Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

DIE VERHOUDING TUSSEN DIE KERK EN DIE STAAT VOLGENS DIE SKRIF

- 1 -

-  PROF DR ROELOF MARè  -

4. Roeping van die staat

4.1 Roeping in die algemeen

Soos reeds gestel, moet die owerheid sy burgers beskerm. In Jeremia 21:12 word die Dawidshuis, dit wil sê die koning, opgewek om sy burgers te red van rowers en uitbuiters; reg moet geskied. Moses beveel die regters wat hy aangestel het, om regverdig te oordeel, nie partydig te wees nie, dat niemand mag ontsien word nie, want die gereg is die saak van God (Deut 1: 16 en 17). Regters moet hul reg nie vir mense beoefen nie, maar vir die HERE (2 Kron 19: 6 - 10).

'n Bybelgelowige koning moet nie te veel rykdomme vir homself versamel nie, en hy moet 'n afskrif van die bevele van die Here wat sy amp raak, gedurig by hom hou en al die dae van sy lewe lees (Deut 17: 15 - 20).

Dawid verklaar in Psalm 101 dat hy nie saamwerk met mense wat nie die regte pad loop nie, wat bedrog pleeg en leuens vertel.

Die owerheid moet geregtigheid najaag. Calvyn (Inst. IV.20.9) omskrywe hierdie geregtigheid as die inbeskermingneming van onskuldiges. Hulle moet omhels en verdedig word. Hulle reg moet opgeëis word en ook moet hulle bevry word.

Die staat (let wel: nie die kerk nie) mag ook oorlog verklaar en ook sy Christenburgers moet onder sekere voorwaardes daarin saamwerk (dié aspek word egter daargelaat).

Die Christelike owerheid moet nooit vergeet dat sy reg aan God onderwerp is nie. As Samuel die reg van die koning in 'n boek skrywe, dan lê hy dit voor die HERE neer (1 Sam 10: 25). Daarom rym despotisme nie met God se wil vir die owerheid nie.

4.2 ...om te weer en uit te roei alle afgodery en valse godsdiens ...

Oor hierdie sinsnede in art 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) is al baie geworstel. Sommige sê die vertaling is nie korrek uit die oorspronklike Frans gedoen nie (maar die argument gaan nie op nie); ander beweer dat die letterlike verstaan daarvan nie die bedoeling van die Dordtse Sinode (1618/19) was nie.

Sekere kerkgroeperinge (-verbande) behou die bewoording in die NGB, maar vertolk dit anders as die letterlike verstaan daarvan. In Nederland het die Sinode van die Gereformeerde Kerke, Utrecht 1905, dié sinsnede geskrap. Ander vervang dit met die gedagte dat die staat die orde in die land handhaaf sodat die kerk rustig die Evangelie kan verkondig en op dié wyse die gestelde doel kan bereik.

Wat sê die Skrif daaromtrent? Bavinck (1967: 373, 392 - 394, 420) wys op die volgende: In Israel moes die owerheid beeldediens, afgodery, toordery, Godslastering, valse profesie en Sabbatskending met die dood straf ((Ex 22: 18, 20; Lev 20: 2, 6, 27; Num 25: 5, 7, 8; Deut 13: 1 - 5).

Die Gereformeerdes het geglo dat die owerheid in 'n Christelike land die dure roeping het om alle afgodery en valse godsdiens te weer en uit te roei en die ryk van die antichris ten gronde te werp. Hulle was oortuig dat God die owerheid beskik het juis om die sonde te beteuel (:392).

Toe die Rooms Katolieke Kerk herleef en daar in die Protestantisme talle kerke en belydenisskrifte ontstaan, was die kerk verplig om die konfessionele karakter wat aan die staat gekoppel was, te laat vaar (:392-393). In Engeland wedywer die Presbiteriane, Kwakers, Independentiste en ander om die voorrang. Die staat het dus in die situasie gekom dat hy nie kon uitmaak watter belydenis hy moet beskerm nie. Watter godsdiens is vals? Wattter een grens aan afgodery? Dit is vrae waarop die staat tog nie kon antwoord nie. Gevolglik het die modewoord van die agttiende eeu in hierdie verband ''toleransie'' geword. Kerk en staat word radikaal geskei, en nie net onderskei nie, en die standpunt van volstrekte vryheid van godsdiens word aanvaar. Nou het enige godsdiens binne die jurisdiksiegebied van die staat godsdiensvryheid. Wat die Christelike kerk betref, word dit so beskou dat die kerk soos 'n suurdeeg in die samelewing moet werk (:394).

Die fout van die vroeëre beskouing dat die staat die valse godsdiens moet uitroei, sê Bavinck (: 420), was nie dat God se eer deur die owerheid gedien moes word nie, maar dat die grense tussen die kerk en die staat verkeerd getrek was. Ongeloof en kettery moes nie as staatsmisdaad gesien word nie. Die kerk moet nou rekening hou met die onderskeid tussen misdaad (wat deur die staat gestraf word) en sonde (waaraan die kerk aandag moet verleen). Wanneer die staat burgers tot die geloof wil dwing, is dit juis in stryd met die Christelike belydenis (:421). Die staat is nie verantwoordelik vir oortredings deur individue ten opsigte van sake wat nie op sy terrein lê nie.

Die roeping van die owerheid is dan om:

- God se eer te bevorder;

- God se kerk te beskerm;

- die ryk van die antichris ten gronde te rig, maar met die middele wat met die aard van die Evangelie van Christus ooreenstem, en alleen op daardie terrein wat aan die staat toevertrou is (Kursivering RM).

Calvyn (Inst IV.20.3) se standpunt oor hierdie saak kom daarop neer dat die owerheid se taak daarin geleë is dat hy sal toesien dat geen afgodery en geen heiligskennis teen God se Naam in die openbaar sal gepleeg word nie. Elkeen moet dit wat aan hom behoort ongeskonde kan behou - daartoe moet die staat toesien. Die owerheid mag nie toelaat dat die ware godsdiens openlik en deur openbare heiligskennis geskend word nie (:1824). In die Bybel word konings, soos Hiskia, wat hulle vir godsdienstige hervormings beywer het, lof toegeswaai (:1831).

5. Roeping van die kerk

5.1 Erkenning en eerbied

Die kerk is geroepe om die staat as instelling van God (Rom 13: 1-2) te erken en te eerbiedig (1 Pet 2:17).

5.2 Voorbidding

Volgens 1 Timotheus 2: 1-2 moet voorbidding ook ''vir konings en almal wat hoog geplaas is'' gedoen word. Dit is belangrik om op die doel van dié voorbidding te let, naamlik ''sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid''.

5.3 Oproep tot die staat

Bavinck (1967:421) sien die saak so dat:

die kerk nie afsien van die eis dat die staat hom aan die gesag van die Woord van God moet onderwerp nie;

die kerk hierdie eis net stel as 'n prediking en sedelike getuienis, en nooit direk of indirek deur dwang of straf nie.

5.4 Toerusting van lidmate

5.4.1  Die onderskeiding tusssen die kerk as organisme en as instituut is in hierdie saak van wesenlike belang. Die kerk is nie 'n burger van die staat nie, maar die lidmate van die kerk is wel (ook) burgers van die staat. Hulle verrig handelinge wat die kerk as instituut nie doen nie. Maar daarin moet die kerk aan sy lidmate leiding uit die Skrif bied. Burgerlike wette is ook op Christene van toepassing.

Christen-staatsburgers wil weet of hulle ook aan 'n heidense owerheid gehoorsaam moet wees.

Calvyn (Inst IV.29.22) beklemtoon dit baie sterk dat alle burgers, ook die Christene, die owerheid moet gehoorsaam en eerbiedig, selfs al word onder 'n tiran gelei, al heers 'n dwingelandy, of al is die owerheid swak en gekenmerk deur kwaad. Ten spyte van goddelose optrede moet die owerheid steeds gehoorsaam word. Calvyn staaf sy stellings onder meer met die volgende:

Die owerheid is deur God daargestel, en is ons 'n dienaar ten goede. Hy beskerm ons en het sy gesag van God ontvang.

God verwek ook onregverdige en swak regeerders om die ongeregtighede van 'n volk te straf. Ons ''hoef ... nie te swoeg'', sê Calvyn, ''om te bewys dat 'n goddelose koning die Here se toorn oor 'n land is nie". Weens die feit dat so 'n owerheid se mag in God gevestig is, moet ons die owerheid met net soveel eerbied bejeën as wat ons die beste koning sou eer. Calvyn staaf sy standpunt met by-voorbeeld tekste uit:

- Daniël: God sit konings af en stel hulle aan (2: 21); dit is Hy wat die koningskap aan Nebukadnésar verleen het (Dan 2: 37; 5: 18) sodat hy oor mense se lewe en dood kon beslis (5: 19). Hy het die heerskappy aan Nebukadnéser gegee (2: 38); Die Allerhoogste gee die koningskap aan wie Hy wil (4: 17); as die Here 'n slegte tiran waardig ag, moet ons hom hoogag.

- Eségiël: die Here het Egipte aan Nebukadnéser gegee (Es 29: 9).

- 1 Samuel: die koning het die reg om slawe van mense te maak (1 Sam 8: 11-17).

- Jeremia: die volk kry opdrag om die koning van Babel te dien en so die Here te gehoorsaam. Diegene van Israel wat hulle nie aan Babel wil onderwerp nie, sal sterwe (Jer 27: 12-13).

5.4.3  Calvyn glo dat die bekende voorskrifte dat elke mens hom aan die owerheid moet onderwerp (Rom 13: 1; Titus 3: 1; 2 Pet 2: 13), dat die owerheid geëer moet word (1 Tim 2: 1,2), onverswak ook ten opsigte van 'n slegte owerheid geld (alhoewel hy byvoeg dat ons nie slegte mense in die owerheid moet eer nie, maar wel die orde van die owerheid. Die mense moet vanweë hulle regering eerbied van ons ontvang (Inst IV.20.22).

(Voorwaardes vir hierdie gehoorsaamheid aan die owerheid word, onder andere, onder punte 5.4.5 en 5.4.6 in die volgende aflewering behandel).

                                    (Word vervolg)