Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
KERKLIKE JOERNAAL DIE NUWE LIEDBOEK VIR DIE AFRIKAANSE KERKE Met groot geskal en gepaard met baie koste word later vanjaar die nuwe Liedboek openbaar bekendgestel. Elke denkbare hulpmiddel word ingespan om die aanvaarding van die Liedboek te bevorder. Die amptelike ingebruikneming daarvan word beplan vir die Hervormingsondag, 28 Oktober 2001, om 15:00 in die Stadsaal van Pretoria. Die wyse waarop dit gedoen word getuig van 'n besondere ywer wat aan die dag gelê word om lidmate van die kerk te lei op die pad na liturgiese vernuwing.In ons blad is talle kere die aandag gevestig op die nuwe Liedboek wat in voorbereiding is en wat onder andere die ''omgedigte'' Psalmberyming van die hand van die digter TT Cloete bevat. Die Nasionale Sinode van die GKSA, Januarie 2000, het ten aansien hiervan besluit dat die kerke oor Cloete se werk kan besin en die volgen-de sinode daaroor adviseer. Die vrye berymings is voorshands, net soos die huidige Gesangeboek s'n, nie aanvaarbaar vir gebruik in die eredienste van die Gereformeerde kerke nie. Die NG, NH en AP Kerke sing wel die gesange in hul eredienste. Vir hulle is die Liedboek in sy geheel 'n saak wat oorweeg en aanvaar of verwerp moet word. Feitelik het die NG Kerk die bundel reeds aanvaar deur dit in groot oplaag te laat druk en groot bekendstelling hieraan te verleen. Die NH Kerk loop dieselfde pad so 'n bietjie later. Die vraag is of die AP Kerk dié bundel sommerso sal aanvaar of dat daar besware teen aangevoer sal word. In die verband van die GKSA sal daar wye ondersteuning van Cloete se Psalmberyming wees. Dit is aanvoelbaar in die klimaat van die oorheersende gebruik van die 1983 Bybelvertaling in die ere-dienste.
Gefundeerde kritiek teen die invoering van gesange, dus ook teen die nuwe Liedboek, is in gereformeerde kring steeds geldig. Daaroor hoef nie nou gediskusseer te word nie. Kritiek teen die Cloete ''omdigting'' is dat dit te maklik van die Hebreeuse grondteks afwyk; dat dit parallel met die 1983 Bybelvertaling berym is en minder geskik is om te gebruik tesame met die 33/53 vertaling van die Bybel. Nieteenstaande verouderde taal en literêre tekortkomings in die beryming van Totius is laasgenoemde tog meer ooreenkomstig die oorspronklike taal waarin die Bybel geskryf is. Daar is elemente in Cloete se werk wat Arminiaans of Metodisties getipeer kan word. Kerkrade van die Gereformeerde kerke wat gevra is om dit te beoordeel, behoort ernstige aandag te verleen aan die leersuiwerheid wat in hierdie nuwe bundel getoets moet word.
Kom ons luister wat sê ds Cassie Carstens, die skriba van die Gesamentlike Gesangekommissie ten aansien van hierdie bundel:
''Daar is 150 psalms, almal nuut omgedig deur TT Cloete, en 452 liedere saamgestel uit ongeveer 200 gesange. 'n Groot verskeidenheid uit Sing-Onder-Mekaar en die groen Jeugsangbundel, enkele Hallelujaliedere, 'n klompie Taizé-response, 'n hele klomp nuwe tekste op bekende melodieë en dan ongeveer 80 splinternuwe melodieë met eietydse tekste ... Glo my, daar is iets vir elkeen!''
Ons mense is bang dat al die ou gunstelinge nou gaan verdwyn. Daarop antwoord ds Carstens soos volg:
''Hulle is steeds daar, en saam daarmee 'n groot aantal nuwe liedere - sommige van hulle verrassend modern! By 13 van die psalms is ook alternatiewe omdigtings deur onder andere Lina Spies. Ongeveer 65 Geneefse melodieë is behou, baie van hulle steeds bekend en bemind (byvoorbeeld Pss 42, 84, 105 en 116). Verder is al die bekende psalmmelodieë in die boek (byvoorbeeld Pss 33, 48, 10, 146) en ook 'n aantal bekende gesangmelodieë. Ons stel ook 'n aantal nuwe inheems-Afrikaanse melodieë van Suid-Afrikaanse komponiste bekend.''
As kersie op die koek vermeld ds Carstens:
''En let wel: 'n spesiale geselekteerde bundel met kitaarakkoorde word ook voorberei - hierop gaan die jonges floreer!''
Gedurende die eerste twee weke van April sal aan elke gemeente van die NG Kerk 'n pakket gestuur word met as inhoud 'n verskeidenheid hulpmiddels om die bekendstelling van die bundel te bevorder. Daarop volg in eerskomende Meimaand saamtrekke in vyftien verskillende sentra in Suidelike Afrika. Die volledige program vir hierdie streeksaamtrekke sal binnekort bekendgestel word. Al die beskikbare media sal gebruik word om inligting oor te dra en te sorg dat hierdie Liedboek in die kerke ingevoer en gebruik gaan word.
Wie let op die tydsgees met die drang na vernuwing en om eietyds te wees, kan homself afvra of dit die maatstaf en norm vir die totstandkoming van die nuwe Liedboek is. Nêrens en nooit word verwys na Skrifgefundeerde kritiek op die bestaande nie; geen enkele geldige beswaar teen die huidige gesangbundel nie. Geen reformatoriese terugkeer op 'n verkeerd ingeslane pad nie. Aanpassing aan die tydsgees is beslis geen reformasie nie!®