Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 2 Maart 2003
GKSA-SINODE JANUARIE 2003VERSLAG MET KOMMENTAAR VERSORG DEUR DS SAREL CILLIERS,WATERBERG
Van die 107 sake wat op die agenda gedien het, het baie sake glad en eenstemmig afgeloop. Daaroor is mens dankbaar en ons is oortuig dat die besluite tot eer van God en tot stigting van die kerke sal dienOor die volgende sake wat vir die openbare media bekend gemaak is en reeds reaksie in kerke verwek het, verdien bepaalde kommentaar.
Beskrywingspunt insake eredoktersgraad van die PU vir CHO aan biskop Tutu.
Die beskrywingspunt van die Partikuliere Sinode Bosveld waarin die PU vir CHO vermaan is oor die toekenning van n ere-doktorsgraad aan Biskop Tutu op grond van sy oortuigde en diep deurleefde Christelike lewensbeskouing en die praktiese en daadwerklike manier waarop hy sy Christenskap uitgeleef het, is afgewys. Die Sinode het die besluit geneem op grond van art 30 KO wat bepaal dat kerklike sake op kerklike wyse hanteer moet word. Hierdie beskrywingspunt was dus volgens die Sinode nie die regte wyse om die saak aan te spreek nie.
Toe die rektor van die universiteit die sinode later toegespreek het en hy onder andere hieroor vrae beantwoord het, het art 30 KO nie meer gegeld nie. Toe kon die saak wel op n kerklike vergadering bespreek en hanteer word. Dit geld ook by sekere aanbevelings van die Deputate Christelike Onderwys rakende die PU vir CHO wat deur die Sinode goedgekeur is.
Die Sinode se besluit aangaande die toekenning op grond van art 30 KO word verder bevraagteken toe besluit is dat die Regering wel deur die Sinode aangespreek kan word deur n openbare verklaring teen die Darwinistiese Evolusie wat in die openbare skole afgeforseer word.
Versorging van predikante.
Die grootste persentasie van die 107 sake op die sinodetafel het gehandel oor die emeritaats- en mediese versorging van die predikante. Nuwe gegewens is voorgelê waaruit die nood duidelik spreek by die versorging van predikante wat vanweë mediese redes uit die bediening moet gaan. Dit is inderdaad n saak waaraan kerkrade dringend aandag sal moet gee.
Belasting op kerkeiendom.
Verhuring van eiendom kan in terme van nuwe staatswetgewing groot belastinguitgawes meebring. Die Sinodale regsdeputate gee aandag aan die saak en kerke sal weldra hieroor inligting en adviese ontvang. Dit is egter belangrik dat kerkrade by voorbaat aandag hieraan sal gee.
Bewoording van die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis van Athanasius.
Dit blyk dat die sinsnede "en neergedaal het na die hel" (en die vergelykbare gedeelte in die Belydenis van Athanasius) vatbaar is vir verskillende vertolkings wat nie Skriftuurlik geldig is nie. Dit dui byvoorbeeld op n kronologie en n lokaliteit wat verwarrend kan wees, veral vir kinders. Die Sinode het geoordeel om die volgende sinsnede aan gemeentes en kerklike vergaderings nasionaal en internasionaal voor te lê met die oog op n finale besluit in 2006.
" en die angs van die hel tot in die dood toe ondergaan het;"
Belegging van R680 000 deur die Administratiewe Buro
Na n deeglike studie deur die regsdeputate en die finansiële kommissie van die ledevergadering wat verskeie deskundiges insluit is die volgende bevind:
* Die bestuur het goedkeuring gegee om n bedrag van R680 000 te belê. Die belegging is nie geplaas by n bank nie.
* Die Bestuur het met hulle besluit n oordeelsfout gemaak.
* Daar was nie besluit om die fondse in n piramideskema te belê nie.
Daar is bestuursmatig verkeerd opgetree om aan een bestuurslid die afhandeling van die transaksie toe te vertrou
* Die transaksie se afhandeling deur een bestuurslid het die probleem veroorsaak.
* Behalwe die optrede van die lid wat nog nie ten volle verreken kon word nie, kon geen rede gevind word om die integriteit van die bestuur en die personeel van die Buro te bevraagteken nie.
* Die beheer en kontroles van alle aangeleenthede onder die bestuur se mandaat het aan goeie bestuurspraktyke voldoen.
Die broeders wat betrokke is, is vermaan en hulle het hul fout bely.
Die volgende is ook gedoen:
* Die opdragte waarvolgens die bestuur werk is uitgebrei.
* Die bestuur is met addisionele lede en kundigheid versterk.
* Regs-aksies is ingestel om die geld terug te kry.
Die gebruik van kelkies tydens nagmaal en verandering van die formulier
Die bespreking het weinig nuut opgelewer. Wat wel duidelik is, is dat daar in die kerkverband diepgaande verskille is wat wortel in die wyse waarop daar eksegeties met die Skrif omgegaan word. Daar is besluit om steeds verdere studie te doen.
n Beswaarskrif wat geslaag het, het wel die saak ietwat verbeter deurdat n vorige sinode-besluit nou geen moontlikheid meer bied van n ander bedieningswyse as die van n gemeenskaplike drinkbeker(s) nie. Kerkrade wat vroeër die halmpie gegryp het om kelkies by die nagmaal te gebruik, gryp nou in die lug.
Dat die huidige formulier saam met al die ander formuliere weer hervertaal moet word sal ons krities afwag. Dat daar egter nog bykomende formuliere as alternatiewe formuliere opgestel kan word vir oorweging deur die volgende sinode wil mens binne die huige tydsgees met groter versigtigheid afwag.
Die 2001-(TT Cloete Omdigting
Die sinode besluit dat die 2001 omdigtings naas die "Totius" berymings vir gebruik in die eredienste aanbeveel word. Voorts word verdere Skrifberymings en n aantal liedere in die Liedboek goedgekeur en word besluit dat voortgegaan sal word met die verwerking van die Totiusberyming ten einde onbekende en outydse woorde te vervang / verdui-delik.
Die resultaat van die verwerking van die huidige Totius-beryming soos in die Psalmboek gedruk, kan wanneer dit beskikbaar gestel word, beoordeel word. Hierdie enkele taalkundige veranderings kan die Psalmsang in ons eredienste positief dien.
Die sinodebesluit met betrekking tot die 2003 omdigting moet op grond van die volgende verwerp word:
Daar is voor en tydens die sinode van verskillende kante aangetoon dat van die "omdigtings" nie werklik Skrifgetrou is nie. Dit geld veral die sogenaamde Messiaanse Psalms. Hierdie kritiek is nêrens duidelik en volledig aangespreek nie. Baie kritiese vrae rondom die omdigtings is nogsteeds onbeantwoord.
Daar is herhaaldelik gevra dat die nuwe bundel min-stens ooreenkomstig art. 69 K.O. en dus volgens duide-lik neergelegde maatstawwe, soos besluit deur Sinode 1994 getoets word voordat dit goedgekeur word (Handelinge, bl. 538, art.3.2 die eerste maatstaf lui: "Die beryming moet die sin en inhoud van die Skrifgedeelte suiwer en korrek in ooreenstemming met die kerklike belydenis weergee."). Die versoek is sonder behoorlike gronde afgewys. Hiermee het die Sinode vroeëre sinodebesluite op onordelike wyse geminag (vgl art. 31 K.O.)
Met beperkte ruimte word hier net enkele van die vele besware kortliks gemeld met enkele voorbeelde:
* Weglatings en verkeerde gebruik van God se Name (Ps. 5; 6; 8; 9; 11 en 16)
* Weglatings van die Here se wet. ( Ps 1; 19:8; 40:9; 78:10; 89:31; 94:12 e.a.)
* Weglatings van die Here se verbond (Ps 25: 10, 14; 55:21; 74:20; 78:10 e.a.)
* Weglatings van Christus (Ps 2:7; Ps 22:2, 8, 17b, 23, 24; 31:6; 110:1 e.a.)
* Algemene weglatings (In Ps 31 is 12 van die 25 verse gedeeltelik of heeltemal weggelaat. In Ps 37 is 20 van die 40 verse gedeeltelik of heeltemal weggelaat. In die algemeen is ongeveer 30% van die inhoud van Psalms weggelaat)
* Die erns van die weglatings blyk duidelik uit Openb. 22:19.
Die kommissie wat die deputaterapport beoordeel het en inderdaad bevind het dat die Messiaanse strekking van Psalms weggelaat of versluier is, het n aanpassing voorgelê naamlik dat die betrokke Psalms met verduidelikende voetnotas aangedui word. Maar hoe sing mens voetnotas?
Die digter, T.T. Cloete het by twee geleenthede self verklaar dat die sogenaamde Messiaanse strekking op grond van nuwe navorsing verwyder is. (Vgl. Rapport, 4 November 2001 en Die Kerkblad, 13 April 2002)
Wanneer Hy aan die apostels verskyn sê die Here Jesus self: "Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word."(Luk 24:44)
Daar is in die sinodebesluit gevolglik n ernstige afwyking van art. 29 N.G.B. die merktekens van die ware kerk naamlik in suiwerheid van leer, diens en tug.
Wanneer leersuiwerheid in die prediking vereis word spreek dit vanself dat wat gesing word ook Skrifgetrou moet wees. (Vgl. K. Schilder, Bij Dichters en Schriftgeleerden: verzamelde opstellen door K. Schilder. Uitgegeven te Amsterdam in het jaar MCMXXVII - p.347). n Mens sing tog nie n Psalm terwyl die bedoeling daarvan verswyg word en deur n voetnota verduidelik moet word nie.
In hierdie verband sal die sinodebesluit in die woorde van art.29 N.G.B getoets moet word: "Wat die valse kerk betref: dit skryf vir homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God."
Die argument dat plaaslike kerke tog self kan oordeel of hulle die omdigtings gaan sing of nie en dat die hewige kritiek net n stof opskop is, gaan nie op nie. Wat word van die eenheid in leer, dien en tug binne kerkverband. Hoe kan lidmate hulle gewetens stil wat rustig by gemeente A was wat nie die berymings gesing het nie, maar nou vanweë noodsaaklike verhuising by gemeente B moet inskakel waar besluit is om wel die omdigtings te sing. Hoewel kerke self kan besluit loop dit noodwendig daarop uit dat sekere lidmate in sekere gemeentes se gewetens gebind word. Gewetensbinding vind plaas wanneer die gesag van die Woord moet buig voor die meerderheid van stemme in n kerklike vergadering.
Die vrou in die kerk
Die Sinode 1988 het oor die vrou in die amp soos volg besluit: Uit die studierapport blyk dit duidelik dat vroulike lidmate nie in die besondere diens van Woordbedienaar en ouderling dien nie. Daar kan ook nie sonder teëspraak voldoende bewys word dat vroulike lidmate (getroud of ongetroud) in die diens van diaken dien nie. (Handelinge 1988, bl. 522, art. 37.3)
Op die Sinode 2000 is n beswaarskrif behandel teen o.a. bogenoemde besluit. Hierdie beswaarskrif het in sy geheel nie geslaag nie. Sodoende het die besluit van 1988 n groot toets geslaag. Op dieselfde sinode van 2000 is daar toe egter aan n beskrywingspunt gevolg gegee deur weer deputate te benoem om met inagneming van bestaande besluite studie te doen oor die wyse waarop die Here die vrou in die kerk gebruik het en steeds wil gebruik. (Handelinge 2000, bl. 440-441, art 21.8 E)
Art. 31 K.O. bepaal dat so n besluit soos die van Sinode 1988 slegs verander kan word indien dit in stryd is met die Skrif, die Belydenis en/of die kerkorde.
Bogenoemde opdrag aan studiedeputate is nie ordelik uitgevoer nie. Die opdrag is gedeeltelik uitgevoer en het wel afgesluit met die volgende goeie besluit van die Sinode: " Die GKSA onderneem om die waarde van die vrou soos deur die koms van Christus herstel, doelgerig in die kerkgemeenskap te erken en uit te leef . Kerke moet met oorgawe die rykheid van gawes wat vrouens ontvang het in die gemeentes benut .Die vrou moet so in die gemeente optree dat sy haar man se hoofskap eerbiedig"
Die deputate het voorts hulle opdrag willekeurig versmal tot die vrou in die amp en sodoende die saak onordelik op die tafel gebring .
Die Sinode 2003 besluit toe sonder inagneming van die besluit in 1988 en die weg wat art. 31 K.O. bepaal oor die verandering van besluite, op die volgende: "Die bestudering van spesifieke Skrifgedeeltes waar moontlik na die diens van vrou in n "amptelike" rol van diakens in gemeentes verwys word, kon geen algemeen aanvaarde gevolg-trekkings bied nie, maar dui tog in die rigting dat daar vroue in die diakendiens was (Rom 16:1,2; 1 Tim 3:11). Dit is egter duidelik dat vroue in die vroeg-Christelike kerk "diakonale dienswerk" in die versorging van medegelowiges verrig het (1Tim 3:11; 5:9-15)"
DESONDANKS BOGENOEMDE ONDUIDELIKHEDE besluit die Sinode: "Die Sinode keur in die lig van die Skrif goed dat vroue wat die nodige gawes het as diakens in die GKSA verkies en bevestig kan word."
Die Sinode voeg hierby die volgende motivering: "Die Sinode oordeel verder dat bepaalde tekste soos Rom 16:2; 1 Tim 3:11 en 5:9-15 baie lank reeds in die Gereformeerde Kerke in ekumeniese verband n belangrike ondersteu-nende rol vir vroue in n besondere amp speel, alhoewel daar enersyds nie duidelike sekerheid bestaan nie, maar andersyds ook geen verbod op vroue in die amp van diaken geplaas word nie."
Die volgende moet in die verband in aanmerking geneem word:
Met hierdie besluit oortree die Sinode n reël wat met Sinode 1988 neergelê is, naamlik: "Die Sinode kan nie n besluit neem waarvan die Skrifbegronding slegs as "moontlik" aangedui word nie" (Handelinge 1988, bl. 522, art. 3.7.1, besluit, pt.2, motivering).
Gedurende die bespreking is teenstrydige argumente geopper oor die uitleg van bogenoemde teksgedeeltes op n wyse wat 2 Petr 1:20 in die gedrang bring. Hier is duidelik afgewyk van die hermeneutiese beginsels van Sinode 1988 tydens sy besluit. Naas die erkende grammaties-historiese eksegese van Sinode 1988 was daar by Sinode 2003 ook die vreemde sosiologies-historiese eksegese merkbaar. By laasgenoemde word aan buite-Bybelse bronne die finale verklaringsgrond vir die Skrif toegeken word.
In die bespreking wat gelei het tot die besluit is daar algemeen aanvaar dat daar swak Skrifgetuienis is. In die verdere besprekings is deur verskeie sprekers sterk geleun op die dogmatiese uitspraak "Libertas profitandi" wat volgens die voorsteller daarvan n uitspraak van Calvyn is. Dit beteken dat sulke nie-duidelike sake aan die vryheid van plaaslike kerke oorgelaat word om dit toe te pas. Die gegewe kon nie vasgestel word nie en dus bestaan daar twyfel daaroor.
Calvyn gebruik wel die strekking van die gedagtegang dat waar die Woord nie n helder uitspraak gee oor middelmatige sake nie, die gelowige volgens vryheid van gewete kan handel. (Institusie van Calvyn. Vertaling van Simpson, 1988, boek 3, pp 1069-1072). Hierdie vryheid bespreek hy onder die opskrif "die struikelblokke" en maan hy na aanleiding van die apostel Paulus se uitspraak in 1 Kor 10:29 dat vryheid van optrede nie tot aanstoot van n medegelowige mag wees nie want my vryheid word geoordeel deur n ander se gewete. Dit bedoel dus dat ek die vryheid het om n ander se voordeel te soek. Hierdie vryheid is beperk tot middelmatige -"beuselagtige" sake soos die kleur of materiaal van klere. En hy waarsku verder dat dit nie daartoe moet lei dat gelowiges onder die dekmantel van naasteliefde God mishaag nie. " dit beteken dat ons God nie ter wille van ons naaste aanstoot moet gee nie". (Institusie van Calvyn, vaertaling Simpson 1988, boek 3, p. 1072)
Die diakenamp is in die bespreking tot middelmatige saak verklaar en is n twyfelagtige dogmatiese uitspraak verhef bo die Skrifgetuienis wat wel baie duidelike uitsprake gee ten opsigte van die man in die diakenamp. (Hand 6:1-7; 1 Tim 3:8-13). Dat die diakenamp n middelmatige saak is, is volkome in stryd met die gees en bedoeling van die Kerkorde soos dit besonderlik in art. 1 verwoord is. Verder is dit volkome in stryd met art. 30 N.G.B.
Die saak is nie hanter vanuit die hele Bybel nie; slegs enkele Skrifgedeeltes is benader vanuit die saak. Daarmee is die gesag van die Woord aangetas. Die feit dat die Skrif baie duidelik is oor die man in die amp asook die vrou se hoë en prysenswaardige roeping tot moederskap, soos spesifiek verwoord in die pastorale briewe, is nie verreken nie. (Hand 6:1-7; 1 Tim 3:8-13; 1 Tim 2:14; 1 Tim 5:9-10).
Voorts is die toelating van die vrou slegs tot die diakenamp in stryd met die Woord en Belydenis wat betref die gelykheid van die ampte. Die drie besondere ampte is gelyk in status maar onderskeibaar in gerigtheid. Die besluit bring nou noodwendig n onder-skeid in status mee. Dit verg dus nie groot wysheid om te besef dat dit die volgende invalspunt sal wees om die vrou tot die ander ampte toe te laat nie. So het dit immers ook in ander kerkverbande verloop.
In die lig van bogenoemde besluite en meegaande bespreking sal kerkrade hulle deeglik moet verantwoord of hulle enigsins met die besluite kan konformeer. Daarby sal kerke ook baie versigtig moet wees om nie op independentistiese wyse besluite sondermeer te verwerp nie. Hoewel die kerklike weg van beswaarskrifte die aangewese weg is wat gevolg sal moet word, sal kerke ook op ander wyses die gemeen-akkoord tussen kerke in ag moet neem.
Die weg van "DOLEANSIE" is hier n moontlike weg soos deur die Gereformeerde Kerk Waterberg reeds besluit. (Sien die meegaande "Aktueel" - artikel oor "die staat van doleansie".