Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

KOMMENTAAR

AANGAANDE KRITIEK VAN RADIO PRETORIA OP STAATSLOTERY

-  ARIE HOOGENBOEZEM  -   PRETORIA  -

Vergun my 'n reaksie op die artikel ''Aktueel'' in DIE KERKPAD van Januarie 2001, bl 3.

Die skrywer van die Nuuskommentaar Radio Pretoria laat die indruk, dat nadat die wet in 1873 van toepassing geword het, die volk mooi in die spoor geloop het totdat die ANC in 1994 oorgeneem het en daarna deur sy regering verlei is tot dobbelary ensovoorts. Maar wat is die ware feite?

Lank vóór my geboorte (1948) was dobbelary tog nog maar deel van baie instansies se fondsinsamelingsmetodes. Ek weet nie wanneer dit begin het nie, maar ek vermoed dat dit maar aan die orde van dag was, vóór, tydens en ná 1873. In werklikheid het die wet dobbelary wel toegelaat, maar dan in gekamoe-fleerde vorm. Ons ken mos almal die sogenaamde kompetisies met die eenvoudige vragie waarvan die antwoord sommer met die bekendstelling gegee is, waarvolgens die wenner deur die lot getrek is. Hoe het die kerke en skole nie met hierdie metode gewoeker nie. Hoeveel male moes ek as kind nie (en later my eie kinders) met 'n onderwyser of met maats en vriende oor die saak redeneer nie. En die argument wat hulle soos 'n lekkende kraan voorgehou het : ''Dit is dan vir so 'n goeie doel''. En dit is dan mense, selfs predikante van gereformeerde kerke, wat dan hierdie vorm van dobbelary met hierdie argument goedpraat. ''Die doel heilig die middele'' is een van die Roomse dwalinge waarteen die Hervormers ernstig beswaar aangeteken het. Ons is erfgename van die Hervorming en ons kan nogal erg daarop roem, maar ek wonder soms hoe ver ons al op die pad terug na Rome is.

Die Vaders-van-die-volk het ook nie kans gesien om die perdewedrenne te verbied en om die inkomste uit belasting op dié soort dobbelary prys te gee nie.

Maar die kersie op die koek kom in die sewentiger jare toe die destydse ''Christelike regering'' die eerste staatslotery ingestel en dit ook, deur dit ''Bonus Obligasies'' te noem, gekamoefleer het. In dié geval is die kaartjiekopery vervang met 'n belegging, maar 'n deel van die rente is aangewend as die houer se bydrae tot die poel.

Ongelooflik eintlik dat mense nogtans tot die bittereinde gestry het dat dit nie lotery is nie, daarby die regverdiging ''maar dis vir so 'n goeie doel''. Ook dat jy nie 'n goeie patriot is nie as jy nie ook 'n bietjie van jou geld in hierdie bonusobligasies belê het nie. In hierdie geval het die Vaders die volk nie net voorgegaan in die afgodery nie, maar in der waarheid op 'n subtiele wyse daartoe gedwing deur te propageer dat indien jy nie daaraan deelneem nie, jy nie 'n lojale Afrikaner is nie. (Ons stry in die geledere van die Kerkpad-lesers tog nie met mekaar dat dobbelary in werklikheid 'n vorm van afgodery is nie!?)

Slegs die sinode van die GKSA het standpunt daarteen ingeneem en die destydse owerheid sonder sukses tereggewys. Die ander Afrikaanse (gereformeerde) kerke het die regering daarin ondersteun. Dus in 'n sekere opsig het dié kerke hierdie vorm van afgodery goedgekeur. Dit laat my so dink aan die tyd van die konings van Israel in Juda, waar dit elke keer soos 'n refrein opklink: ''maar die volk het nog steeds op die hoogtes rook laat opgaan''.

As dit nie so tragies was, kon ek soms lag as Afri-kaners ewe hoogheilig die huidige ANC-regering se instelling van die Lotto veroordeel. Trouens die ANC beweer óók dat dit vir goeie doeleindes dien. Ons was veronderstel, om opgeroep deur die Volkskomitee, ons as volk op die sestiende Desember verlede jaar, in verootmoediging voor die Here te stel. Is die eerste vereiste om tot verootmoediging te kom tog nie die vereiste om ons sondes te ken, te erken, te bely en daarmee te breek, voordat ons om vergifnis en genade kan pleit nie? Solank ons nog nie erken wat die sondes is waaraan ons skuldig staan, kan daar nie sprake van ware verootmoediging wees nie.

Die grootste probleem wat ek met die artikel van die Radio Pretoria-kommentaar het, is dat die indruk gewek word dat die Afrikaner in werklikheid so 'n suiwer Christelike lewens- en wêreldbeskouing gehandhaaf het en nou deur 'n onchristelike regering tot afgodery verlei word, terwyl ons in die verlede en hede aan dieselfde sonde, sy dit in andere vorm, skuldig staan.

Kom ons hou op om onsself te bluf en erken dit maar: ons wat van beter moes geweet het, is aan dieselfde sondes skuldig as hulle wat waarskynlik as 'n beproewing vir ons onder God se toelating oor ons aangestel is. Miskien is dit goed dat die ongeregtigheid op hierdie wyse duideliker omlyn en sigbaar word. Ons moet ons nie verbeel dat ons en ons vaders nie aan dieselfde dinge skuldig is nie.

Dit is my innige gebed dat die volk, waaraan ek behoort, tot die ontdekking en kennis van ook dié sonde sal kom. Dan sal ons weet dat 'n nuwe dag vir ons sal aanbreek, want vir God is niks onomkeerbaar nie!