings word die God van die Bybel herdoop tot 'n ''reënbooggod''!

DEEL III

Sendingsopdrag en onsuiwer sendingmotief

Die gebruiklike antwoord op die vraag, wat van diegene buite Christus word, lui ongeveer só: Die saak is in God se hande, met die implikasie dat God 'n ge-deelte van sy verlossingsplan van ons weerhou. (Vgl ons kritiese kommentaar op die Hervormingsdaggetuienis van die professore van die Teologiese Skool te Potchefstroom , in die Januarie-uitgawe van ons blad, bls 26, naamlik hulle getuienis om ''geen oordeel uit te spreek oor diegene wat nooit die evangelie van Jesus Christus gehoor het nie, en dat hulle bestemming oorgelaat word in die hande van die Here wat oor almal regverdig oordeel.'' Dieselfde gedagte word ook aangetref in die ''Geloofsverklaring 2000'' - P van der Kooi [red])

Hier tref ons nog 'n probleem aan. Nêrens in die Skrif word daar iets aangebied wat naby aan so 'n vraag of antwoord kom nie. Die Bybel sê wel dat Christus die enigste Weg na God is. Die implikasie is duidelik. Hierdie opvatting kan egter ook as rookskerm vir laksheid ten opsigte van die sendingsopdrag dien. Direk ná sy bespreking van die persoonlike gevoelens van mnr Strydom, word die medemenslike ervaring van die kyk-in-die-oë as sleutel deur prof Müller gebruik om sy standpunt te versterk.

Ons sal goed doen om in hierdie verband kennis te neem dat die ''jammer-voel-vir-ander''-stelling soms voorkom as 'n sendingsmotief, maar dit is lankal afgewys as van 'n onsuiwere aard. Ek verwys ook na Christene wat in townships gewoon het en mense van ander gelowe daagliks in die oë gekyk het, maar vir wie die jammer-gevoel nie die grense van die openbaring verskuif het nie. Volgens prof Müller word waarheidsaansprake getemper omdat dit geloofsuitsprake is. Indien die aanspraak op die waarheid van die Evangelie nie deel vorm van die vertel van die geskiedenis van Jesus Christus nie, waarom dit nog vertel? Met die oog daarop verwys prof Müller na die sendeling Newbigin as riglyn om ons in die verkondiging van die Evangelie te help. Dis in orde. Maar sendelinge én praktiese teoloë(?), wat beide my bewondering wegdra, was ongelukkig nie altyd die Kerk se beste Bybelverklaarders nie. Die Ou Testament wat juis so uitvoe-rig 'n polemiek teen die aanhangers van die (af-)gode voer, is dikwels in die onderrig op die sendingsvelde onderskat.

Veelkleurige genade?

Die vraag moet gevra word of die onvermoë van die kerk om die hele wêreld te kersten, genoeg motivering bied om voortaan die Christelike godsdiens saam met ander godsdienste as uitdrukking van God se ''veelkleurige genade'' te verstaan. 'n Soort défaisme! Afgesien daarvan dat hierdie gedagtes neig na heno-teïsme (ander gode word erken, maar met net één God word rekening gehou), en 'n pragmatiese teologie, sal dit miskien loon om weer 'n slag na die begrip genade te kyk. Die genadebegrip het vir baie 'n betekenis soos dit vasgelê is deur die Afrikaanse idioom: ''So wyd soos die Heer se genade''. So 'n stelling kan maklik tot misverstand lei.

Die genade van God het sy uiterste grense bereik toe Hy Christus aan die dood oorgegee het. Die heilsaanbod van God se genade word aan alle mense in die uitoefening van die sendingsopdrag voorgehou. Die heilsdaad van God se genade word tot Christus beperk. Gevolglik kan die genade van God nie oorkoepelend aan die wye spektrum van die verskillende godsdienste gekoppel word nie. Die genade van God sluit nie 'n variasie van die ware en valse godsdienste in nie.

Hierdie werkswyse van God dra ook 'n bepaalde karakter, wat by geeneen van die nie-Christelike godsdienste voorkom nie. Sy werkswyse sluit 'n proses van lyding in. Israel se ondergang in die ballingskap was veronderstel om die genade van God aan die mensdom voor te hou. Omdat Israel egter nie in hierdie doel geslaag het nie, word God se plan nou voortgesit deur Jesaja se lydende Dienaar van die HERE, wat in Jesus Christus vervul is, toe Hy ondergegaan het om die genade van God aan die wêreld te bring. Slegs op hierdie wyse is dit vir ongelowiges (én aanhangers van ander (af-)godsdienste) moontlik om dié verlossing deelagtig te kan word. Teen hierdie agtergrond kan daar wel sprake wees van God se veelkleurige genade. Maar weer slegs binne die terme van die reënboogverbond met sy volk en die nasies (Gen 9; Openb 4).

BRONNE:

DIE KERKBODE 15-9-2000

DIE KORAN: SURA III : 45; IV : 156 - 157; VIII : 67 - 70 en IX : 50 - 31

GC OOSTHUIZEN. 1968. POST-CHRISTANITY IN AFRICA. STELLENBOSCH: T WEVER. (BL 163)