Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Kerk en demokrasie: Sinodekrasie!

AKTUEEL: Gereformeerde Kerk Waterberg gaan oor tot 'n staat van doleansie       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die gat van Pase

Die Kategismuspreek

GKSA Sinode Januarie 2003 Verslag met kommentaar

"Ons weet nie" Opmerkings oor huidige bybeluitleg

Professor Klaas Schilder  (1890 - 1952)

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Redakteur vir "Die Kerkblad"

Sinodale persverklaring oor omstrede belegging van    R680 000

Beker of kelkie by nagmaalvierings in die GKSA nou aan besluitneming van plaaslike kerke oorgelaat

Die nuwe psalmboek

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Ewolusieleer 'n verpligte vak in skole

Evolusie en die Bybel - Kan hulle versoen word?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Wanneer Kerke 'n gevaar word

Sononder of dagbreek?

PERSRUBRIEK: 
Sinode 2003 - 'n Nuwe koers vir die GKSA?

Danie Theron en Afrikanervryheid

10 Kerke doen studie oor doodstraf

Teologie : Westerse neerslag

Versterk ons eie politiek

Mededeling van die Gereformeerde Kerk Pretoria - Kandelaar aangaande jongste sinode-uitsprake

Sinode 2003 - 'n Nuwe koers vir die GKSA - Verhouding skrif en praktyk

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die Bybel leer ons wat goed is

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 2 Maart 2003

DIE KATEGISMUSPREEK

-  Ds HA Louw.  In: DIE KERKBLAD,   5 Augustus 1992, bl 17  -

'n Eeu-oue gebruik

Dit is vanaf die stigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika die gebruik dat in die tweede diens op Sondag die kategismus verklaar word, soos art 68 van die kerkorde ook bepaal. Dit is 'n gebruik wat sedert die sestiende eeu in die kerke van Calvinistiese oorsprong in swang is, veral in Nederland. Die Sinode van 's-Gravenhage het in in 1986 bepaal dat by die middagdiens die kategismus kortliks uitgelê word. Die Sinode van Dordrecht 1618-19 het ook oor die kategismusprediking gehandel en besluit dat die bepaling van die Sinode van 's-Gravenhage trou gehandhaaf moet word. Die bedoeling was dat die Heidelbergse Kategismus volgens die Sondagafdelings daarvan behandel moet word, omdat daarin die hoofinhoud van die Christelike leer vervat is.

Moet oor 'n teks gepreek word?

Hierdie gebruik bestaan vandag nog in die Gereformeerde Kerke, maar met 'n verskil. Die Sondagafdeling word gelees en dan oor 'n teks uit die Bybel gepreek. Die gevolg is dat nóg die kategismus nóg die teks behoorlik tot sy reg kom. Die preek val gewoonlik tussen die twee deur. Daar is soms 'n vraag en antwoord wat duidelik met een teks uit die Bybel in verband gebring kan word, soos vraag 46 en Handelinge 1:11, dog die hele Sondagafdeling kan nie daaruit verklaar word nie. Dit bly dus ook die uitsondering.

Die Sondagafdelings rus nie op een teks nie, maar op verskillende tekste en op die deurgaande leer van die Skrif. As die kategismus verklaar gaan word - al gaan die preek nie oor 'n bepaalde teks nie - is dit ook bediening van die Woord. Die Woord word nie bedien oor 'n bepaalde teks nie, maar oor 'n samevatting van verskillende tekste oor 'n bepaalde onderwerp. Johannes Jansen sê in sy Korte Verklaring van die Kerkorde: "Het is niet juist by de Catechismusprediking een tekst af te lezen ... Het vooropstellen van één tekst bij elke Zondag zou de indruk geven, dat de Catechismus niet die uitdrukking is van Gods Woord."

Die nut van die kategismusprediking

Dit word dikwels beweer dat die feit dat so min lidmate van die Gereformeerde Kerke by sektes aansluit, toegeskryf moet word aan die troue prediking van die kategismus. Daardeur word die lidmate gevoed met die vaste spyse van die Woord. Maar ook vir die predikant is dit van groot waarde. Hy word gedwing om sy kennis van die leer van die kerk op datum te hou. Deur die kategismus elke keer opnuut te verklaar, brei hy sy kennis daarvan uit. Hy word genoodsaak om die kosbare goud te oordink, daaroor na te lees en dit vir die gemeente te verklaar.

Dit is myns insiens 'n vername rede waarom enkele predikante die afgelope jare oor leergeskille hulle band met die Gereformeerde Kerke verbreek het: hulle het nie meer die hoofinhoud van die Christelike leer, soos veral vervat in die Heidelbergse Kategismus, geken nie. Daarom het hulle geen waardering en ook geen liefde meer daarvoor gehad nie en daarvan afgedwaal.

Die persoon/persone wat verantwoordelik is daarvoor dat die Sondagafdeling in die kategismuspreek op 'n teks moet rus, het 'n nuwe mode begin wat skadelik vir die kerk van die Here is. Ons pluk reeds die vrugte daarvan. In dié opsig moet ons weer na die ou paaie terugkeer - hoe gouer, hoe beter. Mag die verklarings van die manne soos A Kuyper, Van Andel, JJ Knap, H Veldkamp, JG Feenstra en andere weer 'n ereplek op ons predikante se boekrakke inneem. Vroeër dae het ons selde indien ooit lidmate aan die Pinksterkerke afgestaan. Die afgelope jare het etlike predikante al by hulle aangesluit.

Die dwalinge van ons tyd

Daar kan aangevoer word dat die Heidelbergse Kategismus te doen het met die dwalinge in die tyd van die Reformasie. Baie van die dwalinge van die sestiende eeu, hetsy Luthers, Rooms of Dopers, kom egter net so in ons tyd voor en die kategismus spreek hulle duidelik aan. Dit is waar dat die kategismus baie breedvoerig is oor die dwalinge in verband met die nagmaal, veral wat die Lutherse en die Roomse destyds (en vandag nog) daaroor geleer het. Die prediker wat redelik op hoogte is met die strominge van ons tyd, sal sorg dat die belydenis van die kerk - en dit is die kategismus - steeds die taal van die hede sal spreek. In E Voto bestry Kuyper byvoorbeeld dikwels die leerstellinge van Schleiermacher. Hy word vandag allerweë weer aangehang. Dit skyn of daar weer 'n terugkeer na Schleiermacher se beskouinge is. Dit sal dus loon om ook weer Kuyper se vierdelige verklaring van die kategismus te lees.

Ons kan nie daarvan wegkom dat die hele kategismus uiters aktueel vir ons tyd is nie, maar dan moet elke Sondagafdeling, soos dit die deurlopende leer van die Skrif gee, vir die gemeente verklaar en verduidelik word.