Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
Hoofartikel
BINDING OF ... ONTBINDING?
Die titel hierbo is 'n tendensieuse verskynsel wat sowel in die natuur as in die kultuur waargeneem kan word. Iets wat heg saamgebind is, val nie maklik uitmekaar nie. 'n Gesonde liggaam is saamgestel uit ledemate en organe wat deur die werking van die hart en harsings aan die gang gehou word. Sodra die dood intree begin die ontbinding. Die liggaam verteer en vergaan tot stof soos die Bybel dit leer: ''Want stof is jy , en tot stof sal jy terugkeer'' (Gen 3 : 19). Dit is oordragtelik ook die geval in die samelewing van die kerk, staat en maatskappy. Solank daar eendragtig saamgewerk word aan take en ideale is dit lewend en kragtig, maar sodra daar inwendige spannings ontstaan en mense begin om mekaar nie meer te verdra nie, nie meer die eenheid onderskraag nie, dan tree die fase van ontbinding in wat ten slotte lei tot 'n diktatoriale oorheersing met samewerking onder die dwang van omstandighede òf opbreking en uiteengaan. In hierdie artikel rig ons die aandag op die eenheid van die geloof soos dit behoort te realiseer in die vergadering van die kerk van Christus.Die eenheid van die geloof en die eenheid van Christus se kerk wortel in die onbeskryflike liefde wat van die Drieënige God, die Vader, Seun en Heilige Gees uitgaan en wat wederkerig, vertikaal en ook horisontaal in die aardse bestaan, deur sy ware kinders in die geloof tot Hom en sy troon moet terugkeer. Dit is die skriftuurlike begronding van die kerklike eenheid wat plaaslik, kerkordelik en verbandelik tot uitdrukking behoort te kom.
In die boek Sagaria (hoofst 11) vind ons die voorbeeld van die twee stawe waarmee die Goeie Herder die skape, wat deur die slegte herders as slagskape gehanteer en verkoop word, wil lei en bymekaar hou. Dit was die gewone herdersgereedskap wat algemeen gedien het om die skape te wei, te beskerm en te behoed vir afdwaling. Dit is die stawe lieflikheid en samebinding. Die een is 'n staf soos ons dit op die prentjies sien, langer as die menslike persoon met 'n krul aan die top. Dit dien om die skape aan te por as hulle afdwaal, soms om hulle terug te trek. Die ander is meer 'n stok om 'n klip te gooi na dié skaap wat al te ver afgedwaal het of om 'n roofdier te verjaag as hy dit te naby waag.
Oordragtelik tot die bestaan van die Nuwe Testamentiese kerk word dit toegepas enersyds in die Evangelie wat aan ons verkondig is, die blye boodskap van die heerskappy van Jesus Christus en die verlossing wat Hy vir ons verwerf het. Dit is die lieflikheid wat van bo-af neergedaal het en aan ons geopenbaar is. Dit is die Woord van God wat nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar deur die heilige mense van God wat dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek het (2 Petr 1:22; NGB Art 3). Hierdie Woord is gesaghebbend en as iemand iets daarvan wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe ... (Openb 22:19). Die Here vergader sy kerk rondom die suiwere prediking van sy Woord en bediening van die sakramente wat Hy tot versterking van die geloof ingestel het. Dit is die lieflikheid van die Here, toegepas in amptelike en pastorale bediening.
Die ander beeld, samebinding, vind ons in die verbandelike samelewing, die eenheid in leer, diens en tug. Dit bring ons by die geloof wat ons bely, wat die Skrif ons leer en wat in die belydenisskrifte, wat die basiese geloofsooreenstemming verwoord en tegelykertyd as 'n sistematiese (dogmatiese) same-vatting van die hoofsake van die bybelse openbaring dien. Vir hierdie same-binding dien ook die kerklike beloftes by verskeie geleenthede en formuliere waarmee ingestem moet word, asook die onderskeie ondertekeningsformuliere vir bevestiging in die kerklike ampsbediening.
Dr Abraham Kuyper skryf oor kerkontbinding in sy werk PRO REGE (Deel 2 . 1911. Kampen Kok, bl 224 vv). Alhoewel hy 'n ruim kerkbegrip gehad het en onderskei tussen die onsigbare mistieke eenheid van die kerk en die sigbare institutêre vergestalting daarvan, was hy streng op die handhawing van die eenheid van die geloof en die handhawing van die kerklike tug. Hy begin dié hoofstuk in sy boek met die woorde van Johannes: ''As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke" (2 Joh :10 en 11).
Dr Kuyper beskryf in die konteks van sy denke oor die sigbare kerk dat solank die amptelike lewe van die Kerk normaal en in ooreenstemming met die wil van die Here funksioneer, die Kerk daar is. Sodra daarenteen hierdie amptelike lewe van die kerk insink of verswak, kan daar nog wel op sigself staande gelowiges wees, maar dan is daar as sodanig geen sigbare Kerk meer nie. "Wat zich zoo nog noemen mag, is het niet meer. Alles hangt hier aan den Koning, en zoodra onze Koning in het kerkelijk ambt zijn heerschappij niet meer kan uitoefenen, is die breuke daar.''
Christus staan in die middelpunt van die Christelike geloof. Dit kan nie anders nie. ''Hij is in die religie het één het al. Hij is het nieuwe, waardoor de Christelijke religie zich van alle andere religiën onderscheidt. De vraag: wat dunkt u van den Christus? is en blijft daarom alle eeuwen door de centrale vraag, die voor het welzijn van heel onze religie beslist'', aldus Kuyper. Wie 'n aanval op die kerk wil loods sal sy visier op Jesus Christus in sy koninklike heerskappy oor sy kerk rig. ''Ook over andere geloofsvraagstukken moge strijd in de zigbare Kerk ontstaan kunnen, maar de groote problemen, die de Kerk op haar grondvesten doen schudden, trekken zich altoos om den persoon van den Christus saam, en het is alleen bij het licht dat Hij uitstraalt, dat ook die andere vraagstukken haar juiste oplossing kunnen vinden.'' Dit is hierdie dwalings of ketterye, wat altyd die persoon en die gesag van Christus aantas, en ons wil wys maak dat ons die Christus ''anders moeten verstaan, en anders moeten opvatten, en ons anders moeten voorstellen dan het Evangelie, toen het de wereld inging, Hem gepredikt heeft''.
Dit vind tans op allerlei toonaarde plaas dat die persoon en die gesag van Jesus Christus in die gedrang is. Sodoende is daar stryd in die algemene Christelike kerk wat ons tans ervaar. Verdeeldheid en selfs dreigende skeurings oor die gebruik van die nuwe 1983 Bybelvertaling en parallel daarmee talle standaard Bybelverklarings waarby die profesie van die komende Messias, die Christus, uit die Ou Testament wegvertaal is en tekste wat daarop betrekking het, in 'n ander perspektief geëksegetiseer word.
Die aantasting van die bybelse openbaring aangaande Jesus Christus vind tans eksplisiet in die Hervormde Kerk deur prof Van Aarde en die omstrede Jesus Seminaar plaas, met die bewering dat Jesus nie werklik uit die dode opgestaan het nie. Ook deur diegene wat, soos prof Izak Spangenberg, nie meer glo dat Jesus Christus noodwendig die enigste weg tot saligheid is nie.
Die propagering van die eenheid van die nuwe Suid-Afrika gaan gepaard met die verkondiging van multi-religieuse geloofseenheid met die argument dat alle godsdienste eintlik dieselfde God van hemel en aarde bedoel en aanbid. Dit is maar net die vorm en wyse waarin die religie hom manifesteer wat verskil.
Maar ook binne die verbandelike bestaan van die gereformeerde (suster-) kerke staan die eer van Christus op die spel met die groeiende tendense van spanning rondom die handhawing van reformatoriese beginsels en tradisie teenoor liturgiese vernuwings. Dit het in die verlede gelei tot skeurings en afskeiding. Die redes was onder andere die dwangmatige verengelsing en invoering van die Metodisme in die kerk, die byvoeging van evangeliese gesange en vrye liedere soos in die Halleluja-bundel, afwykings en die afskaffing van die Dordtse kerkorde, die toelating van anderskleuriges as lidmate en tot deelname aan die nagmaal. Hierdie sake het gelei tot die voorgeslag se uiteengaan en die splitsing tot die drie Afrikaanse sogenaamde susterkerke.
Vandag is daar 'n aandrang tot herstel van bande wat verskeur is. Dit vind op tweërlei wyse uitdrukking. Enersyds in amptelike besluite en handelinge van die hoogste besluitsliggame van die kerke, van sinodes, vir eenheid op talle terreine waarin saamgewerk word aan liturgiese vernuwings, 'n nuwe Bybelvertaling wat parafraserend afwykend is van die konkordante 1933/53 vertaling, die invoering van 'n nuwe liedboek waarin die Psalmberyming ''omgedig'' is en aanpas by die gebruik van die nuwe Bybelvertaling. Ook in die neiging om die tradisionele beleid van afsonderlike ontwikkeling binne die kerke opsy te skuif met die soeke na 'n sigbare vergestalting van eenheid van gelowiges uit verskillende taal- en kultuur-groepe, sowel op klassis of ringvlakke, asook geïntegreerd in plaaslike gemeentes. Die kerklike tug word verwaarloos op feitlik elke aspek waar dit die leer van die kerk betref. Daar kan maar openlik afgewyk word van die inhoud van die belydenisskrifte, solank dit maar professioneel getrakteer word. Lewenstug betreffende die aantasting van die heiligheid van die huwelik word slegs in uitsonderlike gevalle toegepas. Deelname aan dobbelary en lotery, beroepsport en Sondagsport word geduld en deur sommige teoloë geregverdig met skriftuurlik en pragmaties beredeneerde drogargumente. Die invoering van die nuwe liedboek vir die kerke word van bo-af toegejuig en opgedwing. Oor die relatiewe (on-) suiwerheid van die bybelse teks in die 1983-vertaling word geswyg. Liturgiese vernuwings word aangemoedig en ondersteun. Dit is die een kant van die nuwe eenheid wat aldrie (gereformeerde) ''suster''-kerke (min of meer) gesamentlik deel en nastrewe.
Aan die ander kant bestaan in aldrie dié kerkverbande, asook in dié van die Afrikaanse Protestantse Kerk, die bekommernis oor die genoemde tendense en feite. Diegene wat hulle nie daarmee kan versoen nie, word bo-oor die bestaande kerkgrense heen al hoe meer saamgetrek en saamgebind in 'n reformatoriese en behoudende strewe wat gemeenskaplik gedeel word.
''Ek glo die gereformeerde identiteit en roeping kan alleen tot eer van die Here op totaal ander bane in die nuwe SA herleef en oorleef indien minstens 'n federale ekumene of gesprek tussen konfessioneel geïdentifiseerde persone uit die sogenaamde Drie Afrikaanse Kerke op dreef kom met die doel om te konsentreer op wat gemeenskaplik besit is. Ek glo dat 'n hergroepering van kerke (as gelowiges) onvermydelik geraak het, omdat die GKSA in die tyd van kerkisme en strewe om getalle vir die PU vir CHO uit ander kerke te trek hulle trefkrag, identiteit en relevansie in ons land verloor het. 'n Blad wat versigtig hierdie nuwe oriëntasie in die platgeslane en omgeslane Afrikaanse samelewing begin verkondig, mag vir die Gereformeerde Afrikaner weer 'n missie en droom gee: bring bymekaar wat uit innerlike gereformeerde oortuiging bymekaar hoort, soos die baie briewe uit die NGKerk bewys'', aldus 'n getroue intekenaar/leser van ons blad.
Dit bring ons terug by die tema van hierdie artikel: ''Binding of ... Ontbinding?'' Waarheen is ons op pad in die funksionering van die kerklike samelewing? Word die stawe lieflikheid en samebinding nog aangetref? Dit is met ander woorde geformuleer in die Nederlandse Geloofsbelydenis, art 29: ''Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het (lieflikheid) en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf (samebinding) - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. ... Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God: dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.''
Dit is tans so dat slegs elemente van die bogenoemde kenmerke van die ware kerk in die Afrikaanse kerke van gereformeerde tradisie aanwesig is, as gevolg waarvan daar 'n tweërlei beweging ontstaan. Aan die een kant 'n van bo-af geleide strewe na eenheid in die hierbo getipeerde deformatoriese rigting. Dit lei tot ontbinding, die relativering van die kerklik aanvaarde belydenisskrifte en 'n skriftuurlike orde in die kerk, met alle kwade gevolge daarvan. Aan die ander kant die onvermydelike aantrekking tot mekaar van diegene uit die onderskeie kerklike verbande, wat hulle wil bind aan dit wat konfessioneel en tradisioneel behoudend en reformatories is in die aktuele omstandighede van die kerklike saambestaan, in die ooreenstemming van leer, diens en tug en die getroue handhawing daarvan.®
®