Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
KERKLIKE JOERNAAL'N SPREKENDE VOORBEELD VAN DIE BEVORDERING EN TOENAME VAN DIE OOSTERS GODSDIENSTE (BOEDDHISME) IN ONS LAND
Boeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen
- BERIG VAN NEELS JACKSON IN BEELD, 15 FEBRUARIE 2001 -
Wat hier berig word is 'n sprekende voorbeeld van die bevordering en toename van die oosterse godsdienste, by name die Boeddhisme, in ons land. Ons bring dit graag onder ons lesers se aandag.'n Boeddhistiese monnik het pas 'n Boeddhismesentrum in die ooste van Pretoria geopen waar mense kan leer mediteer en klasse oor Boeddhisme loop
Gen (leermeester) Kelsan Legden, die monnik in beheer van die Vajrapani-sentrum, sê hy hoor dit is die eerste Boeddhismesentrum in die Jakarandastad.
Legden (52) wat in Namibië as Hans Schöne grootgeword het, sê hy het nooit in die Christendom antwoorde op sy vrae gekry nie. Na 'n lang soektog het hy die Nuwe Kadampa-tradisie van die Boeddhisme ontdek en dadelik tuis gevoel.
Hy het 'n monnik geword en is in 1999 uit dié tradisie se hoofkantoor in Engeland na Suid-Afrika gestuur.
'' Dié land het spiritualiteit nodig. Daar is soveel woede in hierdie land'', sê hy sag.
Hy was verlede jaar in Johannesburg, maar het nou Pretoria toe gekom waar hy die Boeddhismesentrum in 'n onopsigtelike woonhuis in Moepelstraat, Lynnwood Manor, begin het. Wat as 'n woonkamer gebou is, is omskep in 'n ''heilige meditasiekamer'' met prente en beelde van allerlei Boeddhas.
Daar word al hul godsdiensoefeninge soos meditasies gehou. Aan die een kant is daar ook 'n plek waar allerlei offers voor beelde van die Boeddhas uitgepak is.
Legden, uitgevat in sy monnikekleed, sê hy is nie 'n sendeling nie. Boeddhisme is in 'n sekere sin nie 'n godsdiens nie, maar 'n leefwyse. Volgens hom het Boeddha op baie maniere gewys waarop mense hul lewens kan verbeter sonder om van godsdiens te verander.
Daarom meen hy dat mense van ander godsdienste by hom kan gaan leer mediteer sonder dat hy enige druk op iemand sal uitoefen om 'n Boeddhis te word.
Legden sê hy kry goeie reaksie van Afrikaners, maar ook van Jode. Hy bied ook aandklasse oor vreugde deur meditasie by die Alkantrant-takbiblioteek aan.
'n Aktuele voorbeeld van godsdiensvermenging, sinkretisme, en die verering van ander gode, gesnede beelde of enige gelykenis van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is ... (Ex 20 : 3 en 4), wat in die wet van die HERE nadruklik verbied word. (Red)