Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
PERSRUBRIEKDIE PSALMBERYMING
Sonder om in te stem met prof CJA Vos, dekaan van die Fakulteit Teologie, UP, se entoesiasme oor die psalmomdigting van die digter TT Cloete, is sy artikel oor die Psalms in die algemeen aanvaarbaar en verskaf dit inligting wat ons graag op hierdie plek aan ons lesers bekendstel. Dit is gepubliseer in KONTEKS, Januarie/Februarie 2001. Ons haal selektief soos volg daaruit aan:Die Totiusberyming, met die byvoeging van enkele ander berymings, is in 1936 in gebruik geneem. Dit steun in hoofsaak op die 1773 Nederlandse beryming. Vir meer as 'n halwe eeu is kinders met hierdie psalmberyming gevoed. Ons kon in Afrikaans verskillende handelinge in die erediens uitvoer. Daar is talle woorde en sinne wat ek in die Totiusberyming nie goed begryp het nie, maar ek kon ten minste uit volle bors sing. ...
Die Psalms neem 'n eie plek in die Reformatoriese tradisie in. Kerke in dié tradisie in Suid-Afrika sluit by die psalmbundel as geheel aan. Voorbeelde van hierdie benadering vind in talryke liedboeke neerslag. Die Liedboek voor de Kerken in Nederland wat deur die Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken Nederland (GKN) en de Nederlands Gereformeerde Kerken (NGK) gebruik word. Die Gereformeerde Kerken (Vrijgemaakt) het 'n eie liedboek waarin die volledige Psalter voorkom. Verder kom al die psalms ook by die Christelik Gereformeerde Kerk voor. In België gebruik die Nederlandstalige Gereformeerde Kerken die Liedboek voor de Kerken.
Al die psalms kom voor in die Psalter Hymnal van die Christian Reformed Church in North America.
Ook die Reformed Churches of Canada en die Free Reformed Churches of Canada het al die psalms in hulle onderskeie liedbundels. Daar is verder Presbiteriaanse Kerke in Amerika wat al die psalms in hulle hymnals het. Die Liedboek van die Christian Reformed Church in Australië maak ook van al die psalms gebruik. Onlangs het daar 'n nuwe uitgawe van die volledige Psalter in Duits verskyn vir gebruik in die Gereformeerde Kerke in Duitsland, Oostenryk en elders in Europa. Al die psalms word ook in die liedboek van Die Gereformeerde Kerk in Hongarye gevind.
Die Psalms is 'n Joodse en Christelike testament. Psalms is liedere wat in die Joodse en Christelike tradisie; in die Oosters-Ortodokse en Westerse kerke; in die Rooms- Katolieke tradisie en vele Reformatoriese strominge 'n sleutelplek gekry het. Die sing van die psalms in die erediens herinner ons ook steeds aan die sapryke wortels van Israel, die Jodedom, die tempel en die sinagoge. Die psalms was die gebede en liedboek van Israel en die Jodedom en ook Jesus (vgl Psalm 22) en sy volgelinge. Die Christelike kerk het die psalmboek oorgeneem. In die ryk tradisie van die Christendom leef ons daarom ook uit die psalms. Ons psalmerfenis verbind tradisies en geloofsgemeenskappe, verskillende wêrelde en tye.
In ons dag behoort die rykdom wat die psalm as liedboek bied, weer ontdek en ontgin te word. Die vanselfsprekende rede hiervoor is dat al die geloofstemas in die psalms voor-kom. Die diepste menslike emosies weerklink in die psalms: vreugde en dank, maar ook pyn en vrees in krisissituasies. Sommige psalms druk jubelende lofprysing aan die Here uit, terwyl ander teen Hom kla.
In party psalms word oor die skoonheid van die lewe en goeie verhoudings tussen mense gesing; ander psalms praat van die gebroke verhoudings tussen mense - selfs van wraak teen vyande; daar is psalms wat tot God bid, maar ook psalms wat die goddelose vervloek. In die psalms word daar met die onopgeloste raaisels van die lewe geworstel, soos die vraag waarom die regverdige onder laste moet swig terwyl die goddelose ligvoet en voorspoedig deur die lewe gaan. Die psalms is 'n boek wat die verhaal van God en mens se omgang met mekaar vertel. Die psalms is bo alles geloofsgesange oor sonde en genade.