Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
DANKBETUIGINGSoos in die redaksionele kolom op die voorblad vermeld, het my vrou my op 17 Januarie jongslede ontval. Dit was veral in die laaste paar maande 'n moeitevolle lyding wat sy sonder klae deurstaan het. Uiteindelik was dit vir haar 'n verlossing dat die Here haar in sy heerlikheid opgeneem het. Sy het haar lewensloop op aarde vervul en leef voort in ons gedagtes. Mede namens my kinders en kleinkinders en aanverwante familie wil ek almal heel hartelik bedank wat op die een of ander wyse hulle meelewe tydens die siekte en met die heengaan en begrafnis van my vrou betoon het en ook op onderskeie wyses bygedra het om ons te ondersteun. Op dié manier ervaar ons die gemeenskap van die heiliges wat ons in Christus deelagtig is.
REDAKSIONEEL
Die afgelope tyd is verskeie briewe van lesers ontvang waarop ons ook op die een of ander wyse geantwoord het. Onder andere is korrespondensie ontvang uit Orania waar die afgelope paar jare broeders en susters hulle gevestig het, wat lidmate van verskillende Gereformeerde kerke was en nou daarna uitsien om as 'n selfstandige gemeente in die kerkverband van die GKSA te funksioneer. Hulle ontvang op hierdie stadium 'n wyksbediening, as deel van die Kerk te Kimberley. Helaas verkeer hulle in moeite omdat daar vanweë kerkordelike geskille hulle nie nou al as 'n selfstandige gemeente geïnstitueer kan word nie.
'n Ander skrywe wat ons ontvang het is verrassend. Dié leser skryf na aanleiding van die artikel van ds Sarel Cilliers op bl 9 in die vorige uitgawe van ons blad soos volg:
''Die artikel en vrae van ds Sarel Cilliers behoort namens die Redaksiekommissie aan die Kuratore deurgegee te word met 'n aanbod om die vrae in 'Die Kerkpad' te beantwoord. Ek is bewus dat enkele kuratore begin om die nuwe leerplanne en sogenaamde geïntegreerde kursus met voorgeskre-we leerplanne in menseregte ensovoorts krities aan te spreek. Waar Provinsiale Sinodes kuratore benoem en bemagtig, dink ek kerkrade moet die saak by Provinsiale Sinodes opneem om bepaalde opdragte aan hulle kuratore te gee. So iets kan minstens 'n beweging van reformasie in die GKSA inisieer.''
Dieselfde leser skryf ook dat die opset van ons redaksie om stemme uit ander kerkgroeperinge oor hulle interne probleme aan te haal, hom stimuleer. Hy skryf verder:
'' Ek glo die gereformeerde identiteit en roeping kan alleen tot eer van die Here op totaal ander bane in die nuwe SA herleef en oorleef indien minstens 'n federale ekumene of gesprek tussen konfessioneel geïdentifiseerde persone uit die sogenaamde Drie Afrikaanse Kerke op dreef kom met die doel om te konsentreer op wat gemeenskaplik besit is. Ek glo dat 'n hergroepering van kerke (as gelowiges) onvermydelik geraak het omdat die GKSA in die tyd van kerkisme en strewe om getalle vir die PU vir CHO uit ander kerke te trek hulle trefkrag, identiteit en relevansie in SA verloor het. 'n Blad wat versigtig hierdie nuwe oriëntasie in die platgeslane en omgeslane Afrikaanse samelewing begin verkondig, mag vir die Gereformeerde Afrikaner weer 'n mis-sie en droom gee: bring bymekaar wat uit innerlike gereformeerde oortuiging bymekaar hoort, soos die baie briewe in die NG Kerk bewys.''
Die hoofartikel op bl 1-3 bevestig die saak wat hierdie leser onder ons aandag gebring het en dit wat hy geskryf het, is daarin opgeneem.®