Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
Aktueel
GEREFORMEERDE KERK WATERBERGGAAN OOR TOT 'N STAAT VAN DOLEANSIE
Die Gereformeerde Kerk Waterberg het met die oorweldige instemming van die gemeente besluit dat hulle die besluite oor die 2002 Psalmomdigtings asook die besluit oor die Vrou in die amp verwerp en tans in n staat van doleansie is totdat die besluite herroep is en die gemeenakkoord tussen kerke herstel is.Die Kerkraad verantwoord hom soos volg:
Die verwerping van sinodebesluite deur die Kerkraad moet beskou word in die lig van die formulier vir die bevestiging van ampsdraers en van die Belydenisskrifte waarin elke gelowige tot verwerping van die leuen opgeroep word.
Die erns van die saak kan nie gering geskat word nie, veral nie binne die onordelikheid wat tans heers rakende die gemeen- akkoord binne die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie. Reeds voor hierdie Sinode het verskeie gemeentes al vrouens as diakens bevestig en is daar al liedere in eredienste gesing wat nog nooit volgens art 69 K.O. goedgekeur is nie. Vrye liturgie en die losse gebruik van kelkies deur verskeie gemeentes maak die saak van gemeen-akkoord tussen kerke volgens art 31 K.O. slegs dooie letters op papier.
Die Kerkraad het daarom besluit om handelend op te tree deur eerstens die gemeente volledig in te lig en daarna die besluit in die volle kerkverband bekend te maak. Ten einde dit te waardeer moet die saak in perspektief van ons kerkregering beoordeel word.
1. Enkele grondbeginsels van die Gereformeerde Kerkregering soos aangehaal uit die Kerkordeboekie 1998.
1.1 Die eintlike en allesoorheersende beginsel in die gereformeerde kerkregering is die Koninkryk van God. Hiermee bely ons dat Christus die enigste Hoof van die Kerk is, en dat Hy deur sy Woord en Gees sy kerk regeer. In die gereformeerde kerkregering setel die gesag in die Woord van God. (p.9)
1.2 Die Woord van God openbaar (verder) aan ons hoe Christus sy gesag en sy regering in die kerke wil laat bedien. Daarvoor gee Hy gawes en dienste en roep Hy mense in sekere dienste (of ampte) van lering, regering en versorging (p.9)
In wese druk dit die merktekens van die ware kerk uit naamlik die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwere bediening van die sakramente en die handhawing van kerklike tug (N.G.B. art 29)
1.3 In die Gereformeerde Kerkregering word uitgegaan van die Skriftuurlike feit dat elke plaaslike kerk n komplete kerk is (p.10)
1.4 n Fundamentele vertrekpunt is dat geen plaaslike kerk oor n ander kerk enige heerskappy mag voer nie
1.5 Die Skrif leer ons dat die verskillende plaaslike kerke mekaar in die regering van die kerk van Jesus Christus moet bystaan en help; saam oor moeilike sake sal oordeel en mekaar tot diens behoort te wees. (p.10)
2. Die laaste drie punte beklemtoon enersyds die selfstandigheid van elke plaaslike kerk, maar ook die onderlinge diensbetoning in die kerkverband. Dit word uitgedruk met die term gemeen-akkoord waarvolgens die onderlinge diensbetoning deur onder andere meerdere vergaderings gereël word. Daarby word die selfstandigheid van elke plaaslike kerk gerespekteer omdat Jesus Christus die Hoof van elke plaaslike kerk is.
3. In die lig van pt. 1.5, hierbo, is sinodebesluite kragtens die gemeen-akkoord bindend op elke plaaslike kerk, maar vanweë die selfstandigheid van elke plaaslike kerk is hy self verantwoording verskuldig alleen aan die Hoof van die Kerk naamlik Jesus Christus. n Sinodebesluit staan dus nooit bokant die Skrif nie. Sinodes kan dwaal al is daar vooraf gebid. Daarom moet besluite getoets word aan die gesag van die Skrif en kan dit nie sondermeer aanvaar word nie. Andersins kan sinodes na vooraf bid by elke besluit net sowel die lot werp.
4. In die geheel beskou is daar etlike sinodebesluite wat goed en diensbaar aan die kerke is. Daaroor is daar geen probleem nie. Wanneer besluite egter geneem word waardeur die suiwer leer en die gesag van die Woord van God aangetas word, word dit onhoudbaar en mag dit nie uitgevoer word nie.
5. Die suiwer leer is deur die 2001 Psalmomdigting in die gedrang gebring (Sien meegaande artikel "Kommentaar op Sinode" 2001 (TT Cloete-) omdigting).
6. Die gesag van die Woord van God is aangetas en vervang met n leerstuk wat ten opsigte van die ampte geheel ontoepaslik is. (Sien meegaande artikel "Kommentaar op Sinode" Die vrou in die kerk)
7. Die kerkraad het dus geen ander uitweg as om die genoemde besluite te verwerp nie.
8. Die weg wat voorts gevolg sal word is om beswaarskrifte teen die besluite in te dien wat eers oor drie jaar by die volgende sinode behandel sal word. Gedurende hierdie periode word ons dan gedwing om onafhanklik independentisties in die kerkverband te leef. In wese dra so n optrede die kiem van kerkskeuring. Dit mag nie en is in stryd met ons Belydenis art. 28 NGB. Ons is egter daartoe gebind om volgens art. 32 N.B, "alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien" te verwerp.
9. In hierdie omstandighede het die kerkraad besluit dat ons oorgaan tot n staat van doleansie en dat ons voortaan amptelik bekend sal staan as Die Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) totdat bogenoemde besluite herroep is en die gemeen-akkoord tussen kerke herstel is. Die woord "dolerend" wat letterlik "treurend" en "beswaardheid" uitdruk is uit die Nederlandse kerkgeskiedenis ontleen waar n soortgelyke toestand in die kerke tot die Doleansie van 1886 gelei het.
10. Dit is nou, soos destyds in Nederland, n opregte poging om kerkskeuring te verhoed en dat terselfdertyd daadkragtig reformerend opgetree moet word.
10.1 Ons het beswaar teen die sosiologiese eksegese waarmee leersuiwerheid en die Skrifgesag deur besluite aangetas is. Daaroor sal die kerkraad die kerklike weg van beswaarskrifte (doleerskrifte) voluit loop.
10.2 Ons treur oor die meegaande verskeuring van die onderlinge liefdesband (die gemeen-akkoord) tussen die kerke en sal daadwerklik poog om dit volgens Skrif, Belydenis en kerkorde te herstel
11. Die besluit en standpunt van die Kerkraad van Waterberg, met instemming van die gemeente sal so gou doenlik aan al die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en ander belanghebbendes bekend gemaak word.
12. Ons sal graag met alle kerke wat met ons saam voel, die gemeen-akkoord in kerkverband weer wil herstel.
13. In die praktyd sal geen dwang op gemeentelede opgelê word nie. Die enkele lidmate wat moontlik nie met die besluit kan konformeer nie, sal steeds met liefde deur die besondere ampte soos vroeër bedien word.
In alles wil ons ordelik en eerbaar optree omdat dit juis gaan om die eer van die H
ERE. Hierdie saak is in biddende opsien na Hom begin met die geloofsverwagting dat Hy dit sal voleindig. (Ps 138:8) (Ps 138:8)