Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
Persrubriek KRITIEK OP VRYSINNIGE TEOLOGIE Oorgeneem uit DIE BOODSKAPPER, Januarie / Februarie 2001Uit die Afrikaanse koerante verneem ons feitlik slegs die uitsprake van vrysinnige teoloë. In die laaste tyd was dit veral die gesag van die Bybel, die middelaarskap van Christus en voorhuwelikse seksuele moraal wat deur sommige teoloë voorgestaan en deur die dagbladpers gedra is.
Daar verskyn egter ook artikels en ander bydraes wat die suiwer standpunt ondubbelsinnig stel. Hierdie bydraes spring nie so in die openbare oog nie omdat dit nie soveel publisiteit in die openbare pers geniet soos dié van die liberales nie. Twee voorbeelde die afgelope tyd is 'n ''Hervormingsdaggetuienis'' deur die dosente van die Gereformeerde Kerke se Teologiese Skool op Potchefstroom wat, wat die hoofmomente betref, direk teenoor die uitsprake van die liberales stelling inneem, en 'n hele aantal artikels in DIE KERKPAD wat die afvallige rigtings onbeskroomd aanvat.