Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

MEDIESE ETIEK

ETIEK BEGIN MET DIE VREES VAN GOD

-  DR MC DURAND  -

Die vrees van God is die kenmerk van die gelowige in sy hele bestaan

Die Here Jesus Christus vrees ook God die Vader (Jes 11:2-3). Indien Christus die vrees van die HERE gehad het, hoe sou enige gedagte of handeling wat nie deur die vrees van God bepaal word nie, enige verbintenis met die Verlosser kan hê?

Die vrees van God is kenmerklik van die kerk

Die vrees van God saam met die troos van die Heilige Gees is kenmerke van die kerk (Hand 9:31). Die kerk wandel in die vrees van die Here, want die Gees van Christus vervul, rig en rus op die kerk, en die Gees van Christus is die Gees van die vrees van die Here.

Die vrees van God is 'n religieuse begrip

God skenk aan ons die vermoë om aangegryp te word deur die gedagtes aan sy verhewe en onvergelykbare majesteit en heiligheid. Die gelowige weet dat God vreeslik is (Ex 15:11; Deut 7:21, 10:17, 28:58; 1 Kron 16:25; Neh 1:5; Ps 47:2, 111:9; Dan 9:4; Mal 1:14).

Die sonde van die mens is 'n aantasting van God's heiligheid. En sy geregtigheid eis die herstel daarvan (Ex 15:7; Num 25:4; Jes 42:25, 51:17, 20,22 en 36:6; Jer 4:8, 6:11, 42:18; Jona 3:9; Nah 1:6; Rom 2:9; 2 Thess 1:8,9; Openb 20:10, 14,15). Aangesien God 'n heilige God is, rus sy wraak op die sonde.

Daarom sal daar vrees, skrik, angs en afgryse bestaan by diegene wat aan sy oordele, vanweë hul aantasting van sy heiligheid, onderwerp is (Deut 2:25; Ps 105:38). Dit is noodsaaklik dat diegene wat, vanweë hulle sondes voor die regverdige oordele van God staan, vir God sal vrees (Deut 17:13 en 21:21).

Die vrees is nie sonder effek op ons gedagtes en handelinge nie

Die gelowiges is nie sonder sonde nie. Gelowiges weet dat hulle sonde nie vir God behaaglik is nie en dat die heiligheid van God herstel van die sonde eis (Fil 2:12, 13; 1 Pet 1:17; Rom 11:20,21). Daarom word ons steeds deur God se geweld gedreig (Heb 10:31). Deur sy strafgerig waarsku God ons om ons te ontmoedig om te oortree (Matt 10:28; Luk 12:4,5). Die vrees om tekort te skiet, motiveer ons om aan God getrou te bly en om te volhard (Heb 10:27). Die gedagte om die wraak van God te ontvang en die oortuiging daarvan bring vrees by diegene wat God ken. Hierdie vrees is noodsaaklik in die harte en lewens van die gelowiges (Ps 27:1, 3:6, 119:120), naamlik om te stry teen die sonde. Dit is hierdie vrees wat die gelowiges dwing tot nederigheid, berou en boetvaar-digheid (Matt 5:35).

Die vrees vir die oordele van God stimuleer wel by die gelowiges die stryd teen die sonde, maar dit bewerk nie die liefde vir God of die haat teen die sonde nie. Die straf het geen bekeringskrag nie. Die wraak van God bring by die goddeloses eerder die teendeel, naamlik die verharding in die sonde en die vermeerdering van die haat teenoor God. Om ten opsigte daarvan nie vir God te vrees nie, is alleen maar die aanduiding van 'n verharde hart.

Die vrees van God verg egter meer as die vrees wat ontstaan uit die besef van die wraak van God. Die vrees vir sy oordele laat mense smag om daarvan verlos te word. Die vrees vir sy geweld laat hulle hul eie hulpeloosheid insien. Die enigste gepaste houding wat betoon kan word, is om nederig en bewus van die eie onvermoë die versoenende genade te ontvang en met dankbaarheid, liefde, eerbied en huldiging, die hele lewe deur gehoorsaamheid en vertroue tot sy diens te stel (Lev 19:3; Jos 4:14: vgl ook 1 Kor 2:3; Ef 6:5; Fil 2:12; Heb 4:1). Die besef van God se grootheid en die menslike geringheid sal ons keer van afsydigheid, soveel as wat dit ons sal weerhou om eiewys en deur spitsvondigheid God te dien.

Dit is hierdie vrees wat die kern en die begin van die gelowiges se etiek is. Die besef van God se heerlikheid en volmaaktheid dwing ons tot die algehele oorgawe aan sy geopenbaarde wil (Mark 12:30), naamlik sy bevele. Dit is uit hierdie verhouding waarmee alle ander verhoudings bepaal en verstaan word. Niks mag vir die gelowiges van waarde of betekenis wees buite die verwysing van hul verhouding met God en God se verhouding met hulle nie, naamlik 'n verhouding wat op die verbond van God en sy beloftes gerig is nie. Die normatiewe handelinge en die vrees van God is onlos-maaklik van mekaar (Pred 12:13). Van die mees gewone take tot die heiligste handelinge moet verrig word in die vrees van God (2 Sam 23:3; Kol 3:22; 2 Kor 7:1). Indien die vrees van God nie daar is nie, sal daar geen etiese standaarde vir die menslike handelinge wees nie (Gen 20:11; Lev 19:14, 25:17, 36; Spr 8:13, 16:6) en sal gevolglik die sonde onvermydelik wees.

Uit hierdie vrees weet gelowiges dat God voortdurend teenwoordig is. Hulle weet dat hulle in alles van Hom afhanklik is. Hulle weet dat God hulle in alles rig en bystaan en dat geen versoeking te groot is om te oorkom nie. Ook weet hulle dat hulle in alles aan God verantwoordelik is. Die vrees van God bring ook die volharding van die geloof (Job 2:3).

Kortliks: die hele persoonlike lewe van 'n gelowige word gekenmerk en opgesom deur hierdie vrees van God (Job 1:8; Ex 15:11; Deut 28:58).

Maar die kinders van die Here se vrees vir Hom, sal hulle nie net bring tot die kennis, die geloof, die goddelike handeling en die volharding teen die aanslae van die eie sondes nie, maar dit sal hulle ook bring tot vreesloosheid jeens sy vyande. Gelowiges is nie net geroepe om goed te doen nie, maar om goed te doen ten spyte van die wêreld, teenoor die wêreld en in die gesig van die wêreld. Die vrees van God maak hulle vreesloos vir die wêreld.