Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Binding of ...Ontbinding

SKRIFOORDENKING:
Reformasie:  Die oproep uit die Skrif, ook vir vandag

Die rol van die man in die Kerk

Die Verbondsteologie

Jy moet jou naaste liefhę soos jouself

Omstrede reeks Harry Potter boeke

Die Boeddhisme en sy leiers

Bybel en Koran vs Bybel óf Koran

Die Intergeloofsaanslag

Die omkering van die Staatsbestel

KERKLIKE JOERNAAL: 
Bhoeddhismesentrum in ooste van Pretoria geopen

"Die gesag van die Bybel aan flarde"

Die nuwe liedboek vir die Afrikaanse Kerke

Die heiligheid van die Nagmaal aangetas

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Akademie vir CVHO Verantwoording van toekenning van besondere professorraat

'n Vennootskap om "Holistiese" eenheid te bevorder

Vakonderrig in 'n Bybelse perspektief

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhouding tussen die Kerk en Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
Die Psalmberyming


Verandering ter wille van verandering

Jesus se opstanding vra geloof

Kritiek op vrysinnige teologie

KOMMENTAAR: 
Aangaande kritiek van Radio Pretoria op Staatslotery

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Etiek begin by die vrees van God

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 2 Maart 2001

SKRIFOORDENKING

REFORMASIE: DIE OPROEP UIT DIE SKRIF, OOK VIR VANDAG

DS HJP DE BEER   -   PRETORIA / MEINTJESKOP  -

Skriflesing:  2 Timotheus 3 : 1 - 4 : 5

Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot salihgheid deur die geloof in Christus Jesus. (2 Tim 3 : 14, 15)

Paulus begin hierdie hoofstuk met die woorde: "Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom." 

Gewoonlik word die woorde "laaste dae" verstaan as die dae net voor die wederkoms van Jesus Christus. In sekere gevalle is dit die betekenis van hierdie woorde, maar hier in vers 1 van 2 Timotheus 3 beteken hierdie woorde meer. Paulus verwys hier na die "laaste dae" as die tydperk vanaf Christus se opstanding uit die dood tot en met sy wederkoms. Timotheus leef dus reeds in die "laaste dae" wat dan as "swaar tye" beskryf word.

 

Paulus noem twee redes waarom die tydperk tussen Christus se opstanding en sy wederkoms as swaar tye beskryf word. Die eerste is omdat in hierdie tydperk die mense liefhebbers van hulleself sal wees (vers 2) en tweedens omdat daar diegene sal wees wat die gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën (vers 5). Oor elkeen hiervan ‘n paar woorde.

Die mense sal liefhebbers van hulleself wees – hier word duidelik ‘n lewensingesteldheid onder woorde gebring wat eienskappe vertoon van die sogenaamde "humanisme". Laasgenoemde is ‘n węreldbeskouing wat die menslike waardigheid en vryheid vooropstel terwyl godsdiens van weinig belang geag word. Alles is dus gangbaar, net so lank dit nie die menslike waardigheid of vryheid sal aantas nie. En dit geld vir die tyd van Timotheus sowel as ook vir vandag. Die uitvloeisels hiervan in die huidige tydsgewrig is legio: die verslapping van sensuur, die ontheiliging van die Sabbat, die wettiging en aanvaarding van dobbelary, Sondaghandel, aborsie op aanvraag, verwerping van die doodstraf ensovoorts. Alles is geoorloof solank dit nie die vryheid van die mens aan bande lę nie.

Die tweede rede vir die swaar tye, soos deur Paulus geopenbaar, is dat mense die gedaante van godsaligheid sal hę, maar die krag daarvan verloën het. Daar is hulle wat in die naam van die kerk of die godsdiens kom om hulle as eerbaar aan te bied, terwyl hulle die waarheid wat in die Woord openbaar word nie onder-skryf nie. Dit is die mense wat in die tyd van Timotheus die huise van vroue in-gesluip het, die as sodanig getipeerde dwaalleraars.

Hiermee word die kerk vandag nog steeds gekonfronteer. Diesulkes wat die gedaante van godsaligheid het, maar wat die gesag van God se Woord nie aanvaar nie. Daarom onder andere die verkondiging van "kerklikes" dat daar geen duiwel is nie, dat homoseksualisme vir God aanvaarbaar sou wees, dat seksuele verkeer vóór die huwelik aanbeveel kan word. Nader aan die lyf staan die diskussies oor die sakrament van die nagmaal, die vrou in die amp en die gesag van die Skrif. Dikwels word dan gehoor: "as ons dit nie toelaat nie, gaan ons baie lidmate verloor". Getalle en lidmate se smaak en voorkeure word deur sommiges tot maatstaf van hoe die kerk vandag daar moet uitsien, verhef.

Die gevolg is dat baie kerke hulle teoreties buite kerkverband stel deur ander maatstawe aan te lę as wat binne die kerke onderling ooreengekom is wanneer dit oor die ware kerk gaan (NGB art. 29). Daarom die vryhede ten aansien van liturgiese vernuwing, leerprediking, die vrye liedere in die erediens, ensovoorts.

Binne hierdie laaste dae, hierdie tydperk tussen opstanding en wederkoms, wat as swaar tye beskryf word, roep Paulus Timotheus op met die volgende woorde: "Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus." Timotheus was opgevoed in die Christelike leer. Sy ma en ouma het hom daarin onderlę (2 Tim. 1: 5), maar hy het ook Paulus as voorbeeld gehad. Verder was die heilige Skrif vir hom bekend en het hy gevolglik die regte weg geken. Nou volg die oproep van Paulus dat hy, Timotheus, daarin moet bly. Hy moet nie toegee aan die verwęreldliking wat plaasvind nie.

Die oproep hier is tot reformasie. Terug na wat jy geleer het, terug na die Skrif. Hier is nie sprake van maak maar vrede met dit wat gebeur in kerk en węreld nie. Die opdrag is gaan terug na die waarheid en soos vers 16 dit duidelik maak, gebruik die waarheid tot lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing.

Die kerk van vandag word ook opgeroep vanuit die Skrif tot reformasie. Die kerk kan nie maar kritiekloos aanvaar dit wat rondom hom gebeur nie. Die lig van God se Woord moet oor alles skyn – met die kerk en samelewing moet na die Bybel teruggekeer word. Daarom geen ‘humanitęre begrip" vir die wat nie in God glo nie, geen verdraagsaamheid teenoor hulle wat hulle nie onvoorwaardelik by die gesag van God se Woord neerlę nie.

Die oproep is: Terug na die fondamente van die kerk van die reformasie. Meer nog, die oproep is terug na die fondament self, Christus Jesus die Here. Hy het immers sy lewe afgelę sodat elke Christengelowige, elke kind van Hom, in Hom die saligheid kan ontvang maar ook vir elke goeie werk volkome toegerus mag wees(vers 17).

Daarom mag die kerk en so ook die gelowige nie altyd op die voorpunt van verandering wees nie, nie die oue sommer oorboord gooi nie – die oproep is juis, bly in dit wat jy geleer het, want jy weet van wie jy dit geleer het en dat dit gegrond is op die die heilige Skrif. Die oproep is nie om te verander ter wille van verandering nie, maar tot reformasie. Dus ook in die kerk en samelewing. As daar verandering nodig is, dan verandering juis terug na die Skrif toe, ook vir vandag!