Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 2 Maart 2001
REDAKSIONEEL MEEGEVOEL Op Woensdag 17 Januarie 2001 is sr JANTINA VAN DER KOOI gebore SALOMONS oorlede na 'n siekbed van dertien maande. Sy was die eggenote van die Redakteur van ons blad.Die Redaksiekommissie, en sekerlik elke intekenaar/leser van DIE KERKPAD wil langs hierdie weg opregte meegevoel met broeder Piet en sy familie betoon. Ons is veral dankbaar dat ons blad onder hierdie omstandighede steeds op datum en met sy normale impak verskyn het.
Met dankbaarheid word erkenning verleen aan die liefdevolle positief-kritiese insette en teksverbeterings wat mev Van der Kooi vanaf die eerste verskyning van ons blad en ook daarna, tot aan die voorbereiding van die November 2000 uitgawe, sterk meelewend, daaraan verleen het.
Mev Van der Kooi het haar lyding met geloofsgeduld gedra. Teenoor ons wat haar soms besoek het, het sy meermale getuig dat sy in Christus die dood nie vrees nie maar tog opsien teen die aardse lyding wat vir haar voorgelê het. Van hierdie lyding is sy nou verlos. Maar haar heengaan laat in haar huis en familiekring asook in die kring van ge-loofsgenote 'n groot leemte.
Die Verbondstroos wat haar deel was, is ook ons troos. Dit is duidelik en kragtig uitgespreek in die troosrede deur ds Hennie Momberg van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Die Kandelaar . Hy het dit ingeklee in die oordenkingstema: ''Op die ewige weg met God'' (Ps 139:23,24).
Namens die Redaksiekommissie:
JP Coetzee