Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

DIE INTERGELOOOFSAANSLAG

Hoe moet die kerk en sy lidmate hul ten opsigte daarvan posisisioneer?

- Artikel van 'n anonieme skrywer -

DIE INTERGELOOFSAANSLAG

As 'n mens "waarheid" verstaan as die fondament waarop jy jou lewe bou, is dit duidelik dat elke denkende mens so 'n basis moet hê. Daarsonder sou ons die grondslag; die integrasiepunt vir die lewe self verbeur en doodeenvoudig nie sinvol kon leef nie.

Alle mense het natuurlik nie dieselfde begrip van die waarheid nie. Vir oortuigde Christene is God die Bron van alle waarheid en is die waarheid geleë in alles wat Hy sê (dink aan die Bybel) en doen (dink aan sy skepping, onderhouding en verlossing van sy wêreld in Christus). Op dié durende Fondament kon Christene, veral sedert die sestiende eeuse Reformasie, met sekerheid bou en die hele lewe so begin inrig!

Die humanisme het egter gedurende die afgelope tweehonderd jare die Christendom as algemeen -aanvaarde, geldende lewensbeskouing in die Weste toenemend begin vervang. In die tyd toe die rasionalistiese humanisme die toon aangegee het (vanaf die agttiende eeu tot ongeveer die helfte van die twintigste eeu) is geglo dat die waarheid in die vermoë van die mens se rede (verstand/wetenskap) lê om die vaste wetmatigheid in die werklikheid (ook dáárin is geglo) te ontdek en te bestuur om die ganse lewe na 'n blink beheerde toekoms te lei. Nuwe opvattings met twyfel oor die werklikheid se "wetmatigheid", nuwe wetenskapsopvattings en die aaklige toepassing van kennis en tegniek op byvoorbeeld oorlogvoering, het die aanvanklike vertroue op die rede laat kantel en laat omswaai na die vertroue in iets anders van die mens. Die nuutste gestaltes van die humanisme (kosmiese humanisme oftewel die "New Age"-geloof) neem aan dat die waarheid in die (gees) van die mensdom as 'n geheel lê en dat dit deur 'n soort mistieke ervaring ontdek word.

Dié waarheid lê dus binne-in almal. Geen enkeling en geen enkele geloofsgroep (soos die Christendom) kan dus daarop aanspraak maak dat hy die absolute (volle) waarheid het, met uitsluiting van ander nie. Die waarheid is in almal; daarom: wat jy ook al besluit vir jou reg is, is reg, solank jy net nie enghartig, eks-klusief en voorskriftelik daaroor is nie! Hierdie (relativistiese) opvatting word ook sterk deur die sogenaamde postmodernisme gepropageer. Nie deur voor te skryf en te beheer (soos die vorige "bedeling" wou) sal die blink toekoms kom nie, maar net as elkeen in harmonie wil staan met homself, die natuur en die hele kosmos. Dit is immers om "god" te ontdek! Daarom ook intergeloof!

HOE MOET DIE KERK HOM POSISIONEER?

Bogenoemde ontleding dui eintlik vir die oortuigde Christen al aan langs watter kontoere die kerk hom moet "posisioneer" (dit is eintlik maar die ou-ou taak van die kerk). Veel meer kan die kerk nie doen nie; hy dra nie die mag van die swaard nie, maar dié van die Woord. In ál die aksies van die kerk (soos prediking, verbondsonderrig, huisbesoek ...) moet hy verkondig, bely:

Die Drieënige, transendente God is die Enige uit Wie, deur Wie en tot Wie alle dinge is. Hy is die Enig-ware en alles is syne. Hy is nie deel van sy skepping nie. Die swaartepunt is in Hóm; nie in ons nie.

Die Bybel is die openbaring van God, en dus die waarheid.

God se ewige wil vir al wat syne is, soos dit uitgedruk en geldend is in sy Wet (die Tien Gebooie maar ook in sy skeppingswette waarna sy Skrifwoord verwys).

Die skeppingsboodskap. Ons leef nie in 'n wêreld wat "vanselfsprekend" ontstaan het en bestaan nie; dit is Syne, word deur Hom gedra en moet Sy doel dien.

Alles (ook die totale mens in al sy funksies) is deur die historiese sondeval in Adam verdorwe, staan enkel onder die toorn en oordeel van God en kan nie verlos word buite Jesus Christus om nie - die enigste Middelaar tussen God en mens. Alle egte lewensverbetering is enkel in Christus Jesus, die Herskepper en sy Gees gegee. Daarom is die soek van sy Koninkryk ons eerste strewe.

Naas hierdie "pro-aktiewe" getuienis sal die kerk intergeloof ook "relatief" moet afgrens van sy belydenis, die beweging krities bekendstel en aan die kaak stel in sy prediking, pastorale werk en veral verbondsonderrig. Die soldaat word benodig waar die geveg plaasvind. Doen die kerk dit nie, dan versaak hy sy roeping juis in hierdie tyd en interreligi-euse omstandighede.

WAT GEBEUR AS DIT NIE ALGEMEEN AANVAAR WORD NIE?

In die tyd van die rasionalisme is op algemene aanvaarding staatgemaak omdat geglo is dat die mens se verstand so goed is dat hy eenvoudig die wetmatighede in die werklikheid sal raaksien. Almal sal instem as iets net rasioneel is. (Die nuwe wetenskapsfilosofie het dié hoop verrinneweer!) As Christene aanvaar ons egter dat die mens die waarheid wat vir hom geld deur geloof (hetsy waar of vals) aannneem en nie op grond van een of ander vanselfsprekendheid nie. Almal glo nie dieselfde nie; hou met ander woorde nie dieselfde fondamente vir waar en onbetwyfelbaar nie. Die ware geloof word ons geskenk vanweë God se uitverkiesende, verlossende en wederbarende genade. Dat ons DIE WAARHEID kan glo, is 'n wonder, en nie 'n vanselfsprekendheid nie. Ons getuig daaroor. Die Heilige Gees gebruik dit. Net Hy kan oortuig. Wees dus nie verbaas as ons belydenis / getuienis / verkondiging nie algemeen aanvaar word nie. Maar bly volhardend en getrou getuig omdat dit die wyse is hoe God sy eiendom insamel - in die vertroosting dat die Here dié ken wat syne is (2 Tim 2 : 19)!