Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
DIE GAT VAN PASE
- EM PROF LF SCHULZE - TEOLOGIESE SKOOL POTCHEFSTROOM -
In die jare 1960-70 was daar 'n skerpsinnige joernalis verbonde aan Die Burger, genaamd A Kapteijn. Hy het op 'n keer 'n opsienbare artikel gepubliseer, waarin hy met fanfare aangekondig het dat ons nou vir die eerste keer in die geskiedenis onomstootlik weet dat dat daar omstreeks 2000 jaar gelede 'n Romeinse goewerneur met die naam van Pontius Pilatus geleef het, want pas voor sy artikel geskryf is, is daar in Caesarea 'n klip onder die sand uitgegrawe waarop Pilatus se naam uitgebeitel is!Sy fyn spot wys op die tragedie van miskenning van die Bybel deur die moderne 'wetenskap' , insluitend die histories-kritiese teologie, waarvolgens die grootste deel van die Nuwe Testament (om ons daartoe te beperk) onseker is. Bultmann wou die Nuwe Testament ontmitologiseer, met ander woorde, die eintlike kern van die evangelie uit die dop van sy destydse (kulturele) 'verpakking' uitpel. Sy leerling, Käsemann, sê dat alles in die Nuwe Testament onseker is, behalwe dit wat ons empiries uit die geskiedenis as Joodse gebruike of vroeg-Christelike oortuigings en gebruike kan vasstel. Käsemann stel dit so:
" 'n Enigsins vaster bodem het ons net in enkele geval onder die voete, naamlik wanneer 'tradisie' uit een of ander grond uit die Jodendom afgelei of aan die oerchristendom toegeskryf kan word". Tussen die Joodse gebruike en tradisies en die oerchristendom lê die kruisdood van Jesus van Galilea - die "gat van Pase", wat Joodse tradisie en Chris-telike opvatting onherroeplik skei. Die arme dissipels en die vroue wat Hom gevolg het, was so beïndruk met sy woorde en so geskok deur sy dood, dat hulle Hom veridealiseer het. Hy was die sagsinnige mensevriend, die 'liewe Jesus' van die piëtisme; die rewolusionêr wat vir die armes opkom; die Profeet wat leer; die Koning van 'n hemelse koninkryk - al hierdie uiteenlopende 'prentjies' van Jesus vind ons in die Nuwe Testament, sê John Hick (The myth of God incarnate, 1977:167-168). Die Nuwe Testament bied ons dus nie openbaring nie maar gemeenteteologie, psigologiese rekonstruksies van die man van Nasaret, wat in hul harte voortgeleef en dus 'opgestaan' het. Tot hierdie tradisie van die oerchristendom behoort ook hulle skewe manier om die Ou Testament aan te haal.
Met honorering van die "gat van Pase" lig Die Bybel in Praktyk (bl 854) ons in oor die die geheim van die soge-naamde Messiaanse Psalms:
Party geleerdes in sowel die Joodse as die Christelike geloof aanvaar dat 'n hele aantal psalms na die beloofde Messias verwys, en nie slegs betrekking het op die gebeure van die tyd waarin hulle geskryf is nie ... . Dit is vir die Christen opvallend hoeveel dele van die psalms ooreenkomste met die lewe en dood van Jesus toon. Hy het self ook dikwels uit die psalms aangehaal ... . Ons kan egter nie uit die Psalms direkte voorspellings oor Christus aflees nie. Ons moet die Psalmbundel as 'n voor-Christelike boek lees.
Hier volg 'n lys van die belangrikste vermeende verwysings na Christus in die Psalmboek. Onthou, dit was 'n interpretasie van die eerste Christene ná die dood van Christus.
Duskant die "gat" (van agteraf bekyk) moet ons die "Psalmbundel as 'n voor-Christelike boek" lees, omdat dit in wese niks anders as 'n Joodse boek is nie. Anderkant lê " 'n interpretasie van die eerste Christene ná die dood van Christus" (my aksent - LS). Tussenin lê die gat van Pase - die dood van Jesus - niks meer nie. Later is daar iets meer. Die "interpretasie van die eerste Christene" -
NIE die opstanding nie, maar net die "interpretasie van die eerste Christene".Die "gat van Pase" met sy duskant en anderkant verklaar waarom die vertalers van hierdie Bybel die gaping tussen die Ou en Nuwe Testament in die lesers se skoot kan gooi sonder om 'n oog te knip of sonder dat die gewete wroeg. Voorbeeld:
Psalm 110:1:
"Die Here het vir my heer die koning gesê ..."
Matteüs 22:44:
"Die Here het vir my Here gesê ..."
Wat die vertalers nie aan ons vertel nie, is of Jesus Homself met hierdie aweregse aanhaling vergis het. Die ander moontlikheid (die mees waarskynlike) is dat die oerchristendom hierdie woorde ten onregte in Jesus se skoene geskuif het. Oor hierdie probleem gee die vertalers egter geen uitsluitsel nie.
Uitganspunt by hierdie Skrifverklaring is rasionalisme, wat leer dat die "sien in die toekoms" (profesie, ensovoorts) nie redelik verklaar kan word nie en gevolglik nie kan bestaan nie. Daarom word die psalms as 'n Ou Testamentiese bundel gelees, waarvan die horison nie verder as die digter se eie tyd kon strek nie - psalms 2, 45, 47, 110 sien op "my heer die koning" van destyds, al staan "koning" nie eers in die Hebreeuse teks nie. Die woord moet met geweld ingevoeg word ten einde enige suggestie van 'n verwysing na die toekoms af te sny.
Hermeneutiek
Die teorie van Skrifverklaring; anders gesê: die opspoor van die regte metode(s) om die Skrif korrek te verklaar. Maar metode word deur uitgangspunt en doel bepaal (kyk vorige opmerkings). Ten slotte 'n vraag 'n (geloofs) uitgangs-punt: Wat is die Bybel?
Gereformeerde oortuiging: Op grond van sy selfgetuienis (bevestig deur die Geestesgetuienis in ons harte) is die Skrif 'n eenheid, bewerk deur die ingewing van die Gees, geskryf deur mense van verskillende tye, kulture en plekke oor 1200 jaar waarin die werk van God aan die lig kom en wat ons kan wys maak tot saligheid. Om die Skrif te verstaan moet rekening gehou word met sy aard, eenheid, ontstaanstye, genres (byvoorbeeld 'n gelykenis is nie 'n allegorie nie), ontstaansplekke, intensie (tot ons lering - 2 Kor 3:16); elke teks moet in sy grammatikale en historiese konteks verklaar word.
Kritiese opvatting: Inspirasie word of heeltemal misken (radikale Skrifkritiek) of afgewater tot 'n aanvanklike impuls wat die skrywers aan die skryf gesit het oor hulle eie ervarings, geloof en opvattings van God. Dus is die Bybel wesenlik niks anders as menslike boeke nie (kyk Voltaire), wat elk ten volle uit sy ontstaanstyd verklaar word, geen eenheid vorm nie en verkeerdelik beskou word "as something which has a message and that the message simply has to be discovered" (WS Vorster, in: Paradigms and progress in theology, RGN, 1988:38).
Relativistiese beskouing: Deur Jordaan naas die Skrifkritiese genoem. Dit is minder aggressief as die historiese kritiek. Maar dit ontken egter dat die Skrif de jure gesag het, en aanvaar net 'n funksionele of pragmatiese of de facto gesag, wat dan "bedoel dat Skrifuitsprake slegs gesagvol is in soverre as wat dit daadwerklik deur Christelike gemeenskappe as normatief gebruik word (Fiorenza, 1990:358). Die Skrif se gesag word dus gerelativeer in dié sin dat dit afhanklik gestel word van die mens se optrede" (Jordaan, Skrifbeskouing, 1991:9). 'n Variasie op die relativisme is die "relasionele waarheidsbegrip" wat Kuitert na aanleiding van die "verstaansprobleem" ("nuwe hermeneutiek") van die eksistensieteologie aanmekaar getimmer het. In terme hiervan het die Gereformeerde Kerken in Nederland (sinodaal) 1981, hulle uitspraak oor Skrifgesag geformuleer: God met ons. Over de aard der Skrifgezag. Objektiewe waarheid bestaan nie, want waarheid tree altyd binne 'n verhouding met die mens na vore - ook Bybelse waarheid. Eintlik kom hierdie beskouing nie net van die eksistensialiste af nie maar reeds van Kant. Volgens Immanuel Kant is waarheid alleen dan waarheid as dit vir my waar is.
Om die Skrif werklik na behore te verstaan, lê Calvyn die volgende hermeneutiese riglyne vir (verklaring) aan: Dit moet (1) helder en duidelik wees; (2) na die bedoeling van die skrywer soek; (3) rekening hou met die konteks waarin die teks staan; (4) die werklike betekenis van die teks uiteensit; (5) historiese, geografiese en kulturele omstandighede in ag neem; (6) versigtig vasstel of daar veder gegaan mag word as die direkte, letterlike woord; (7) met Bybelse stylfigure en beeldspraak rekening hou; (8) let op die scopus Christi - dus aantoon hoe die teks op Christus betrekking het; en (9) diensbaar aan die algemene belang van die kerk wees.